Iewers tussen te bekende bakens lê die Christendom, te dikwels, oor rock-musiek. Aan die een kant is daar die nee-sêers, wat alle rock ‘n roll afmaak as van die bose. (Gedurende die Koue Oorlog-jare is rock ook by plaaslike kerkjeugpraatjies as Kommunisties-geïnspireerd en dus ateïsties verdag gemaak. Praat ‘n mens met tydgenote wat agter die Ystergordyn tieners was, vertel hulle jou nou hoe rock by jeugklubs daar as anti-Kommunisties-geïnspireerd verdag gemaak is…) Aan die ander kant neem baie musiek in die gospel-genre die rock-idioom oor op ‘n swakkerige manier. Iewers moes ‘n groep Suid-Afrikaanse predikante dwarsoor ekumeniese grense heen dieselfde kursus bygewoon het, of dieselfde boek gelees het: hóévele het by gemeentelike jeugbyeenkomste met die vreemde uitdrukking “middle-of-the-road music” vorendag gekom – ‘n uitdrukking wat ‘n mens net by sulke byeenkomste gehoor het, en altyd met ABBA as positiewe voorbeeld (- totdat ‘n meer ingeligte tiener dié gemak effe versteur het deur daarop te wys dat A, B, B en A ‘n keer andersom met mekaar getroud was, wat ABBA as kerklike jeugmodel so ‘n ietwat vertroebel het). Oor godsdiens in rock-musiek is egter omtrent net negatief gepraat: die vloeke; die simboliek (hoekom dan nou die verhoognaam “Madonna”?, en hoekom het rappers juis kruis-hangertjies en –tatoeëermerke?); die kamma-afkortings (árme AC/DC moes al vir baie booshede pa staan, tóé en nou met hulle hernieude gewildheid weer); die immer-herhalende gerugte oor duiwe wat op hard rock– en heavy metal-verhoë lewendig kopafgebyt is. Om maar ‘n paar voorbeelde te noem van hoe geloof en wêreld (so asof dit twee sulke heeltemal losstaande goed sou wees…) vanuit geloofshoek sukkel met vreedsame naasbestaan.

Dieselfde gesukkel vind ons al eeue lank vanuit buitekerklike hoek, met politieke – en samelewingsdenkers wat vanaf die 1700s ‘n skeiding van geloof en staat bepleit het. Daarmee saam was deels ‘n verwagting dat geloof mettertyd net as ‘n historiese aspek van menswees sou bestaan. Voortbestaan sou geloof nie. Jesus sou terugkeer na die graf.

Op allerlei maniere was beide dié kampe se aanvoeling verkeerd. Een voorbeeld daarvan is rock-musiek. Luister ‘n keer die mees invloedryke rock-trefferlys, die Amerikaanse Billboard Hot 100, deur met ore gespits vir godsdienstige temas, en twee dinge blyk duidelik: godsdiens is nie dood nie, en die Christendom is deel van die aktiewe wêreld-kultuur tans. Soos wat ek hier skryf, is “The week’s most popular current alternative” op die Billboard Hot 100 byvoorbeeld Hozier se “Take me to church”; nommer 1 op die “Rock Streaming Songs”, die ouer “Livin’ on a prayer” van Bon Jovi. Kerk en gebed in rock ‘n roll…

‘n Mens moet versigtig wees om Noord-Amerikaanse pop-kultuur as universeel-geldend te sien, maar die invloed daarvan moet ons ook nie misken nie. Nog minder kan die VSA-resepsie van die Christendom as model vir ander kulture dien. Daarmee saam is die manier waarop die godsdienstemas in hierdie gewilde musiek na vore kom, nou nie juis studiestukke van Calvyn se Institusie nie. Nogtans is die geloof-(beeld)spraak dáár. Soms tot op die punt dat dit, op die titel af, wil-wil drup van die pietisme:

Personal Jesus

Skrywer: Martin Gore; © EMI Music Publishing
Vrygestel deur diverse kunstenaars, waaronder:
Depeche Mode
Marilyn Manson
Johnny Cash

Die logika van die lirieke word gedra deur die musiek, eerder as deur strenge taalverloop (met die dwangrym van die teks wat verdwyn in die opvoering) of argumentsopbou; hierdie musiek moet eintlik gehoor eerder as gelees word (luister gerus een van die weergawes hierbo genoem terwyl jy die lirieke volg):

Your own personal Jesus
Someone to hear your prayers
Someone who cares
Your own personal Jesus
Someone to hear your prayers
Someone who’s there

Feeling unknown
And you’re all alone
Flesh and bone
By the telephone
Lift up the receiver
I’ll make you a believer

Take second best
Put me to the test
Things on your chest
You need to confess
I will deliver
You know i’m a forgiver

Reach out and touch faith
Reach out and touch faith

Your own personal Jesus…
Feeling unknown
And you’re all alone
Flesh and bone
By the telephone
Lift up the receiver
I’ll make you a believer

I will deliver
You know I’m a forgiver

Reach out and touch faith
Your own personal Jesus
Reach out and touch faith

Behalwe vir die gewildheid van dié rock-lied by kunstenaars (wat selfs in die Cash-weergawe nie heeltemal country- of folk-musiek kan word nie), word dit ook ‘n interessante nuwe wending gegee in die Californication televisie-reeks, in Episode 10 van Seisoen 6. In dié episode besoek die hoofkarakter, ‘n superryk skrywer met baie emosionele probleme genaamd Hank Moody, sy nuutste amper-liefde se ouers saam met haar. Hy en die blondine vind hulle weg na ‘n plaaslike, kleindorpse Katolieke kerk, waar hulle alleen daarbinne ‘n mistieke tipe ervaring het. Soos die karakters hulleself probeer “vind”, kom die Jesus-beeld voor in die kerk van die kruis af. Hy verander in ‘n rock-ster karakter in dié reeks. Gedurende ‘n mengsel van godsdienstige en erotiese ervaringe (tipies van heelwat middeleeuse mistieke tekste!) wat in die ontvouende storielyn uitgebeeld word, herhaal die eggo-kreet van die lied, “Reach out and touch faith!”, gereeld; opdringerig, steurend-luid. Die blonde amper-liefde van die hoofkarakter se naam is Faith; sonder die teks van die lied voor ons, word die klank daarvan “Reach out and touch Faith”. Dit word ‘n Godstem wat ‘n opdrag tot liefde uitsing; dalk soos ‘n manlike Lorelei, met elektriese kitaar en drom. Godsdiens en romantiese liefde vermeng; geloof en emosie smelt saam; rock-musiek en kerk herinterpreteer mekaar soos dit net in die erotiek kan, soos in ‘n Ingrid Jonkerige “Ek herhaal jou”…

Die verpersoonlikte, nuut-verheerlikte Jesus – Hy wat in ons plek wil staan.

Bibliografie

Beuken, W & Freyne, S (eds) 1995. The Bible as cultural heritage. London: SCM Press.

Habermas, J 2008. Secularism’s crisis of faith: notes on post-secular society. New Perspectives Quarterly 25, 17-29.

Niebuhr, R 1951. Christ and culture. New York: Harper & Row Publishers.

Odendaal, O 2005. teo.co.za.

Seale, R 1988. Rock musiek: die reg om te weet (2de uitgawe). Witbank: M.F.Y.

Taylor, C 2007. A secular age. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Share this / Deel hierdie: