Drama is ‘n oeroue kunsvorm. Dit het te doen met ‘kuns-in-beweging’ – anders gestel,  ‘n storie wat voor jou oë afspeel. ‘n Belangrike element van drama is twee-rigting kommunikasie: drama betrek die gehoor. Jy is nie veronderstel om passief agteroor te sit en ‘n waarnemer van die gebeure te wees nie – jy word meegesleur deur dit wat voor jou oë afspeel. Met ander woorde, drama is nie iets wat vir jou ontspanning bedoel is nie – drama is harde werk, vir die akteurs, maar ook vir die gehoor.        


Om hierdie antieke kunsvorm te laat herleef, is die nuutste projek van die British National Theatre. Phèdre is op die planke, oftewel – op die skerm gebring. Dis ‘n ou drama wat sy oorsprong in die Griekse mitologie het. Euripides (428 vC) skryf die eerste drama. Die basiese ‘plot’ is dié van ‘n ongeoorloofde liefde tussen ‘n stiefmoeder (Phèdre) en haar stiefseun (Hippolytus). Volgens Euripides het alles gebeur toe die jong Hippolytus ‘n eed van kuisheid gesweer het aan Artemis, godin van heuwels, maagdelikheid en jag. Aphrodite, godin van liefde en seksualiteit, kon dit nie aanvaar nie en daarom teiken sy vir Phèdre, Hippolytus se stiefmoeder om op hom verlief te raak. As die aap uit die mou gelaat word, is dit te veel vir Phèdre en sy pleeg selfmoord om haar eer te beskerm. Maar vir Theseus, koning van Athene, Phèdre se man en Hippolytus se pa, lyk dit soos verkragting, en hy verban sy seun uit sy koninkryk – net om onskuldig deur die magte van Poseidon verswelg te word!          


Racine, die 17e eeuse Franse dramaturg, ook bekend vir sy tragedies, verwerk hierdie tema. Maar hy gooi dit oor ‘n meer menslike boeg. Phèdre se gevoel vir haar stiefseun word nie opgewek deur ‘n godin nie, maar as gevolg van Theseus se lang afwesigheid en haar eie behoefte aan intimiteit. Aan liefde. En ‘n nuwe karakter word ingevoer – Aricia. Aricia se familie is deur Theseus uitgeroei en sy moes ‘n eed van kuisheid sweer. Intussen is Hippolytus en Aricia smoorverlief op mekaar … maar wat van arme Phèdre? Weereens ‘n liefdesdriehoek en resep vir tragedie.


Ted Hughes verwerk hierdie drama weereens vir die British National Theatre en vertaal dit in Engels. Helen Mirren en Dominic Cooper vertolk die leidende rolle. Hierdie drama is op die verhoog verfilm en het slegs vir twee aande in Pretoria, Brooklyn se Cinema Nouveau gedraai. Die rolprent-teater was gepak. En ek was verbaas. Want ons lewe in ‘n kultuur van oormatige visuele en akoestiese stimuli en sommige rolprente kan maar net nie genoeg hiervan inbou nie. Ph
èdre speel af op ‘n verhoog met die minimum dekor en geen verandering van scène nie. En tog sit ‘n mens vir twee ure vasgenael op jou stoel.


Vanuit London self was daar uiteenlopende standpunte. Enersyds is die taal as hoogdrawend en die gebare as oordrewe bestempel. Andersyds is ges
ê dat die uitmuntende vertolking van die akteurs en die ontwerp van die stel ‘n klassieke tragedie kragtig tot lewe gebring het. En hiermee stem ek saam. Mag toneelspel en goeie drama – soos deur al die eeue heen – voortleef!

Share this / Deel hierdie: