Dit is hy wat ons sal troos … (Gen 5:29).

In die tweede eeu het ’n man met die naam Montanus die kerk van hardheid en koudheid verwyt. Volgens hom moes almal weer in tale spreek, visioene sien en profeteer. Hy het oral rondgetrek, gepreek en ook volgelinge gehad. Aanvanklik was sy suksesse groot, maar na ’n ruk het Montanus net verdwyn. ’n Rede hiervoor was ’n gevoel van ontnugtering. Ontnugtering omdat ’n lewe van ekstase nooit moontlik was nie en die wêreldeinde ook nooit gekom het nie. Al wat uiteindelik oorgebly het, was die doodgewone lewe met al sy sleur en swaarkry.

Montanus se probleem was dat hy bo sy eindigheid wou uitstyg. Bo swaarkry, ellende, eensaamheid, hartseer en verlange. En hy het gehoop die pinksterervaring sou hom help. Niks het toe gebeur nie want menswees beteken brooswees en eindigheid.

Reeds in die Ou Testament se eerste verhale lê dié eindigheid en gebrokenheid diep ingeskryf. Ons moet die verhale ook só lees dat hierdie broosheid as ‘t ware duideliker sal ‘uitkom’: Adam se eensaamheid en God wat vir hom ‘n maat gemaak het (Gen 2); die gevoel-van-alles-verloor nadat die hand na die verbode vrug uitgesteek is; die smart by die dood van die eerste mens (Abel, Gen 4); die ervaring van Abraham dat hy vriend en familie vir nooit weer sien moes groet nie (Gen 12). Oral in die Ou Testament se verhale kry ons hierdie diep, maar tog versweë menslike ervaringe in al die verhale ‘toegedraai’.

Israel het daarom na troos gesmag. In Psalm 119:82 roep die skrywer ongeduldig, ‘Wanneer sal U my vertroos?’, en in Jesaja lees ons van die blydskap van God se troos: ‘Ek dank U … dat U … my vertroos (het)’ (Jes 12:1). Maar waarin het God se troos gelê? Eintlik onmoontlik om te sê, maar tog vertel vele ons daarvan. So vertel ’n psalmskrywer van die pyn en ellende in Jerusalem toe die Babiloniërs hulle verslaan het. Dit het hulle afgetakel. Hulle was moeg en om elke dag te kon oorleef het, was baie moeilik ‘want ons kragte is gedaan’ (Ps 79:8). Aangrypend was die psalmskrywer se hoop op God se troos. Sy hoop dat God hulle met nuwe krag en nuwe moed sal troos en dat die lewe weer mooi sou word.

En tydens pinkster bid ons dat die ander Trooster in ons gewone lewens sal kom en dat Hy ons so sal troos dat ons harte warm sal word.

 Here, soms wil ons lewens uitmekaar val en daarom bid ons dat U ons sal troos en moed sal gee. © jler/ngpta

Share this / Deel hierdie: