“Ek weet daar sal mense wees wat nou wil sê: ‘Wil jy nou regtig op hierdie dag en datum weer ons ou vriend die duiwel bysleep, met sy hoewe en horings en al?’ Ek moet sê ek weet nie eintlik wat die dag en datum daarmee te make het nie. En ek is nie gepla met die hoewe en die horings nie. Maar verder is my antwoord: ‘Ja, ek wil.’”

 

Só skryf C.S. Lewis in sy klassieke Mere Christianity (Afrikaanse vertaling: Doodgewoon Christen). Dat die vraag (en antwoord) nie wyk nie blyk daaruit dat die invloedryke 20ste-eeuse teoloog Karl Barth in sy monumentale Kirchliche Dogmatik etlike bladsye aan die onderwerp wy, en dat nuwe, meer populêre boeke daaroor, soos Stephan Joubert en andere se Bestaan die Duiwel Regtig?, ook in die 21ste eeu steeds die lig (of dan die duisternis …) sien. Ongelukkig is nie alle skryfsels hieroor ewe waardevol nie.

 

Enersyds is daar mense wat so met “ons ou vriend die duiwel” gefassineer is dat dit byna op ’n soort eerbetoon neerkom. Teen dié beoefenaars van die “demonologie” spreek Barth hom skerp uit. Hul spekulasies, skryf hy, getuig van “’n heimlike respek en bewondering, of ten minste ’n atmosfeer van nuuskierigheid, terwyl afkeer die enigste moontlike houding is”.

 

Dit gaan dikwels ook gepaard met ’n taamlik massiewe voorstelling van die demoniese in byna menslike terme, en ’n bygelowige koppeling daarvan met onskuldige verskynsels soos Harry Potter, popmusiek, karate en joga – ’n benadering van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (Kol 2:21).

 

’n Byna teenoorgestelde siening is dat die Bybelse spreke oor die duiwel bloot ’n kleurryke manier is om te verwys na die kwaad wat mense doen. Wat hierdie “liberale” beskouing misken, is dat die kwaad ook mense doen – as ’t ware ’n wil van sy eie het.

 

Die “as ’t ware” is belangrik hier, want dit skerm teen die sensasionele fantasieë van die demonoloë, maar die “wil van sy eie” moet ook ernstig geneem word: Mense raak verstrengel in, uitgelewer aan, die kwaad, aan “strukturele sonde”. Die kwaad is sterker as ons mense, sodat selfs goedbedoelendes dikwels onbewus daaraan meewerk. Juis daarom het ons ’n Christus Victor, ’n oorwinnaar-Christus, nodig.

 

Wie hierdie Bybelse perspektief vergesog vind, moet maar die letterkunde raadpleeg – soos N.P. van Wyk Louw se “Ballade van die Bose”: “Ek is jou wese se ondergrond en ek trap in jou spoor soos ‘n goeie hond.” Of die filosofie – onder andere Michel Foucault met sy denke oor die outonome karakter van mag: dat mag nie soseer iets is wat deur mense uitgeoefen word nie, maar dat mense deur mag gebruik word.

 

Die Nuwe Testament verbind die “owerhede en magte” (byvoorbeeld in Ef. 6:12) met die politieke maghebbers van die tyd – of eintlik: die magskonstellasie, die magsdinamika, van die Romeinse Ryk, wat mense inslurp en vernietig. Daarvoor staan ook die “dier” en die “sedelose vrou” van Openbaring. Nie net die politieke maghebbers “aanbid” en “dien” hierdie magte nie; dit infiltreer mense se harte ook op meer subtiele maniere. Nes die verbruikerskultuur van ons tyd, en sy waardes en prioriteite, waaraan elkeen van ons maar moeilik ontsnap.

 

Die gevaar bly maar dat ons óf die outonomie van die bose onderskat en naïef optimisties dink oor die mens se vermoë om die kwaad uit die weg te ruim, óf in bygelowigheid die duiwel agter elke bossie gaan soek, maar hom miskyk daar waar hy juis sy knoeiwerk doen – in Louw se woorde: “Ek is ín jou gevleg, gerank, soos ‘n wortel in die donker bank.”

 

Met ander woorde: Praat van die Duiwel, dan trap jy op sy stert.

[Artikel het reeds in Die Kerkbode verskyn.]

Share this / Deel hierdie: