Geleentheidspreek: ‘n huwelik [ons noem hulle S (bruidegom) en D (bruid)].

 

Agtergrond:

1. …dit is aangenaam…

S en D ken mekaar al ‘n geruime tyd. Vir praktiese doeleiendes woon hulle reeds saam. Albei is selfstandig, onafhanklik. Hulle trou nie omdat hulle moet nie, maar omdat hulle wil. Ek ken S en sy familie baie goed, ons is jarelange kennisse. 

2. …dit is ‘n probleem…

D is ‘n buite-egtelike kind. Haar moeder het ‘n histrioniese persoonlikheid. D voel skuldig teenoor Moeder wat haar lewe as enkelouer opgeoffer het om vir haar kind die beste te gee. Ek is versoek om Moeder in my diens op ‘n manier te noem, sodat verwyte nie later geslinger word nie.

3. …dit wil die bruidspaar hê 

Hulle wil ‘n eenvoudige diens hê. Hulle wil nie kerse vir mekaar of vir hul vriende opsteek nie. Asseblief tog, geen yl gesing nie. Hou dit asseblief eenvoudig…en hou Moeder gelukkig…

 

Hoe gemaak?

 

Voorbereiding:

Aanvanklik het ek aan die tradisionele tekste gedink: 1 Korintiërs 13 of Hooglied. Na ‘n paar gesprekke met die bruidspaar, het ek egter op die Genesis 24 besluit. Vir hierdie geleentheid vermy ek die problematiek van die perikoop: soos dat Isak en Rebekka eintlik neef en niggie is; soos dat Abraham dalk intussen oorlede kan wees; soos Abraham en sy tweede vrou, Ketura; soos Isak wat deur Rebekka oor sy ma se dood getroos word – om die waarheid te sê, daardie stukkie het ek opsetlik nie gelees nie.

 

Buig ek die teks?    

 

My boodskap wil fokus op die liefde van huwelik…wat nie so vanselfsprekend blyk te wees nie, nie in Ou Israel nie, ook nie vandag nie.                

 

Teks: Genesis 24:67b. Sy (Rebekka) was sy (Isak) se vrou en hy het haar liefgehad.   

 

Verloop:

Liturg:

Liewe vriende en familie, vandag is ons getuies van ‘n feestelike geleentheid – ‘n huwelik. Twee mense gaan trou. Dit het reeds begin, die oomblik toe D, die dogter van M oorhandig is aan S, seun van X en Y. Die jong egpaar bring hiermee hulde aan hul ouers.

 

Oomblik van stilte

 

Gebed:

Kom ons bid saam.

Here, ons sê vir u baie dankie vir ‘n besondere dag in twee mense se lewens.

Dis ‘n dag van groot blydskap waarin ons saam met hulle gaan feesvier.

Dankie Here, dat ons kan weet U is ook teenwoordig in ons vreugde.

Help ons om nooit van teenwoordigheid in ons lewens te vergeet nie, wanneer ons bly is, en ook wanneer ons hartseer is.

Vandag Here, dra ons spesifiek vir S en D aan u op.

Ons bid dat U saam met hulle hul lewenspad sal loop, vanaf hierdie vreugdevolle oomblik vandag, deur ander oomblikke van blydskap, maar ook droefheid.

Mag hulle altyd onthou dat U daar is, dat U hulle dra.

Ons wil hierdie diens nou in u teenwoordigheid begin, bewus daarvan dat U hier is, en altyd by ons sal wees.

Amen.       

 

Liturg:

Hoekom besluit twee mense om te trou?

Hoekom wil hulle van hierdie dag af verder hul lewens met mekaar deel?

Hoekom wil hulle hulself aan mekaar verbind?

Hoekom sou enige rasionele denkende intelligente mens sy/haar indiviuele vryheid wil prysgee om ‘n lewe met iemand anders te deel?

 

Vanselfsprekend, sal u vir my sê: dis die liefde! D en S trou omdat hulle vir mekaar lief is! Liefde is die deurslaggewende faktor vir die huwelik.

 

Of is dit?

 

Kom ons luister na die verhaal van Isak en Rebekka soos dit vir ons in Genesis 24 vertel word. Ek gaan nie die hele hoofstuk lees nie – dit kan u vanaand in u stiltetyd deurwerk – net enkele verse.

 

Ons ken die agtergrond. Op bevel van die Here het Abraham weggetrek uit sy geboorteland, Ur van die Chaldeërs, want die Here het vir hom ‘n nuwe land en ‘n groot nageslag belowe. Maar sake het vroeg al amper skeefgeloop. Isak is amper-amper geoffer (Gn 22). Sara, Abraham se vrou is intussen oorlede. Op sy oudag sit Abraham en wonder wat tog van die Here se mooi beloftes geword het. In plaas van ‘n land, besit hy die graf van sy vrou. In plaas van ‘n groot nageslag, het hy een kind, ‘n seun, wat nog nie ‘n vrou het nie. Dit help die nageslag nie veel nie! En Abraham self is oud, sy lewenskrag is min.

 

Wat doen hy?

 

Hy roep sy slaaf, die vernaamste in sy huis en die een wat in beheer was van al sy besittings (Gn 24:2), en hy gee hom die bykans onmoontlike opdrag: Gaan soek jy vir my seun ‘n vrou.

 

Ondenkbaar vandag! S, ek glo nie jy sou baie daarvan gehou het as jou pa sy bediende gestuur het om ‘n vrou vir jou te soek nie! Kan jy dit dan nie self doen nie? Verder, as die bediende met iemand aankom, en dis nie D nie, sou jy tevrede wees? Ek glo nie!

 

Maar in Abraham en Isak se wêreld het dinge anders gebeur. Twee jongmense het nie veel van ‘n keuse kon uitoefen ten opsigte van ‘n lewensmaat nie. Die ouers het besluit – of as die ouers nie kon nie, dan ‘n verantwoordelike gesant, soos Abraham se betroubare slaaf.

 

Abraham se slaaf neem sy opdrag baie ernstig op. Hy bid oor die saak. Die liewe Here moet hom tog help. Hy soek ‘n teken. Hier sit hy in die warm droë woestyn en hy weet die vroue moet die een of ander tyd kom water skep. Hy sê vir die Here, laat dit tog asseblief so gebeur: as hy vir water vra, en ‘n jong meisie gee hom water en sê sy kamele kan ook maar drink, dan sal hy weet dis die regte ene.

 

Skaars het hy klaar gebid, toe kom Rebekka daar aan, en presies soos wat hy gebid het, gebeur. Rebekka gee vir die slaaf water, en ook vir sy kamele. En dan gebeur die volgende:

 

vers 22: Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy [die slaaf] ‘n goue ring aan haar [Rebekka] se neus en twee goue armbande van van honderd en vyftien gram aan haar arms…

 

Dis ‘n eksotiese, vreemde gebeure wat hier in die woestyn afspeel. Ons kan die son op die goud sien blink, die geklingel van die ringe hoor…maar vandag gebeur dit anders.

 

D, ek sien nie ‘n ring aan jou neus nie. Jy gaan wel netnou ‘n ring kry, maar dis ‘n ring aan jou vinger. Jy gaan ook vir S ‘n ring gee. Wanneer julle dit doen, is daar niemand anders by betrokke nie. Hierdie ringe is die simbool van julle twee wat direk jul verbintenis aan mekaar bevestig. Julle twee het mekaar gekies, niemand het julle voorgesê of vir julle besluit nie.  

 

Maar in die dae van Isak en Rebekka was dit anders. Wanneer hierdie dramatiese ding met Rebekka gebeur, is dit net sy en Abraham se slaaf wat daarvan weet. .

 

Die eerste ander persoon met wie Rebekka hierdie groot gebeurtenis deel, is haar ma (v 28). Die volgende een wat ‘n verskil in sy suster waarneem, is haar broer, Laban (v 29 & 30). En van hier af is dit die broer en die ma wat die besluite oor Rebekka se lewe neem. Laban gaan na die put toe, hy nooi die slaaf om te eet en te oornag. Wanneer die slaaf die duur geskenke oorhandig wat sy eienaar Abraham vir hom saamgegee het, gee hy dit vir Rebekka, haar broer en haar ma (v 53).  En as hy die volgende dag haastig is om terug te gaan, is dit Laban en Rebekka se ma wat vra dat sy net nog ‘n bietjie by hulle moet agterbly (v 55). In hierdie verhaal is dit die broer en die ma wat die leiding neem. Rebekka se pa, Betuel staan min of meer op die agtergrond. Wanneer hy praat, is dit net om te bevestig dat alles wat gebeur, van die Here is.

 

Ons lees in hierdie verhaal van ‘n verbintenis tussen twee mense – enersyds baie vreemd van dit wat ons vandag doen, andersyds ook dieselfde. Destyds, net soos vandag, was ‘n huwelik in die eerste plek ‘n burgerlike kontrak. Destyds is die kontrak tussen twee families aangegaan, bewyse van die kontrak – gewoonlik in die vorm van duur geskenke – is aan familielede oorhandig. Vandag word die huwelikskontrak tussen twee individue gesluit: S en D. Hulle het nogal die kontrak vir my voor die tyd kom wys! En duur geskenke sal hulle eers vir mekaar koop, en daarna miskien aan die familie dink! Maar: destyds, net soos vandag, is die huwelik in die eerste plek ‘n burgerlike wettiese instelling.

 

In die tweede plek deel hierdie huwelik van vandag ‘n belangrike aspek met die huwelik tussen Isak en Rebekka van destyds, iets wat eintlik glad nie so vanselfsprekend was nie: die begeerte maar ook die oortuiging dat alles wat gebeur, van die Here is. Die kontrak tussen hierdie twee partye is meer as ‘n gewone burgerlike kontrak. Die godsdienstige komponent is nie vanselfsprekend aanwesig nie, dit is iets wat geglo word.  

 

Ons kom nou by die laaste stukkie van hierdie diens. Rebekka se ma en broer wil graag hê sy moet nog ‘n paar dae by hulle bly, maar wanneer hulle haar vra wat sý wil doen, wil sy dadelik saam met Abraham se slaaf gaan. Sy, die vrou wat haar grootgemaak het en haar slavinne vertrek saam met die slaaf, terug na Abraham (verse 59-61).

 

Kom ons lees saam wat volgende gebeur.

 

Skriflesing:

 

Hy [Isak] het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring en vir Abraham se slaaf gevra: ‘Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?’ Die slaaf het geantwoord: ‘Dit is my eienaar.’ Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig. Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.      

                 

Voor ons staan twee mense, D en S. Hulle het mekaar ontmoet, in die proses vir mekaar lief geraak en besluit om te trou. Ons deel in ‘n wonderlike huwelik-seremonie wat nou maar nog net begin het.

 

Die verhaal van Isak en Rebekka vertel dit andersom. Eers ‘n seremonie wat deur tussengangers gereël is, dan die ontmoeting, ‘n baie stomp beskrywing van die troue – en laaste kom die liefde. Eers nadat Isak met Rebekka getrou het, het hy haar liefgekry. Waar liefde vandag vir ons so ‘n vanselfsprekende bestanddeel vir die huwelik is, was dit in Ou Israel glad nie die geval nie. Isak en Rebekka was baie gelukkig dat dit vir hulle so so uitgewerk het! 

 

Vandag se liefde voor die huwelik, ‘n liefde wat lei tot die voltrekking van ‘n huwelik, is egter nie altyd so vanselfsprekend ná die huwelik nie. Soms gebeur die teenoorgestelde: twee mense trou en hulle hou op om mekaar lief te hê.    

 

D en S, julle staan vandag hier voor my, sterre in jul oë, baie verlief. My wens vir julle is dat julle ná vandag sal begin om mekaar werklik lief te kry, dat julle sal besef, hierdie liefde is nie ‘n vanselfsprekende en maklike ding nie. Dit is kosbaar, julle moet dit koester, en julle moet hard daaraan werk!

 

Slegte nuus? Toemaar, hoe harder julle werk aan die liefde in hul huwelik, hoe lekkerder word hierdie werk – hoe meer gaan julle dit geniet en hoe minder sal julle daarmee wil ophou!

 

Formulier:

 

Ons gaan nou die huweliksformulier lees, en daarmee hierdie huwelik voltrek.

 

Ons glo dat die huwelik een van die belangrikste verhoudingstrukture is waardeur God dit vir ons moontlik maak om ons lewens op ‘n besondere manier te verryk. Hierdie verhouding is egter besonders, omdat dit betrekking het op die hegte eenheid tussen net twee persone: S en D.

 

D en S, bely julle en glo julle dat God jul Skepper is en dat julle mekaar en ook jul huwelik as ‘n geskenk van God ontvang? Wat is hierop jul antwoord?

 

Al is die huwelik ‘n geskenk wat God vir ons gee, is dit ook ‘n menslike instelling wat aan gebrokenheid onderworpe is. Selfsug en eiebelang het ‘n afbrekende invloed op alle verhoudings, maar veral op die huwelik. God het ons as gebroke mense met Homself versoen deur die genade van Jesus Christus. Daardeur word dit ook vir ons moontlik om in tye van verwydering en verskille met mekaar versoen te raak. Dit blyk in die huwelik deur wedersydse respek teenoor mekaar, aanvaarding van mekaar as gelykes, en ‘n wederkerigheid in die verhouding.

 

S en D, bely julle dat Jesus Christus jul Verlosser is, en dat julle sy versoenende liefde ook in jul huwelik sigbaar sal maak? Wat is jul antwoord?

 

Die liefde wat ons teenoor mekaar moet laat blyk, kan ons egter nie uit ons eie krag regkry nie. Deur sy genade het God ook vir ons die Heilige Gees gegee wat binne-in ons werk en ons met ons verhoudings help, veral in moeilike tye. Die Gees stel ons in staat tot ‘n duursame verhouding van trou en lojaliteit.

 

D en S, bely julle dat julle glo in die werking van die Heilige Gees en dat julle elke dag in jul huwelik sal streef na harmonie met God en met mekaar? Wat is hierop jul antwoord?

 

In die lig van jul opregte belydenis, gaan ons nou oor tot die wetlike voltrekking van jul huwelik. Terwyl julle mekaar se regterhand vashou, antwoord asseblief op die volgende vrae:

 

S, verklaar jy dat sover jy weet, daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruid, D is nie? Neem jy haar nou, voor al hierdie getuies, as jou wettige vrou? Wat is jou antwoord?

 

D, verklaar jy dat sover jy weet, daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruidegom, S is nie? Neem jy hom nou, voor al hierdie getuies, as jou wettige man? Wat is jou antwoord?

 

Hiermee verklaar ek dat S S  en D D wettig getroud is.

 

Gee aan mekaar die ringe as simbole en tekens van jul huweliksliefde en trou.

 

S, jy mag jou vrou soen.

 

Seën: Mag die liefde van God, die genade van ons Here Jesus Christus en die nabyheid van die Heilige Gees met julle en met ons almal wees.

Amen.

Share this / Deel hierdie: