Teks: Joh 13:1-11, 36-38; 14:1-11, 15-16

Miskien was u al by so ‘n partytjie. Alles lyk so lekker en mooi. Maar niks vlot nie. Die los gesprekkies dryf bolangs. Woorde bly leeg. En selfs die lekkerste kos proe droog. Die wyn doen ook niks nie. ‘n Mens kan die ongemak aanvoel.

By Jesus se afskeidspartytjie loop alles skeef. Spanning bereik breekpunt. Die geselskap wil maar net nie vlot nie. Woorde steek soos grate in die dissipels se kele vas. Die partytjiegangers beloer mekaar vol agterdog. In die binnesak van elke hart is daar kommer en onsekerheid.

Maar waarom nie? Die afskeidsfees staan in die skadu van twyfel, kommer en agterdog. Daar is die verloëning van Petrus, die verraad van Judas, die afskeid van Jesus. Petrus probeer om te red wat daar nog te redde is. Hy verklaar manhaftig: “Te midde van al die verraad en wantroue, kan U op my reken. Ek sal nie toelaat dat iets of iemand tussen U en my kom nie. U kan op my reken. Ek sal U deur dik en dun volg. Ek sal, as dit moet, selfs my lewe vir U gee” (Joh 13:37). Maar skaars was Petrus se woorde koud of die brawe man draai sy rug op Jesus. Hy ontken dat hy Jesus ken. Drie keer kraai Petrus dit uit: “Ek ken die man nie!”

Dis nie al nie. Dit lyk of Jesus ook meedoen aan die verbrokkeling van alles. Hy gaan weg. Dit lyk en dit voel of alles in duie stort.

En tog het Jesus vir mense wat twyfel, wat bekommerd is, wat agterdogtig is, vir wie dit voel asof alles in duie stort ‘n ander boodskap. Jesus se weggaan verbreek nie alle bande nie, maar bind en versterk ons bande met Hom. Dit is hoekom Hy weggaan: om die band met die Vaderhuis sterker te bind. Hy gaan weg om vir ons ‘n tuiste reg te maak.

Ons weet mos wat dit beteken as ‘n huis reggemaak word vir ‘n kind wat weg was. As die kind wat in ‘n woonstel of in koshuis bly vir die naweek huis toe kom, word die huis skoongemaak. Die bed word vars oorgetrek. Daar is vars blomme in ‘n vaas. Die hondjie word gebad. En as die groot dag aanbreek, wapper sy stert. Alles lyk en ruik so skoon. Aan tafel is daar spesiale geregte. Daar is meer en heerliker nagereg as gewoonlik. Veral sagopoeding. Die rede vir die fees? My kind is vir die naweek by die huis!

Verstaan u nou? Dit is presies wat Jesus gaan doen het. Hy het huis toe gegaan om die Vaderhuis in orde te kry. Sy weggaan is nie deel van die verbrokkeling nie, maar van die verbinding. Hy wil ons laat welkom voel as ons tuis kom. Hy wil ons verseker dat daar plek vir al God se kinders in die Vaderhuis is. Die bande wat Hy met die Vaderhuis smee, is sterker as al die vebrokkeling, verloëning en verraad wat hier onder ons afspeel.

Die verbrokkeling, die gevoel dat alles in duie stort gaan met ‘n sekere stemming gepaard. Die stemming van ontsteltenis. Daar is verloëning, verraad, afskeid. En dit is pynlik. In so ‘n klimaat bied Jesus se woorde maar min troos. Die dissipels kan eenvoudig nie glo dat Jesus se weggaan die band tussen hulle en die Vader gaan versterk nie.

Afskeid, afstand kan tog nie bande bind nie. Daarom kom twee volgelinge met twee kwellende vrae. Tomas en Fillipus voel sterk oor die saak: die huis en die Vader is in die klimaat van verbrokkeling volkome vreemd en onbereikbaar. Tomas bedoel: “Here, hoe kom ons daar uit?” En Fillipus bedoel: “Ons sien nog nie die Vader van Wie U praat nie. Wys ons net die Vader”. Tomas en Fillipus sien en ervaar net verbrokkeling. Alles is stukkend.

En ons? Ons voel ook maar soos Tomas en Fillipus. Ons sien en beleef soveel brokke, soveel pyn.

 

O, die aarde pyn – die aarde pyn

soos kleinhond se maag,

hy bloei, die aarde bloei:

pokgesigaarde, oumansland,

uit elke plooi pers bloed.

 

O, die aarde sterf – die aarde

sterf soos afvalsgoed.

 

Ons het dit reggekry, sowaar,

om moederaarde effektief

tot dorbank af te skaal (George Louw).

 

As mense rondom ons pynlik rondgeskud word, kan ons nie ongevoelig wees nie. As ons wêreld tol, tol ons saam. Ons het die vlekke van twee wêreldoorloë, die ontwikkeling en die aanwending van wapens wat massas mense en omgewings vernietig, die magsmisbruik deur regerings. Daar is ook nog korrupsie op soveel vlakke. Waardes soos respek vir die lewe en mense, liefde en verantwoordelikheid word nie ernstig geneem nie. Rassisme, misdaad en geweld kom nog te veel voor. Materialisme speel ’n te grot rol in ons lewens. Ons slaag nog nie genoeg daarin om die posisie van armes te verbeter nie. Die gaping tussen rykes en armes is te groot. Ons word dikwels geteister deur godsienstige onverdraagsaamheid.

As ons na al die donker kante kyk, kan ons maklik voel ons is op ‘n sinkende en stinkende skip.

Maar dis nie al nie. In ons klein wêreld word ons ook rondgeskud. Siekte, pyn, kommer, twyfel, onsekerheid, finansiële kommer is deel van ons bestaan. Daar is spanning in die huwelik, by die werk, in die kerk. Verhoudings word gekneus, geknou en geknak. Ouers en kinders leef dikwels in twee wêrelde en by mekaar verby. Wie van ons ken dit nie? Dit voel baie keer asof alles in en om ons in duie stort. En ons voel so magteloos.

Wat bly oor as alles wegbrokkel? Jesus se antwoord aan sy volgelinge. “Ek is die weg”. Jesus is die pad na die Vaderhuis. Op Kersdag het Hy in ‘n kripbed kom lê. Hy het aan ‘n kruishout gaan hang. Maar op die derde dag het Hy die grafnate geskeur en opgestaan. En Hy het die weg vir ons na die Vaderhuis en -hart gebaan. Daar is nie vir ons ‘n kortpad na die Vaderhuis toe nie. Dié pad loop langs die ompad van ‘n kruis. Die pad na die Vaderhart loop deur Golgota. “Ek is die waarheid”. Jesus is die Bron van betroubaarheid in ‘n wankelende wêreld. Hier is daar nog verraad. Judas s’n en ons s’n. Hier is verloëning. Petrus s’n en ons s’n. Maar juis hier kan ons op Jesus reken. Hy sal ons nooit verraai en verloën nie. Op Hom kan ons peil trek. Hy sal ons nooit in die rug steek nie.

“Ek is die lewe”. Jesus het nie op Kersdag ‘n groetekaartjie, ‘n vriendskapsbrief of ‘n woord van bemoediging van die Vader gebring nie. Hy het ook nie ‘n bossie rose in die Vaderhuis se tuin gepluk en dit saam gebring nie.

Nee, Hy het die lewe wat die Vader bied, kom gee. Watter lewe bied die Vader? Ons kan die antwoord op die vraag goed verstaan as ons dink aan die muurspreuke in die huise van ons oupa’s en ouma’s. Onthou u nog? Wat is ‘n huis sonder ‘n vader, sonder ‘n moeder? Die teenwoordigheid van ‘n pa en ma gee lewe aan die huis.

Op Fillipus se vraag: wie is die Een om Wie alles draai?, kom Jesus se treffende antwoord:dit is die teenwoordigheid van die Vader. “Fillipus in My woorde en dade is die Vader teenwoordig”. Jesus het die Vaderhuis op Kersdag aarde toe gebring. Die teenwoordigheid van die Vader is sterker en werkliker as al ons twyfel, kommer en brokke. Jesus maak die Vader teenwoordig. Hy maak ons bewus van die Vader. Jesus verbind ons aan die Vader. Hy gee aan ons die lewe van die Vader. Strome van lewe.

Die vraag is net: hoe is Jesus en die Vader hier by ons? Hoe kan ons weet God is by ons? U ken almal die ervaring. As ons ver van die huis af is, word ons verras met ‘n pakkie van die huis. Daar in die koshuis, in die woonstel… As ons die pakkie opskeur en ons sien die soetkoekies en die karringmelkbeskuit, staan die huis ons voor die gees. In die gees sien ons hoe ma die koekies en beskuit sorvuldig en met liefde verpak en hoe pa die pakkie handig en trots toebind. Ons verlange na die huis groei. In die gee is ek by die huis:

 

my hande vol presente.

‘n liedjie vir my ma en ‘n bietjie trots vir my pa.

 

Ek is in die gees by die huis sommerso soos ‘n koor met Kersoggend. Van pa en ma se kant gesien, is hulle ook in die gees by ons. In die gees sien hulle hoe ons die pakkie oopmaak en in die gees sien hulle hoe ons die pakkie oopmaak en in die gees is hulle saam met ons bly. Maar ons verbeel ons net dat ons by die huis is, en pa en ma is ook nie regtig by ons nie. Dit is alles maar net ‘n sagte droom.

Is Jesus en die Vader regtig by ons? Verbeel ons ons nie maar net dat Jesus en die Vader by ons is nie? Droom ons nie net nie? Drie feeste sê dat God werklik by ons is. Kersfees, Nagmaal en Pinkster. Kersfees sê: Immanuel. God is by ons. Nagmaal beteken: God se geskenk aan ons is van tyd tot tyd ‘n kospakkie. As ons by die Nagmaaltafel aansit, is daar ‘n kospakkie op die tafel. Brood van die Vaderhuis en wyn van die groot Boland. Ons ruik en proe die Vaderhuis. Ons smaak en proe die ene liefde. Ons sien ook wat die liefde die Seun gekos het: ‘n krip, ‘n kruis. En ons ervaar dat God se liefde te midde van brokke en verbrokkeling verbinding bring. God se liefde verbind. Dit is sterker as die dood. Daarom ruik en proe ons in die brood en die wyn: opstanding en lewe. Hierdie kospakkie laat ons bekers oorloop van dankbaarheid. Kyk net hoe goed is God vir ons!

Die derde fees wat sê dat God werklik by ons is, is Pinkster. Op Pinksterdag het God meer as as net ‘n kospakkie gestuur. Pinkster beteken: Jesus en die Vader is in die Gees regtig by ons. En in die Gees is ons in die Vaderhuis, by Jesus en die Vader. Die Gees is by ons om ons aan Jesus en aan die Vader te bind. En die band is so sterk dat selfs die dood dit nie kan verbreek nie.

Ons het die Here in die Vaderhuis ontmoet. Hy het ons ook ontmoet. Ons was in sy teenwoordigheid. Hy het ons aangeraak. In die week wat voorlê moet almal kan sien dat in God se huis was. In die week moet almal wat met ons in aanraking kom, kan sien dat ons bekers van blydskap oorloop. En dat die Gees ons met liefdesbande aan Jesus en die Vader verbind. Mense wat met ons en met wie ons in aanraking kom, moet ook sien dat ons aan mekaar en aan ander met bande van liefde verbind is.

Blye mense is mense wat in die Vaderhuis was. Daarom kan ons die week weer met moed en liefde aandurf.

Share this / Deel hierdie: