Tekslesing: Jes 52:7-10

 

Toe hy die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, het hy ‘n ontroerende toespraak gemaak. ’n Toespraak vir sy oorlede pa. Miskien is dit wat jy ook hier doen. ’n Spesiale woord aan, ’n gedagte aan jou pa en ma.

Orhan Pamuk se toespraak dra die vreemde titel: My Father’s Suitecase. ’n Mens vra dadelik: Wat is in die swart tas? Stel jou voor jy moet oor jou pa se swart tas praat. Wat is dalk daarin? Laat Pamuk self oor sy pa se swart leertas vertel. Dit het die vreemde geur van reise oor jare na ander lande gedra. Op 22 Desember 2002 is sy pa dood. Hy maak die leertas oop. Daarin was sy pa se skryfsels, manuskripte en notaboeke. En hy hoor die stem van ’n skrywer. Iemand wat sy leser na sy wêrelde genooi het. Al het hy geen pryse gewen nie, het hy vir sy seun altyd gesê “eendag sal jy ’n pasha word!” En dit het gebeur toe Orhan die Nobel Prys vir Letterkunde in 2006 ontvang het.

Maar wat het Pamuk se swart leertas met jou legitimasie te maak? Alles. Legitmasie is ’n kroontyd. ’n Bekroontyd. En jy kry ’n swart tas. Jy moet die tas oopmaak en uitpak en dit wat daarin is, uitdeel. Ons mense het die inhoud van die swart tas bitter nodig.

Kom ons kyk wat is dalk in die swart tas.

Ek moet eers ‘n kort-kort historiese konteks van ons teks skep. Ons is nou maar almal vasgesuig in die modder van die geskiedenis.

So ver of so min as wat ’n mens jou vinger daarop kan lê, wil ek tog sê: Jes 52 tril van onsekerheid. Alles is onstabiel. Onsekerheid, onstabiliteit is nie net modewoorde nie. Dis pynlik waar. Dit raak ons almal. Ons voel hoe die aarde bewe as die politieke magte en ordes wankel. Daar is kommer oor die gehalte van die onderwys. Universiteite, ook ons s’n, is onder druk. Universiteite val makliker uit die top 500 as om daar te bly. Nie net die hartsake het ’n wanbalans nie, maar die geldsake lyk beroerd. Alle pryse skiet die hoogte in. Winskope met geld sonder baie waarde! Armoede laat mense ly en swaarkry.

In een sin: die toekoms lyk bleek.

In Babel het alles in duie gestort. Hoop, geloof, toekoms, ekonomie, godsdiens. Marduk was nog in beheer. Daar was ten minste nog die Maangod, Sin en die Songod. Maar Marduk kon nie ’n vinger verroer nie. Dis natuurlik die probleem met die gode. As jy hulle nodig het, is hulle koud en stom.

Ons kan Jes 40:1-52:12 in 521 vC dateer (Rainer Albertz). Toe die Persiese koning Kambuses in 522 vC sterf, was daar geen troonopvolger nie. Maar agter die skerms is gekonkel en planne beraam. Gaumata, ‘n Persiese offisier, is die man. Die volk sing en dans. Hy is die nuwe koning. Maar die Persies leër weet hy dra ’n masker. Hy doen hom voor as Smerdis die vermoorde seun van koning Sirus. Die leer gooi hulle gewig agter Darius. Gaumata betaal die prys. Hy word in 522 vC vermoor.

In sulke onsekere tye kan opstande maklik opskrik. Dit gebeur ook. Die stad Babel rebelleer teen Darius. Twee maal gebeur dit: in die winter van 522 en ook in die herfs van 521. Die stad word met geweld verower. Die Judese minderheid gee in 521 hulle lojaliteit aan Darius. In ruil gee die Perse toestemming en steun vir hulle terugtog na Jerusalem. Die Perse se politiek is verdraagsaamheid. Hulle koop mense eerder in as om hulle uit te sluit. Hulle praat eerder as om te veg. Omhels eerder as om af te stoot. Darius laat die tempelbou toe.

Jesaja is ’n kunstige komposisie. Van die eerste tot die laaste beweging. Jes 40:1-11 vorm die  proloog en Jes 52:7-10 die epiloog. Die dele bevat lofliedere van hoop en troos. Die hoorders is die hele skepping, tot eindes van die aarde. Klippe maak julle ore oop! Wind fluister ’n bietjie harder! Riviere klap julle nat hande!

Tydens die ballingskap is die ballinge se geloof en moed versterk deur voorlesings, voordra van tekste. Dit het oral in dorpe gebeur. Hierdie voorlesings en vertellings was ’n soort drama. Nie ’n opvoeringsdrama soos van Shakespeare nie, maar ’n verteldrama, ‘n leesdrama. Daar was spekerswisseling, gesprekke tussen God en sy volk, Jakob, Israel; die opeenvolging van handelinge, toneel, ’n plot, verbeelding. Die een vertellyn is die vervulling van die ou belofte van die reddende en bevrydende God.

Die mirakelagtige bevryding uit Babel verklaar openlik: God het ingegryp. Teen alle politieke en menslike verwagtings in. Hy laat nie Gods water oor Gods akker loop nie, maar laat ’n fontein in die woestyn borrel. Hy laat plante in droë grond groei en bloei.`Die tradisies van die uittog en die woestyntog is ingeweef in die Jesajateks. ‘n Nuwe uittog staan voor die deur. Die uittog is die aanskouing van bevryding en troos.

Daar is ’n klop aan die deur. Laat julle ore wakker word. Maak julle oë oop. Trek julle feesklere aan. Die rede? Daar buite soos die oggendster hardloop ’n vreugdebode. Hy hardloop met sy swart tas al swaaiende in sy hand. Met ‘n lied in sy hart. Dis nogal opvallend hoe die liggaamsdele in die loflied voorkom: voete van die bode (7); die stem van die wagters (8); die heilige arm van Jhwh (10). Dit val ook op hoe hoorders in die verteldrama ingetrek word: hoe lieflik… hoor … breek uit … (7, 8, 9).

Die verwysing na die voete van die bode wys op sy vinnige pas (vgl 41:2ev; Gen 33:14; 41:44; Job 18:11). Die voorhardloper van Husain Bolt! Die hardloper is so welkom. Hardloop vinniger. Al is jy uitasem. Op die tippie van jou tong is ’n boodskap wat harte gaan bly maak. Hy hardloop op die berge. Berge is ’n idioom (Nah 2:1; Hoogl 2:8). Maar berge kan ook ’n geografiese verwysing wees. Dit dui dan op die rigting vanwaar God terugkeer. Hierdie vreugdebode wil uitasem kom sê: God kom terug. Voordat Sion self as vreugdebode op die hoë berg kan klim (40:9), moet blye tyding haar oor berge heen bereik.

Wat kondig die vreugdebode aan? Letterlik staan daar: hy laat hoor. Die drie paralelle begrippe wat soos die son gloei, maak dit duidelik: vrede, (48:18); goed (41:7)  en heil (43:3). Die handelnaam van die boodskap is: dis’n goeie boodskap. Dis goeie nuus. Ons is gewoond aan en moeg vir al die slegte nuus. Moord, geweld, armoede. Maar hier is goeie nuus: ’n Nuwe tyd breek aan. ’n Nuwe bedeling. ’n Tyd van vrede. Jhwh is Maker van vrede (45:7), Die leeu en die lam kom lê langs mekaar. Die bull en die shark is vriende. Jhwh bring heil. Net Hy kan dit gee (eers vir volk, later vir volke). (Nomen redding: 49:6, 8, ; 51:6, 8, : 52: 7, 10. ww: 45:8; 51:5).

In die swart tas lê die blye nuus (Aan die kant is Mig 4:7b en Sef 3:15 geskryf). Goeie nuus. Vrede. Redding. Die verrassende en groot nuus, die hoofnuus is: jou God het die koningsheerskappy aanvaar. Dis die beste nuus wat ons ooit kan hoor. Die uiteindeliike bevryding het aangebreek. Van nou af is alle twyfel uit die weggeruim: Jy is my volk (51:16). Julle is my volk en Ek is julle Koning. As die volk na Jhwh terugkeer, vind hulleself terug!

Jhwh kom terug na Sion toe (8), neem hulle as sy volk aan (6, 8). Die gode se gesigte is rooi. Babel het verdwyn in puin.

Die muurwagters se oë brand op die einders. Met hulle oë moes hulle die inwoners beskerm. Wees slaggereed: die vyand is op pad. Nee, dis iemand met ’n swart tas. En die wind dra sy stem: ek het goeie nuus. Daar wag ’n klein verrassinkie op julle: dis nie julle terugkeer wat die hoogtepunt van die drama is nie.

Nee, dis Jhwe se terugkoms (52:8). Hy het nie in ’n solder in Babel agtergebly nie. Hy is op pad Sion, heiligdom toe. Die weg in woestyn is die weg van die  Here. ’n Baan vir ons God (52:12). Krygsman (42:13), herder (40:11) en koning wat na Sion terugkom. Jhwh: herder wat verstrooide kudde saambring en die koninklike krygsman wat deur vyandelike linies breek en seevierend voorgaaan. (vgl Miga 2:12-13).  Jes 42:13: krygsman; 40:9: herder en koning: Jes 52:7; vgl 40:5; Nah 2:3).

Jou God is op pad. Wagte roep dit hardop uit. Want hulle sien dat God so naby Jerusalem is dat hulle mekaar van oog tot oog kan sien. Die ontmoeting van twee partye vra altyd die aandag van jou oë. Jhwh is op pad: terug na die land, die tempel, (Jes 63:17; Nah 2:3). Hulle verhef hulle stemme. Jubel saam (41:14).

Daar is ‘n stygende lyn in die verteldrama: die koms van die vreugdebode en sy nuus; die wagters en hulle gejuig en wat hulle sien. En dan jubel die puinhope van Jerusalem, Sion self oor Jhwh se verlossing. Hy het sy volk verlos (43:25). God het hulle verlos deur sy heilige arm (10). Dit dui op sy mag om te red (40:10; 51:5; 53:1). Hy het hulle gelaaf van hulle skande en hulle skuld. Hy het hulle ook getroos. Hy het hulle trane afgevee en hulle wonde verbind.

Ook die verwysing na God neem toe in intensiteit: jou God (7) en in 8 staan daar tweemaal Jhwh en dan ons God (9). Dis hemel op aarde. Nee, dis God op aarde! Almal sien nou die heiligheid van God (40:5; 42:8, 12; 43:7; 48:11). As ons tog meer van God se heiligheid bewus en deurdring kan wees.

Jy ontvang ’n swart tas. Daarin is ’n blye boodskap. Hardloop. Lag van mond tot oor. Gaan vertel dit. Jy het goeie nuus om te vertel. Al word ons verlam deur al die slegte nuus. Moord, roof, verkragtings, die wankelende rand, politieke onrus. Liefde wat soos rook verdwyn. En wat is die goeie nuus? Jy haal Jes 52 en die Nuwe Testament uit jou swart tas. Want die twee vertellings verryk mekaar.

Jou skuld is uitgedelg. Jy skuld God niks nie. Hy het alles betaal. In die NT word vertel dat God sy Seun in ballingskap gestuur het.

 

God se Seun het ons bloedverwant geword om ons van ons sonde te verlos. Al sukkelend en struikend is Hy die klipkoppie uit. Op daardie heiligdom het Hy alleen aan ’n kruis gehang. Donker het op Hom toegesak. Maar die gekruisigde God het die oorwinning behaal. Hy het selfs die dood ’n nekslag toegedien. Dis tog duidelik: God is Koning.. Hy is die Vredemaker. Wat kan ons meer begeer as vrede met God en mekaar? Hy troos ons ook. Hy vee al ons trane af. Al moet ons nog deur die drif van die dood.

En ons, draers van die goeie boodskap, wat moet ons doen? Aanvaar die bevryding. Daarom kan ons uit God se vrede leef en moed skep.

 

Ons kan hoor hoe God se veervolk psalms sing,

ons gesigte ruik lekker en ons hande

is gelaaf van al die skande.

 

En ons kan maar die gode op hulle plek sit.

 

Die gode wil graag doodgaan,

maar ons laat hulle nie met rus nie.

 

In hemelsnaam, laat hulle tog met rus. Die geldgod, die genotgod, die geluksgod.

 

Beteken dit alles is nou hemel op aarde? Nee, wel dat God jou God is. Daarom is dit hemel en aarde.

Die Vader gee aan jou ’n swart tas. Gaan en bring die goeie boodskap.

[Preek gelewer tydens die legitimasieplegtigheid November 2008: NG Kerk Pretoria-Oos]

Share this / Deel hierdie: