Teks: Luk 24:13-35

“Moenie verder vertel nie!” So sê ons wanneer iemand entoesiasties vertel oor ‘n boek of ‘n fliek en op die punt is om die storie weg te gee. Ons wil niks verder weet nie, want anders word ons lees- of kykervaring bederf. Mens kan nie ‘n storie van agter af geniet nie. Jy moet meegeneem word met die spanning en die uiteindelike ontknoping.

Die probleem met ‘n oorbekende verhaal, soos die Emmausgangers in Lukas 24 is dat ons reeds die ontknoping ken en daarom nie meer so getref  word deur kernpunt van die verhaal nie. Ons lees dit as’t ware van agter af.

Ons weet klaar dat die vreemdeling wat saam met die reisigers na Emmaus gestap het, Jesus was. Ons weet dat hulle agterna gesê het dat hulle harte warm geword het, terwyl Hy op pad vir hulle die Skrifte uitgelê het. Daarom lees ons die verhaal asof hulle geweet het dit was Jesus wat saam met hulle stap en asof hulle bewus daarvan was dat hulle ‘n buitengewone gas nooi om by hulle oor te bly. Dan word die verhaal aan ons gepreek met die oproep om Jesus op ons lewensreis toe te laat. Maar dit was nie Jesus vir wie hulle teëgekom het nie, dit was ‘n vreemdeling. Hulle het Hom eers die aand aan tafel erken. Tot op daardie stadium was hy net ‘n vreemdeling. Sommer net ‘n man wat met hulle kom saam stap het en toe hulle hom ingenooi het om die nag by hulle oor te bly, was hy nog steeds ‘n onbekende vreemdeling.

Ons moet waak daarteen om die insig wat hulle later verwerf het, terug in die  verhaal in te lees. Die punt is hulle het geen idee gehad wie die vreemdeling was wat saam met hulle op pad was nie. Dus, vir ons as lesers, kan die boodskap nie wees dat ons Jesus in ons lewens moet toelaat en ontvang nie. Eerder dat ons oop moet wees vir die vreemdeling langs die pad.

Die Lukas Evangelie is sterk gefokus op die vreemdeling. Lukas is, net soos Matteus, omtrent 10 tot 15 jaar na Markus geskryf. ‘n Tyd waarin die vrae oor die toekoms van die nuwe groeiende Jesus-beweging sterk na vore tree. Die evangelie van Jesus het intussen veral onder leiding van Paulus ‘n wêreldbeweging geword en daar was nog steeds verskil oor of dit hoofsaaklik Joods moet ontwikkel en of die boodskap ook op die nie-Jode gerig moet word?

Matteus lê die klem sterk op die Joodse wortels van die beweging en laat sy geslagsregister by Abraham begin. Lukas, daarenteen laat die klem sterk val op die universêle betekenis van Jesus en laat die geslagsregister teruggaan tot by Adam.

Lukas plaas Jesus se geboorte onmiddellik binne die groter konteks van keiser Augustus. Dit is ook Lukas wat die verhaal vertel van die 10 melaatses wat genees is. Van almal is daar slegs één wat dankbaar teruggekom het. En hy was ‘n Samaritaan. Dit is ook Lukas wat die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel. Matteus gee die Joodse aksent en Lukas die universele aksent.

Teen hierdie agtergrond moet ons die verhaal van die Emmausgangers lees. As ons dit ook kan regkry om die verhaal te hoor asof vir die eerste keer, dan is die boodskap duidelik: Moenie verwag dat Jesus by jou gaan aansluit op jou lewensreis nie. Nee, die kans is goed dat dit ‘n vreemdeling gaan wees – iemand wat jy nie ken of vertrou nie. Iemand oor wie jy wantrouig is, soos ‘n Samaritaan vir ‘n Jood. Op sulke vreemde voete kom Jesus in ons huise en in ons lewens in.

Hierdie is geen romantiese verhaal nie. Inteendeel, dis ‘n verhaal met ontsettende implikasies.

Share this / Deel hierdie: