Kapeldiens: 17 Julie 2008, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria

Teks: 11:7. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem, en die ander Vereniging, en ek het vir die skape ‘n herder geword.

 

Tema: Herdersgereedskap maak of breek die wêreld.

 

Votum en seëngroet: Psalm 23

 

Liturg: Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde, na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Gemeente: Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Liturg: Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; u stok en u staf, dié vertroos my.

Gemeente: U berei die tafel voor my aangesig, teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Liturg (seëngroet): Mag sy goedheid en guns u volg, al die dae van u lewe, en mag u in die huis van ons Here bly, tot in lengte van dae.

 

Epiklese:

Here, ons is vanoggend bymekaar om U Woord te lees

en daaroor na te dink.

Dikwels begryp ons nie altyd wat ons lees nie – die taal is vreemd, en die gebeure is so ver verwyderd van ons.

Ons bid nou dat U deur u Gees die Woord vir ons oopmaak op ‘n manier wat ons kan verstaan,

dit naby aan ons vandag bring,

dat dit ons aanspreek, selfs dat dit ons ruk.

Here, kom ons brose menswees in ons worsteling met U woord tegemoet.

Amen

 

Skriflesing: Sagaria 11:4-17

Aankondiging van teks – vers 7: Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem, en die ander Vereniging, en ek het vir die skape ‘n herder geword.

Aankondiging van tema: Herdersgereedskap maak of breek die wêreld.

 

Preek:

Iemand het gesê: ‘Sagaria staan in die nag van tye.’ En ook ‘Hierdie herdersverhaal is een van die moeilikste gedeeltes in die OT.’

 

Hoekom is dit gesê? En hoe lyk hierdie ‘nag van tye’?

 

Die boek Sagaria is ‘n baie moeilike boek om te verstaan. Enersyds hou dit verband met die geskiedenis van Juda, andersyds het dit ‘n baie lang ontstaans- en ontwikkelingsgeskiedenis, en hoor ons die stem van meer as een Sagaria! Aan die begin ontmoet ons ‘n entoesiaistiese jong profeet wat drome droom en gesigte sien. Ag, as ons die tempel maar net kan herbou, as ons weer vir die Here ‘n huis bou, dan sal Hy terugkom, dan sal Hy weer tussen ons bly, het hierdie profeet gedroom.

 

Vanaf hoofstuk 9 is ‘n ander profeet aan die woord. Hy is ontnugter, somber, selfs depressief. En hy het rede om te wees! Die jong profeet kon die tempel onder die Persiese regering herbou, maar die goeie tyd het verbygegaan. Die ouer profeet lewe onder die bewind van die Grieke – en dit is nag.

 

Hoe lyk sy wêreld?

 

Die Grieke is onvriendelike oorheersers. Hulle dwing hul taal, kultuur en godsdiens op hul onderdane af. In die Judese binnekring, lyk sake ook nie te rooskleurig nie. Onder die priesters stry die Leviete en die Sadokiete met mekaar oor godsdienstige kwessies. Daarbuite sleep die Jode en Samaritane mekaar hof toe oor grondbesit.

 

Ons profeet lewe in ‘n spanningsvolle tyd – daar is binne- en buitelandse spanninge wat sorg vir ‘n plofbare situasie!

 

In hierdie ‘nag van tye’ word ‘n herdersverhaal vertel – maar een wat ons nogal ‘n bietjie omkrap. Die beeld ‘n bekend: in die OT is ‘herder’ dikwels ‘n metafoor vir ‘n leier. Dit kan ‘n menslike leier wees soos ‘n koning of ‘n profeet, of dit kan die Here wees – die Here is my herder – soos wat ons aan die begin van hierdie diens bely het. Ons profeet lewe in ‘n tyd waar Juda nie meer ‘n koning het nie – die verwysing na herder het dus waarskynlik betrekking op die volksleiers, die priesters.

 

Hulle maak nie juis ‘n goeie indruk nie! Alreeds in die vorige hoofstuk (10:3) ontvlam die Here se toorn teen hierdie herders, die leiers van sy volk. Dit is teen hierdie volksleiers wat ons profeet ook uitvaar – en hoe beskryf hy dit?

 

Die Here stel iemand aan om herder te wees vir sy slagskape. Nee, slagskape as sodanig is nie ‘n negatiewe beeld nie. Skape is aangehou vir hul wol en hul vleis – die lot van ‘n skaap was om geslag te word. Ons profeet is nie begaan oor die lot van die slagskape nie, maar wel oor die manier waarop daar met hulle gewerk word. Hul eienaars handel gevoelloos, gewetenloos, en sorg dat hulle genoeg voordeel uit die transaksie kry – en dan die uiterste vorm van skynheiligheid: hulle prys die Here as hulle op so ‘n manier ryk word.

 

Gewetenlose uitbuiting onder ‘n vrome dekmantel? Ken ons dit vandag?

 

Ons hoor van volksleiers wat hul mense gewetenloos uitbuit – nie te ver van hier nie. Bomme, terreuraanvalle. Sonder om politiek te praat, is daar genoeg spanning onder ons eie volksleiers. Sonder om in kerkpolitiek te verval, is daar uitermate spanning onder die kerkleiers van ons eie kerk.

 

Ons leef ook maar in ‘n ‘nag van tye’. God voel so oneindig ver…

 

2300 jaar gelede kry iemand die opdrag om in die ‘nag van tye’, in ‘n toestand van chaos en verwarring die leiding te neem. Om herder vir die kudde te word. Hy probeer sy bes en neem sy herdersgereedskap op – twee kieries. Dit is nie vreemd nie. Herders het meestal twee kieries gehad – ‘n stok en ‘n staf. ‘n Stok om die wilde diere weg te hou, en ‘n staf waarop hy kon leun as hy oor rotsagtige plekke agter sy skape aan moes klouter, of om stout skapies nader te hark wat weggedwaal het.    

 

Maar watter name gee hy sy twee kieries: Vriendelikheid en Vereniging.

 

Kierie Vriendelikheid is ‘n simbool vir die Here se liefde vir sy volk. Kierie Vereniging hoop op versoening tussen mense: liefde vir God, liefde vir naaste.

 

En vir ‘n kort rukkie gaan dit goed. Met Vriendelikheid en Vereniging in sy hand, raak ons herder sommer van drie slegtes ontslae. Na watter geskiedkundige gebeurtenis hier verwys word, is onseker. Dalk Joas, Jojakim en Jojagin – 3 konings wat mekaar in die Judese geskiedenis opgevolg het, of ‘n bietjie later, Ptolemeus I Soter, Seleukos I Nikator en Demetrios Poliorketes…hoe dit ookal sy, hulle waai!

 

Maar vir ons herder is die partytjie verby. Hy en sy skape raak uitgekuier met mekaar. Verhoudinge versuur. Hy raak ongeduldig met die skape, en hulle raak moeg vir hom. En nou reageer hy soos ‘n stout kind. Hy breek sy speelgoed. Eers breek hy sy kierie Vriendelikheid. Die implikasie is verreikend. Ons profeet wil vir ons hiermee vertel dat die verhouding met die Here ook verbreek is.

 

Maar dis nie die ergste nie. Die herder moet darem betaal word vir sy dienste. En wat is sy loon? 30 stukke silwer. Dis wat Moses (Ex 21:32) destyds as vergoeding bepaal het as jou bees iemand anders se slaaf of slavin doodstoot. ‘n Loon wat eintlik ‘n belediging is vir die dienste aangebied – soveel soos ‘n dooie slaaf of slavin. Hierdie loon steek die herder nie eens in sy eie sak nie. In opdrag van Here gaan smyt hy dit vir die pottebakker – of die metaalgieter – die ou wat in die tempel sit om goud en silwer te ontvang en dit op te smelt vir kultiese voorwerpe.

 

En dan breek die herder sy tweede kierie Vereniging. Waarskynlik dui hierdie verwysing op ‘n verskeuring in die Judese volk, politieke stromings tussen Jode, Samaritane, die Hasmoneërs, die Makkabeërs en wie weet nie wat nog alles nie. Maar die punt wat ons profeet wil maak, is: ‘n stukkende verhouding met God, het stukkende menseverhoudings tot gevolg.

 

Nou neem die storie regtig ‘n baie slegte wending. Die profeet kry opdrag om weer herdersgereedskap op te neem, maar die keer die van een wat alles verkeerd doen – ‘n dwase herder. Dwaas in die OT = goddeloos, iemand wat sonder God lewe en God se Wil aflag.

 

Hoe lyk die wêreld wanneer die goddelose herder leiding neem?

 

Die lot van die kudde is verskriklik, sê ons teks. Daar is geen mededoë met die hulpbehoewende diere nie, die wat nog staande bly, word ook nog uitgebuit.

 

En dit is die tema van vandag: ‘Herdersgereedskap maak of breek die wêreld’. Toe die herder die twee kieries Vriendelikheid en Vereniging in sy hande gehou het, het dit goed gegaan. Maar toe omstandighede moeilik raak, wou hy nie langer aangaan nie, en hy breek hy die kieries. Toe gebeur hierdie verskriklike ding: nie die wil van God nie, maar die wil van mense geskied: ekstreme uitbuiting van die weerloses.

 

Is dit waar dit eindig? Ook in ons wêreld? Ook hier waar ons vandag om ons rondkyk en ‘n hele klomp dwase herders kan identifiseer? Moet ons aanvaar dat ons in ‘n goddelose wêreld lewe, ‘n wêreld sonder hoop? ‘n wêreld sonder God?

 

Binne hierdie ‘nag van tye’ laat ons teks tog ‘n klein stukkie hoop flikker. Die goddelose herder se tyd van skrikbewind is beperk, sê die laaste verse van hierdie somber verhaal vir ons. Mag ‘n swaard die slegte herder se oog en arm tref sodat hy nie kan sien of in staat kan wees om te verwoes nie. Mag God hierdie toestand van onheil nie langer laat voortduur nie.

 

Hoe is dit moontlik?

 

In die geskiedenis van Juda het verskillende herders opgetree, voor ons droewige profeet, en ook na hom – sommige goed, sommige goddeloos. Die bekendste van die ‘goeie herders’ is waarskynlik Jesus Christus, wat hierdie twee kieries in sy hande vasgehou het: liefde vir God, diens vir sy medemens, veral die swakkes en verworpenes in die samelewing. En toe word Jesus gekruisig – maar is dit waar dit eindig? Is dit genoeg?

 

Slot:

Die kieries van herders word van geslag tot geslag oorgedra. Jesus het sy kieries van goeie herders voor Hom ontvang, en dit oorgegee aan sy dissipels. Sommige het soos die dwase herder besluit om die kieries te breek, met tragiese gevolge. Ander het wel vasgebyt, en hier en daar, te midde van ‘n samelewing wat skreeu van magsmisbruik, gesinsgeweld, liefdeloosheid en hartseer, iewers ‘n wrede aanval afgeweer, of ‘n moedelose vriend getroos.

 

Wat maak ek en jy met ons kieries?

 

Gebed:

Here ons Herder,

Maak van ons, u skape nou herders soos wat U ‘n Herder was,

help ons om te vertel van U vriendelikheid

help ons om vir mekaar om te gee.

Here, as ons soms ongeduldig raak en ons kieries breek,

vergewe ons tog.

Gee ons krag om reg te maak waar ons verkeerd gedoen het.

Maak ons oë oop om nood raak te soen,

Maak ons hande gewillig om uit te reik waar ons kan. Ons bid vir ons land in hierdie tyd.

Ons bid vir ‘n wêreld wat in die nag van tye staan.

Here, gee ons krag om herders te wees in ‘n stukkende wêreld.

Amen.

Share this / Deel hierdie: