Orrelvoorspel

 

Lied 280: 1-3

Here, Redder, groot en magtig,

U oorskou ons lewenspad.

In u liefde en genade

het U ook my hand kom vat.

Heer, u leiding bring bevryding –

U het ook my hand kom vat.

U het ook my hand kom vat.

 

U, my Redder, groot en magtig,

U het my ook raakgesien.

Ek is feilbaar, swak, onseker,

tog wil ek U dankbaar dien.

God, my Here – U is Here:

Vas kan ek op U vertrou,

vas kan ek op U vertrou.

 

Lei my, Heer, na dié bestemming

in u Woord my opgedra.

Laat my leef en werk met vreugde

want dit sal volharding vra.

Heer, u lyding bring bevryding:

Al ons skuld het U gedra,

al ons skuld het U gedra.

 

 

Voorganger:   Laat al wat leef Hom dank en prys

Gemeente:     Laat al wat leef Hom dank en prys

 

 

Lied 214:1-3

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

U Naam sal ons eer, almagtige Heer,

want U het wonders gedoen.

 

Here, ons sal U loof. U het ons verlos,

uit duister bevry; ons harte verbly –

dit het u lewe gekos.

 

Here, ons sal U loof, u weldade roem.

Dis U wat voorsien, ons wil U graag dien

en U ons Vader noem.

 

 

Voorganger:   Ons groet mekaar in die Naam van

die Here, Jesus Christus

Gemeente:     Amen

 

 

ONS LOOF DIE HERE

 

Lied 219:1-2 (staande)

Laat ons sing van ons Verlosser,

Hy wat wys hoe liefde lyk.

Deur sy kruisdood het die Here

self sy hand na ons gereik.

Sing, o sing van ons Verlosser,

aan die kruis het Hy gely.

Deur sy dood bring Hy versoening,

van ons skuld maak Hy ons vry.

 

Laat ons praat met almal om ons

oor die hoop wat in ons leef.

Jesus Christus het in liefde

al ons sonde ons vergeef.

Sing, o sing van ons Verlosser,

Hy oorwin die dood en hel.

Ons het deel aan sy oorwinning,

oral wil ons dit vertel.

 

Laat ons sing oor Hom wat t’rugkeer

aan die einde van die tyd:

“Bruidegom, die bruid verwag U:

altyd tot u lof bereid.”

Sing, o sing van ons Verlosser,

Hy kom trug, Hy maak ons nuut.

“U, die Heerser oor die wêreld,

Seun van God, o hoor ons lied.”

 

 

ONS VEROOTMOEDIG

 

 

Voorlesing:    Matteus 5:3-12

 

 

Lied 247         (herhaal x3)

Heer wees ons genadig,

Christus wees genadig,

Heer wees ons genadig.

 

Kyrie eleison,

Christe eleison,

Kyrie eleison.

 

 

ONS BELY ONS GELOOF

 

 

ONS HOOR DIE WOORD

 

Gebed           Voorganger

 

Skriflesing:

Mark 1:1; 9-15

Matt 1:1,2; 17

Luk 3:23, 38

 

Boodskap     WANNEER DIE GELOOFSGEMEENSKAP         

SE TEMPEL VERWOES WORD …

 

Preek

“Daar was nie iemand soos Noag, sê Prof” – Dit was die koerantadvertensie teen die lampale die afgelope week. Almal het al gewonder oor die praktiese uitvoerbaarheid van die ark met al die diere daarin en daarom oor die feitelikheid al-dan-nie van die Noag-verhaal. Nogtans bring die terloopse uitspraak van Prof Esterhuyse by Aardklop weereens die onsekerheid van baie lidmate na vore. Ek wil nie oor die Noagverhaal preek vanoggend nie. Ek dink ook nie dis nodig nie, want ek glo dat u as ‘n ingeligte gemeente met goeie predikante lankal weet dat Genesis 1-11 nie beskou word as geskiedenis nie, maar as verhale wat die oergeskiedenis van die mens vertel. Dis ‘n belydenis van Israel in die tyd van die Ballingskap, of later, oor hoe  hulle hulle eie bestaan verstaan in verhouding tot God en die omringende wêreld. Daarom is prof Willie Esterhuyse heeltemal reg.

 

Waarby ek wil aansluit is die algemene ontreddering wat gelowiges ervaar, waarvan hierdie weer ‘n voorbeeld is. Die vrae wat opkom by mense is legio. As die Noagverhaal nie meer ernstig opgeneem moet word nie, want kan en moet dan nog ernstig opgeneem word. Dis nie nuwe vrae nie, maar ons leef in ‘n tyd van inligtingsontploffing. Dit sluit ook teologiese inligting in. Wat mens vroeër net iewers in ‘n donker biblioteek kon oplees, word nou op almal se brood gesmeer, soos nou weer met hierdie plakkaat gebeur.

 

Ons is soos ‘n groep mense wie se hele lewe rondom die tempel georganiseer is, wie die sin van hulle bestaan in die tempel gevind het en nou begin die tempel krake vertoon en begin in mekaar tuimel.

 

Daarom vertoon ons lewe nogal ooreenkomste met die geloofsgemeenskap van rondom 70 nC toe die Tempel in Jerusalem verwoes is. Die tyd toe die Evangelies geskryf is.

 

Volgens die nuutste datering, is die drie Sinoptiese Evangelies (sinoptiese – die met dieselfde siening) in die 20 jaar tussen 70 en 90 nC geskryf – ongeveer 40 jaar na die kruisiging. Johannes het nog later, moontlik selfs na 90 tot stand gekom.

 

  • Markus het, volgens Bybelwetenskaplikes teen ongeveer 70 nC die lig gesien. 70 was die jaar waarin die tempel van Jerusalem verwoes is.  Van 66- 73 nC het die Jode betrokke geraak by ‘n ongelukkige verloorstryd teen die Romeinse owerheid. Die laagtepunt vir die Jode was toe die Romeinse legioene, onder Titus, in 70 nC die stad Jerusalem ingeneem het en die heilige tempel met die grond gelykgemaak het. Dit moes vir die Jode en die vroeê Christene ‘n ontsettende ervaring van verlies gewees het. Byna iets soos die 9/11 gebeure in NY. Alhoewel die Christene hulleself reeds duidelik apart van die Judaïsme georganiseer het, is daar ook aanduiding dat hulle hulself nog baie nou verbonde gevoel het met die sinagoge en tempel. Hulle het aan hulleself gedink as die ware Israel.

 

Met die tempel wat verwoes is en die Jode wat verneder is, word die Markus Evangelie geskryf om die lesers daaraan te herinner dat hulle op die God van Eksodus moet vertrou – die God wat redding bewerk in die oomblik van die grootste nood. Al is die tempel verwoes, al is Jesus gekruisig, God maak weer ‘n nuwe begin. Daarom word die grootste deel van die Markus Evangelie aan die lyding en kruisdood van Jesus gewy. Markus se Evangelie is eintlik net ‘n uitgebreide kruisigingverhaal. En so word die kruisboodskap aangebied as God se woord in die donkerste uur. ‘n Boodskap van hoop en nuwe lewe wat juis voortspruit uit die diepste vernedering. Jesus is die eintlike tempel wat verwoes is en wat weer in drie dae opgebou is. Daar is hoop.

 

  • Maar ‘n dekade of twee later, is die verwoesting van die tempel nie meer die oorheersende  nie. Nou begin vrae oor die toekoms van hierdie nuwe groeiende Jesusbeweging sterker na vore tree. Onthou die evangelie van Jesus het intussen veral onder leiding van Paulus ‘n wêreldbeweging geword en daar is nog steeds verskil oor of dit hoofsaaklik Joods moet ontwikkel en of die boodskap ook op die nie-Jode gerig moet word?

 

Nou skryf Matteus en Lukas hulle evangelies. 10-15 jaar na die verwoesting van die tempel, beskik hulle oor Markus se weergawe. Dit word gereeld in die Sinagoge gelees, maar hulle het behoefte aan iets meer. Waarheen nou? Is die Evangelie van Jesus vir ‘n spesiale klein groepie – die ware Israel, of moet hulle anders daaroor dink? Dit is interessant dat beide dit nodig vind om iets vooraan die Evanglie van Markus by te voeg. Van hoofstuk 13 af volg Matteus grootliks die Markusteks, en van die 8ste hoofstuk af volg Lukas ook vir Markus. Maar hulle sit die geboorteverhale vooraan. As dit nie vir hulle was nie het ons nie ‘n Kersevangelie gehad nie. As deel van die geboorteverhale gee beide ook ‘n geslagsregister.

 

Mens sou kon sê dat in die midde van die krisis toe Markus skryf, is daar net tyd en energie om die krisis self aan te spreek en dit doen hy met die lydingsverhaal van Jesus. Dis ‘n kort, ekonomiese evangelie. Maar nou is daar ander vrae, vrae oor identiteit, menswees en Christenwees in ‘n groter wêreld. Daarom is die geboorteverhaal van Jesus nou relevant en daarom word die geslagsregisters nadergetrek om te toon waar hierdie groep mense inpas.

 

Matteus anker syne baie duidelik binne die Joodse tradisie met ‘n geslagsregister wat by Abraham begin.

 

Lukas begin syne nie by Abraham nie, maar by Adam.

 

Matteus beklemtoon Jesus se Joodsheid terwyl Lukas sy mensheid beklemtoon. Matteus sê dat net soos die Jode uit die Egiptiese slawerny verlos is, so is die kindjie Jesus ook uit Egipte teruggebring om in Galilea en Nasaret sy taak te vervul. Daarom sluit Matteus ook aan by die Wet van Moses (Bergpredikasie).

 

Lukas sê Jesus is ‘n kind van Adam en plaas sy geboorte onmiddellik binne die groter konteks van keiser Augustus. Dit is ook Lukas wat die verhaal van die 10 melaatses wat genees is vertel en dan meld van slegs een wat dankbaar teruggekom het. En hy was ‘n Samaritaan. Dit is ook Lukas wat die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel. Matteus gee die Joodse aksent en Lukas die universele aksent.

 

Ek wil nie ons situasie vandag gelykstel aan die tweede geslag Christene van ongeveer 70 nC nie. Tog is daar ooreenkomste in die sin dat ons ook soos mense is wie se tempel verwoes is. Al die godsdienstige strukture, die kerk met sy duidelike stem, die teoloë wat oor niks twyfel nie, die moreel-etiese norme wat bo verdenking staan, die Bybel wat net op een regte manier verstaan en gepreek word – alles is besig om te verkrummel. Die tempel as metafoor, as simbool van sekerheid en van God se teenwoordigheid, is meteens nie meer daar nie. In so ‘n situasie moet ons weereens mooi luister na die boodskap van die eerste drie evangelies vir ons.

 

Markus wys vir ons dat die krisis juis die saad word waaruit die nuwe gebore word. Uit die donkerte van die kruis kom die nuwe lewe. Die uitkoms is daar waar jy dit die minste verwag. God se oorwinning is van ‘n vreemde aard, dis ingebed in die kruis, in die lyding, in die vernedering. Dis is asof Markus vir ons wil herinner om nie te val vir ‘n goedkoop suksesteologie nie. Ons moet die gemeente gedurig daaraan herinner dat God hulle nie op die gladde suksespad ontmoet nie, maar daar waar Hy skynbaar afwesig is, daar waar jy moet roep: My God, my God, waarom het u my verlaat”. Die kerk het behoefte aan dominees wat nie net vir mense in krisistye vertel dit sal weer beter gaan nie, maar hulle help om daar waar alles donker is, God se teenwoordigheid te ontdek.

 

Matteus leer ons dat die antwoord in die bekende boodskap te vind is. Nie op ‘n ander plek nie. Die verhaal van God met Abraham, Isak en Jakob, voorsien die antwoord op al die vrae. Ons hoef nie op vreemde plekke te gaan soek nie.  Al het ons kritiek op die kerk en vrae onsself ook baie vrae, kan ons mekaar en die gemeente weer en weer herinner dat die antwoorde in ‘n herontdekking van wat ons ontvang het, lê. Ons hoef nie verward na vreemde leringe en idees te begin gryp nie.

 

Lukas se boodskap is dat hierdie nuwe begin nooit kan plaasvind as daar net na binne gekyk word en bekrompe vasgehou word aan die bestaande nie. Die vreemdeling moet nie net ontvang word nie, maar gesien word as die gestuurde van God wat ook die sleutel tot die oplossing en vernuwing dra. Julle sal onthou dat dit juis Lukas is wat die Emmaus-verhaal vertel waar die Here Jesus as ‘n doodgewone vreemdeling kom saamloop en eers as hulle hom innooi en toelaat om gasheer binne-in hulle eie huis te speel, kom die ontknoping. Dit is ook Lukas wat vir ons leer dat die ware barmhartige ‘n Samaritaan, die vreemdeling was. Ek is amper bang om te vra wie vandag vir ons die vreemdeling is – dalk die Moslem, die Boedhis?

 

In ‘n tyd van onsekerheid en identiteitskrisis is daar altyd die maklike populêre oplossings wat aangebied word. Dis rondom ons. Sommige dink die antwoord lê in ‘n eenvoudige slagspreuk langs die paaie, soos “SA turn to God”, ander gryp krampagtig vas aan ‘n letterlike lees van die Bybel soos om te probeer bewys dat dit wel moontlik was om al die diere in die ark in te pas en dat daar selfs twee baba dinosourusse in was.

 

Ek hoop dat u saam met my ‘n heeltemal ander soort respons by die Drie Evangelies hoor.

 

  • Markus sê moenie probeer om julle eie tempel weer op te bou nie. Vind rus daarin dat God sy eie Tempel in drie dae opbou. Moenie dink julle moet julle eie redding, ook die redding vir julle godsdiens bewerk nie. Vertrou liewer op God wat in die midde van die krisis verskyn.

 

  • Matteus sê moeie twyfel aan wat aan julle oorgelewer is nie. Moenie gryp na die nuwe populêre oplossings nie. Hou maar net vas aan die God van Abraham, Isak en Jakob.

 

  • Lukas herinner ons daaraan dat die kerk nooit ‘n klub kan wees waar ons almal net tevrede met mekaar is nie. God infiltreer elke keer weer die veillige kringetjie wat ons vir ons self skep in die gedaante van die vreemdeling.

 

 

ONS ANTWOORD

 

Gebed

 

Dankoffers

Lied     284:1-3

Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

waar haat is, laat my daar u liefde bring

Laat my  in pyn en smart vertroostend wees

en krag gee deur geloof in U, o Heer.

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag.

Ja, om lief te hê  – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

 

Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

en laat my hoop gee waar daar twyfel is.

ek wil u lig in duisternis laat skyn.

Laat ware vreugde altyd uit my straal.

O Heer, help my om altyd so te leef –

om ander hoër as myself te ag.

Ja, om lief te hê  – ander bo myself –

en ook eerder te gee as te verwag.

 

Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

leer my om ook soos U te kan vergeef.

Maak my bereid om aan myself te sterf,

dat ander U al meer in my kan sien.

 

ONS ONTVANG DIE SEëN

 

Voorganger:

Die Here sal julle seën en julle behoed

Die Here sal julle genadig wees

Hy sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee.

 

Gemeente:     Amen…

 

 

Gepreek in Waterkloof-gemeente (NG Kerk), 4 Oktober 2009.

Share this / Deel hierdie: