Teks: Johannes 13:1-17

Liewe Vriende,

vandag – met hierdie viering op Heilige Donderdag – betree ons die Paas-Triduum, die drie belangrikste dae in die Christelike liturgie. In sommige dele van die wêreld word hierdie dae nie meer as ‘heilige dae’ beskou nie – dis blote ‘vakansiedae’. Ons, daarenteen, handhaaf ‘n ou tradisie wat nog nie sy skoonheid en betekenis verloor het nie, veral vir diegene wat nadink oor die belangrikste dinge in die lewe: vriendskap, diens en opoffering.

Kom ons bely ons tekortkominge – en vertrou op God se genade en vergifnis:

Jesus, u geliefde Seun, het Homself vir ons verneder, en gehoorsaam die dood aanvaar – Here, God, vergewe ons ons selfsug…

Jesus, tydens die Laaste Maaltyd, het Hy die brood geneem, en toe Hy die seën uitgespreek het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee – Here God, vergewe ons ons gebrek aan gemeenskaplikheid…

Jesus het sy opdrag getrou uitgevoer tot die bitter einde aan die kruis – Here, God, vergewe ons ons gebrek aan vertroue in voorsienigheid en hulp…

Skriflesing: Johannes 13:1-17

Liewe Susters en Broers,

Miskien het u al die gesegde gehoor: ‘Die beste mense gaan eerste dood’. Dikwels is dit ‘n soort oppervlakkige uitspraak sonder veel diepte of betekenis. Maar miskien ken u gesinslede, vriende, familie, gemeentelede op wie hierdie gesegde wel van toepassing is. Twee jaar gelede is twee van my vriende en ‘n familielid tussen 18-20 jaar oud oorlede, en verlede jaar ook ‘n baie spesiale vriend wat so hard in Jerusalem gewerk het om die Jode en Palestyne te versoen. Al hierdie gebeure het aanleiding gegee tot enorme droefheid, frustrasie en pyn. Wat is die doel en betekenis dat iemand so jonk en so vroeg in die lewe moet sterf? Maak dit sin? Hoekom word lewe vernietig in plaas daarvan dat dit groei en vrugte dra?

Jesus, een van die beroemdste mense in die geskiedenis van die mensdom, het ook betreklik jonk gesterf (ongeveer op dertigjarige ouderdom) op ‘n verskriklike en wrede manier. Hy is deur die Romeinse owerhede gekruisig. Sommige van u wat van ver kom, het ook reeds die groot magte van globale spelers ervaar, asook die pyn van individue wat veg vir ‘n beter wêreld vir die armes en onderdruktes.

Watter soort mens sou Jesus gewees het as Hy as ‘n belangrike Joodse rabbi gesterf op die ouderdom van – sê maar 85? ‘n Godsdienstige leier omring deur sy naaste vriende, terwyl Hy sy laaste opdragte gee voordat hy in sy bed heengaan? Wel, die opdragte sou miskien dieselfde wees, maar die drama en die opoffering sou ontbreek. Ten minste, in sy geval was dit waar – die beste mens het jonk gesterf!

Wanneer mense jonk sterf, hoor ons dikwels die opmerking: hy/sy wou nog soveel dinge gedoen het! Ek het myself afgevra: is dit ook waar in die geval van Jesus? Het Hy nog ander projekte gehad wat Hy moes afhandel? Het daar iets oorgebly wat Hy definitief voor sy dood sou wou klaarmaak?

Of vra ons onsself: wat sou ons doen as ons slegs 24 uur oor het om te leef? Hou ‘n partytjie? Bly by my man/vrou en kinders? Word dronk? Of gaan liewers kerk toe en bely my sondes voordat die einde aanbreek?

So wat het Jesus gedoen? Al die evangelies, veral die evangelie van Johannes waaruit ons Skriflesing gekom het, beklemtoon dat Jesus geweet het sy uur het gekom (13:1). Sy lot het Hom nie oorval nie, maar Hy het ‘n belangrike rol in die finale oomblik gespeel. Hy het geweet dat sy tyd aangebreek het om na die Vader toe terug te keer en ook dat dit op ‘n baie wrede manier sou gebeur. Almal in Palestina het mense gesien wat deur die Romeine gekruisig is – in daardie dae het dit amper elke dag gebeur. En almal het geweet dat die dood stadig en uitgerek was, ure, soms dae van uiterste pyn. Jesus was ook nie ‘n soort held wat sy dood sonder die geringste huiwering aanvaar het nie. Hy het gebid, bloed gesweet – en gesterf met die kreet: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’

Die dag voor sy kruisiging het Hy geweet dat Hy amper alles gedoen het wat Hy moes. Maar hoe was dit moontlik dat Hy sy opdrag in die kort tydjie van maksimum drie jaar kon voltooi? Ek dink dis omdat hy so besonder intens gelewe het. Die evangelies skep die indruk dat Hy elke minuut, elke uur benut het om te onderrig, te genees, te preek, en te bid. Vandag sou hy ‘n hele klomp mense nodig gehad het om sy program te bestuur. Ons kry ‘n vlugtige blik op hierdie gedrewe lewe as sy dissipels probeer ontslae raak van die moeders wat hul kinders na Jesus toe gebring het. Hy het nooit gekla oor ‘n tekort aan tyd nie – in plaas daarvan het Hy gesê: elke dag dra sy eie las!

Maar toe Hy geweet het dat sy uur aangebreek het, het Hy baie goed geweet dat daar nog een ding is wat Hy moes doen: ‘Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen’ (Joh 13:15). Hy wou saam met sy naaste vriende die Laaste Maaltyd vier (volgens die sinoptiese evangelies ‘n Joodse Pasga-maaltyd, volgens die Johannes-evangelie ‘n laaste maaltyd tussen vriende die dag voor die Pasga). Hierdie maaltyd en die Joodse simboliek daarvan – die nag toe die engel verby gegaan het (die Pasga) en daarmee saam die bevryding uit slawerny – het ‘n spirituele tradisie geskep wat vandag nog blywend is. In die simboliek van die brood wat gebreek word en die beker wyn wat ons deel, gee Jesus sy eie en blywende interpretasie van sy bestaan. Tot die dood gebroke voed Hy die wêreld, terwyl ons die vrug van die wingerd drink, kry ons deel aan die belofte van ewige vreugde.

Soos u sekerlik weet vertel die Johannes-evangelie van Jesus wat die voete van sy dissipels was daar waar die ander evangeliste die instelling van die Nagmaal beskryf. Johannes wou ‘n baie spesiale boodskap by die Kerk inskerp, want in die eerste dae van die vroeë Kerk het die gevaar bestaan dat Jesus se opdrag van diens en diensbaarheid vergete kon raak. Die simbool van vriendskap en vreugde het gevaar geloop om te verander in ‘n instrument van oorheersing en mag. Jesus se beste vriende het besonder intens meegeding om die eerste plek. Omdat Jesus dit goed geweet het, het Hy vir hulle en vir ons ‘n voorbeeld gestel: Hy het die voete van ander gewas, iets wat slawe in daardie tyd gedoen het. Dit het Hy gedoen in sy laaste ure van vryheid. Dit is wat Hy nog moes doen. ‘n Mens moet baie sterk wees om iemand anders op so ‘n manier te dien. Die slaaf is die meester en die lydende kneg is die Seun van God! Dit is en was ongehoord!

Al ons studies, onderrig, lees en skryf sal absoluut nutteloos wees as ons die les vergeet wat Jesus ons die dag voor sy dood geleer het: nederigheid en diensbaarheid is nie tekens van swakheid nie, maar van sterkte as dit vrywilliglik geskied. Slegs diegene wat gee, sal ontvang – slegs diegene wat deel, het God as Vriend.

Gebed:

Almagtige en Ewige God,

u Seun, ons Here Jesus Christus, het nie gehuiwer,

toe Hy verraai is, om sy lewe vir die sondes van die wêreld te gee nie.

Laat ons leer uit sy lyding,

maak ons ook deel van sy opstanding.

Ons bid in die naam van Jesus, ons Here,

Amen.

Die Here is met u – en ook met u.

Mag die Almagtige God die Vader, Seun en Heilige Gees u almal seën.

Amen.

Laat ons in vrede gaan – aan God die dank.

[Gepreek op Wit Donderdag (2002) by die Fakulteit Teologie, Radboud Universiteit Nijmegen (Nederland).]

Prof.dr. Ulrich Berges is professor in Ou Testament aan die Westfälische Wilhelms-Universität Münster (Duitsland).

Share this / Deel hierdie: