Inleiding

Die mens word van die dier onderskei deur die vermoë om te kan praat, om deur middel van spraak te kommunikeer. Natuurlik is daar ander wyses van kommunikasie – die beeldende kunste, musiek, dans, ensovoorts – maar spraak, direkte dialoog, is die primêre manier waarop mense met mekaar kommnikeer en wat verhoudings bepaal. Spraak het egter nie net met menslike kommunikasie te make nie. In die Bybel speel spraak ‘n belangrike rol in die wêreld van profesie en in mense se gebede en versugtinge om met God te kommunikeer, en om ‘n verhouding met Hom te bepaal. Om te kan praat, is eie aan die mens, definieer die mens as mens, help die mens in sy verhoudinge met ander mense en met God.

In die Ou Testament is daar egter twee gevalle waar diere praat, naamlik die slang in Genesis 3, en die donkie in Numeri 22:28-30. G Savran het hieroor geskryf met die titel ‘Beastly Speech’ (sien bron aan die einde van die artikel), en die belangrikste insigte gaan vervolgens uitgelig word.

Die pratende slang en die pratende donkie

Die twee verhale van die pratende slang en die pratende donkie is bekend. Die slang tree op in Genesis 3 waar hy die vrou op ‘n baie slinkse manier verlei om van die verbode vrug te eet. Op haar beurt verlei sy die man en die uiteinde van die saak is dat hulle die ewige lewe verloor en uit die Tuin verban word. Die donkie – ‘n eselin – behoort aan Bileam, blykbaar  ‘n bekende waarsêer of siener wat deur Balak, die koning van Moab gehuur word om Israel te vloek terwyl hulle deur die woestyn trek. Tydens sy laaste reis na die koning, verskyn daar ‘n hemelse boodskapper met ‘n vlammende swaard wat die weg versper. Die donkie sien die gevaar en draai telkens uit, maar Bileam is onbewus van die hemelse boodskapper se teenwoordigheid. Elke keer as die donkie uit die pad gaan, slaan hy haar genadeloos. Wanneer sy uiteindelik begin praat, sien hy ook die hemelse wese en besef dat die donkie eintlik sy lewe gered het. Die uiteinde van hierdie verhaal is dat Israel geseën en nie vervloek word nie.

Die parallelle tussen Genesis 2-3 en Numeri 22-24

As ‘n mens aan die geykte wyse dink waarop bonatuurlike gebeure soms in die Hebreeuse Bybel aangekondig word, soos byvoorbeeld profetiese orakels, is die manier waarop die slang sowel as die donkie praat, verrassend natuurlik. Die dialoog tussen die slang en die vrou kon netsowel ‘n gesprek tussen twee mense gewees het wat die moontlikhede en gevolge van die eet van die verbode vrug oorweeg. Ook die retoriese vrae wat die donkie aan Bileam stel, is redelik en vereis ‘n redelike antwoord: sy is ‘n onderdaan wat onbillik deur haar baas behandel word, en sy soek ‘n rede. Dialoog tussen mens en dier is gemaklik, en die buitengewone talent van die pratende diere word nie deur die mens bevraagteken nie. Albei die slang en die donkie maak van vraagstelling gebruik om die mens tot ‘n bepaalde insig te bring – maar juis hierin lê die verskil.

Die verskille

Vrae

Die slang verdraai doelbewus die woorde in goddelike gebod in Genesis 2:16-17 – God het hulle nie al die bome in die tuin verbied nie (Gen 3:1), slegs die een boom. Hy verwar die vrou, sy moet verduidelik, en daardeur versterk hy sy argument. In die lig van die versoeking, oortuig hy haar dat die beloning groter as die straf sal wees. Sy gee uiteindelik toe aan die slang, verontagsaam God se gebod en eet die verbode vrug. Daarenteen is die donkie se vrae aan Bileam eerlik en opreg: hoekom het hy haar drie keer geslaan, en verdien sy dit na soveel jare se getroue diens? (Num 22:28-30). Waarop Bileam ‘n eenvoudige ‘nee’ antwoord. Daarna kan Bileam beslis al Balak se goud en silwer en ander belonings van die hand wys, en word hy hoegenaamd nie deur al die geskenke versoek nie.

Bron van spraak

Verder is dit belangrik om die bron van die diere se verbale vermoëns in gedagte te hou. Die slang praat uit sy eie. Die enigste moontlike verklaring is dat hy ‘slimmer/listiger’ as al die ander diere is wat die Here God gemaak het (Gen 3:1). Met sy sprake bedoel die slang egter om te ondermyn, om die hiërargiese orde van die Skepping uit te daag, en om die mens aan God gelyk te stel deur ‘kennis’ van goed en kwaad te bemiddel. Wat die donkie betref, kom die gawe van spraak vanaf JHWH. Hy open haar mond (Num 22:28) en daarna praat sy met Bileam. In Bileam se geval word hy van ‘n hoër gesag bewus gemaak voor Wie hy moet buig en aan Wie se wil hy homself moet onderwerp.

Op ‘n dwaalspoor

Albei diere lei die mens op ‘n dwaalspoor – die slang figuurlik en die donkie letterlik. Die slang mislei die mens doelbewus, en die resultaat daarvan is dat die mens die ewige lewe verloor. Aan die einde van die slang-episode word die mens uit die Tuin verdryf, en die Tuin word bewaak deur hemelse wensens (gerubs) met flikkerende swaarde om te verhoed dat die mens ooit weer toegang tot die ewige lewe kan verkry (Gen 3:24). Daarenteen red die donkie die lewe van haar baas. Met haar vraag bedoel sy nie om te mislei nie, en sy red haar baas van die hemelse boodskapper en sy vlammende swaard (Num 22:32-34).

Dus: die slang se spraak ondermyn goddelike gesag en verander die gehoorsame mens tot ongehoorsame en rebelse skepsel. Die donkie se spraak erken hoër gesag, dié van haar baas ofskoon sy sy optrede bevraagteken, en maak hom van ‘n nóg hoër gesag bewus – die van die Here, die God van Israel. Bileam verander van die ‘heidense’ waarsêer tot ‘n gehoorsame profeet van JHWH.

Seën en vloek

Seën en vloek is belangrike temas in die slang- en donkie-narratiewe. In die Tuinverhaal word die perfekte Skepping deur die slang se toedoen vernietig. Hierdie vernietiging word konkreet uitgestippel deur die reeks vloeke wat in Genesis 3:14-19 uitgespreek word: daar sal vyandskap wees tussen mens, medemens, dier en natuur. Uiteindelik word die mens vanuit die heilige ruimte, die plek van stabiliteit en geborgenheid verban om haweloos en weerloos rond te swerf.

Presies die teenoorgestelde gebeur in die Bileam-verhaal. Israel is steeds besig met die uittog, haweloos en weerloos en omring van vyande deur wie se land hulle moet trek en dreig om hulle te vernieting. Nietemin is hulle op pad na ‘n permanente bestemming – die Beloofde Land. Bileam, wat veronderstel was om Israel te vloek, word deur sy donkie gered, en daarna verander sy vloek in ‘n reeks seëninge: beloftes van vooruitgang, geborgenheid en militêre sukses.

Visie en begrip

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘sien’ wat op gewone menslike sig dui, en ‘om die onsienbare te sien’ wat op sig of insig in die bonatuurlike wêreld betrekking het. Hierdie onderskeid word deur die slang- sowel as die donkie-narratief gehandhaaf, en daar is ooreenkomste maar ook weereens verskille.

In Genesis 3 word ‘kennis van goed en kwaad’ voorgehou as sien/insig in God se terrein en is daarom vir die mens verbode terrein. Die enigste manier om kennis te bekom, is deur te oortree wat God verbied het, naamlik om van die verbode vrug te eet. Wanneer dit gebeur, ‘gaan die mens se oë oop,’ maar wat hulle ‘sien’, is ietwat van ‘n onaangename verrassing: hulle ‘sien’ slegs dit wat voorhande is: dat hulle naak is, en besef dat hulle hulself moet bedek. Hul ‘kennis van goed en kwaad’ bring hulle tot die besef van hul menslike beperkings, menslike onderskeidingsvermoë, miskien selfs menslike moraliteit: nou moet hulle die gevolge van hul dade dra. In die proses van ‘kennis’ bekom, het hulle ‘n vloek oor hulself gebring, hulle het hulle van God vervreem en dit is die rede waarom hulle uit die Tuin verdryf word.

Die Bileam-narratief het ook te make met ‘sien’ en om die ‘onsigbare te sien’. Ook in hierdie verhaal is dit ‘n mens, Bileam, wat slegs waarneem dit wat hy op die oppervlak kan sien. Sy donkie, ‘n dier wat oor die algemeen as ‘n steeks en onnosel dier bekend staan, ‘sien’ dit wat in werklikheid teenwoordig is: die hemelse boodskapper met die vlammende swaard. Dit is uiters ironies: die ‘siener’ wat veronderstel is om die onsigbare te sien, sien nie; ‘n dom dier sien ‘n hemelse wese. Nog meer ironies, die donkie ‘sien’ vanself, asof dit haar natuurlike instink is, maar die ‘siener’ se oë moet deur die Here geopen word.

‘Sien’, kennis in die Genesis-verhaal kom tot die mens se beskikking deur ongehoorsaamheid en deur oortreding van die Here se gebod. Vir Bileam lei die ‘sien’ van die hemelse boodskapper tot erkenning van sy sonde, gevolg deur gehoorsaamheid en doen wat die Here wil hê hy moet doen.

נָחָשׁ – nhš – slang, divinasie

Dit is besonder insiggewend dat daar een woord is wat in Genesis 3 sowel as in Numeri 22-24 voorkom, en dit is die Hebreeuse woord נָחָשׁ. In Hebreeus kan hierdie woord twee betekenisse hê, naamlik ‘slang’ of ‘towery/divinasie’. Op literêre en grammatikale vlak, sou ‘n mens dit as homonieme kon beskryf – een woord met verskillende en onverwante betekenisse. Enersyds is dit waar: in Genesis 3 kan נָחָשׁ slegs ‘slang’ beteken, en in Numeri 22-24 kan dit slegs ‘towery’ beteken. Maar op teologiese vlak kan ‘n mens tog ‘n verband lê in die sin dat die twee verhale albei iets wil sê oor die verhouding tussen die wêreld van God en die wêreld van die mens.

In ‘n vorige teo-artikel het ek oor ‘divinasie’ in die ou Nabye Ooste geskryf – dit is die maniere waarop mense insae in die gode se wil en gode se planne vir die toekoms wou kry. Hulle het allerlei dinge gedoen, soos byvoorbeeld om olie op water te gooi en na die patrone te kyk, om wierook te brand en te kyk hoe die rokie trek, of om diere ritueel te slag en voortekens in die organe soos die lewer te lees. Die idee was nie net om die toekoms te voorspel nie, maar ook om die gode te manipuleer. As daar onheilspellende voortekens was, kon die gode op allerlei maniere gapaai word om teenspoed af te weer. Hierdie praktyke is ten sterkste in Israel afgewys. God se wil is vir die mens verborge en daar is geen manier waarop Hy gemanipuleer kan word nie. As Hy sy wil bekend maak, is dit Hy wat inisiatief neem deur byvoorbeeld met konings, priesters, profete of gewone mense te praat. Divinasie – menslike insette om die wil van God te ken – was in Israel verbode.

Dit is egter presies wat die slang doen. Hy prikkel die begeerte by die vrou om ‘soos God te wees’, om die kennis wat God s’n is ook vir haarself toe te eien. Hy hits die vrou aan om haar eie toekoms te beheer deur ‘kennis’ en menslike selfstandigheid bo afhanklikheid van God te kies. Die resultaat is ongehoorsaamheid, oortreding op goddelike terrein en uiteindelik verbanning uit die Tuin. In die verhaal van Bileam is die situasie omgekeerd. Bileam word wel versoek om Israel te vervloek, vermoedelik deur middel van divinasie en sy vermoë om die toekoms te voorspel en te beheer (vgl Num 22:6). Ná sy ervaring met die donkie, ‘wend hy hom egter nie na towery soos vorige kere nie’ (Num 24:1). Dit lyk asof hy dus divinasie verwerp as ‘n weg na kennis en ‘n manier om die toekoms te beheer, en hom oor te gee aan wat God van hom vra.

In beide narratiewe gaan dit nie om die verwerping van algemene menslike kennis en intellek nie, maar om die soort kennis waarna gestreef word en wanneer dit in stryd met God se plan is. Die slang en divinasie – נָחָשׁ – is albei voorbeelde van bemiddeling tot ongeoorloofde kennis, dit lei tot menslike ongehoorsaamheid en oortreding op goddelike terrein. In die Genesis-verhaal kies die mens vir נָחָשׁ, en dit lei tot vervreemding van God. Bileam daarenteen verwerp נָחָשׁ, hy ‘spreek met ‘n geopende oog’ en sien Israel soos wat God hulle sien.

Slot en enkele kritiese opmerkings

Savran se benadering in die artikel wat hierbo bespreek is, is sinkronies intertekstueel van aard. Dit wil sê, hy neem nie die historiese konteks van die tekste in ag nie, en ook nie dat daar verskillende Bileam-tradisies in die Hebreeuse Bybel is nie. Byvoorbeeld, in Numeri 31:8 word Bileam saam met vyf konings van Midian om die lewe gebring, om redes wat hoegenaamd nie duidelik is nie. Numeri 22-24 stel Bileam positief voor, maar klaarblyklik was daar ook ‘n negatiewe siening van hom wat elders neerslag gevind het.        Verder is dit ook nie vanselfsprekend dat Genesis 3 en Numeri 22-24 met mekaar in gesprek tree nie, om byvoorbeeld ‘n negatiewe narratief (Gen 3) met ‘n positiewe een te korrigeer nie. Dit is twee verskillende verhale wat met ‘n verskillende doel voor oë geskryf is. Die artikel stel bloot die twee verhale langs mekaar om sekere motiewe uit te lig, en veral om die soewereiniteit en onkenbaarheid van God te beklemtoon.

Bron

Savran, G 1994. ‘Beastly Speech: Intertextuality, Balaam’s Ass and the Garden of Eden.’ Journal for the Study of the Old Testament 64 (1994): 33-55.

 

 

Share this / Deel hierdie: