Preek: Uit die boek Rut

Votum: Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer

Seëngroet: Mag julle die Here julle God liefhê met hart en siel en al jul krag – en ook jul naaste liefhê soos julself.

Inleiding:
Vandag is my fokus op – hoe lyk ‘n ware gemeente van die Here. Ek gaan dus die hele liturgie omkeer en vra dat u opstaan dat ons ons met ons geloofsbelydenis begin – waarmee ons onsself aan die gemeente van die Here, die kerk van die eeue verbind.
En omdat ‘n gemeente van die Here aan die Woord van die Here verbind is, bly ons staan en sing direk na die geloofsbelydenis ons lofsang – Psalm 119:18 & 22.

Kom ons staan en sê die geloofsbelydenis hardop saam:
[Apostoliese Geloofsbelydenis – die twaalf artikels]

Lofsang: Psalm 119:18 & 22
U woord is soet, gevul met wysheid
Dit hou my op die regte pad
Vol liefde peins ek daaroor altyd
Om dit ten volle te bevat.
Die wysheid wat ek daaruit haal
Verhinder dat ek sal verdwaal

Wanneer u woord vir mense oopgaan
Dan bring dit kennis, dit bring lig
Laat skyn, voor ek die nagwaak ingaan
Oor my, o Heer u aangesig
U woord bepeins ek deur die nag
Skenk my die lig waarop ek wag.

Epiklese:
Here, ons is vanoggend saam as U gemeente,
En ons het gekom om U te ontmoet.
As ‘n ware gemeente van U, die Lewende Here, wil ons ons laat lei deur U Woord.
Want Here, u Woord is vol wysheid,
dit hou ons op die regte pad
dit bring kennis, bring lig.
Ons bid dan nou dat U Woord vir ons oopgaan,
En vir ons die lig skenk waarop ons wag.
Amen

Inleiding
My prediking vandag kom uit die boek Rut. Ons ken die verhaal baie goed en kan dit op verskillende maniere lees. Aan die een kant is die Rutverhaal ‘n romantiese liefdesverhaal. ‘n Arm maar deugsame meisie op wie ‘n skatryk man uiteindelik verlief raak – hulle trou, en lewe vir ewig gelukkig saam. Aan die ander kant kan ons verhaal verstaan as een van liefde en lojaliteit tussen twee vroue – in hierdie geval, ‘n skoonmoeder en haar skoondogter.
Maar vandag gaan ons ‘n bietjie anders na die boek kyk en die vraag wat ons wil beantwoord is: hoe lyk ‘n ware gemeente van die Here?

Agtergrond
Miskien eers ‘n bietjie agtergrond oor die boek self, want dit is belangrik vir die verstaan daarvan. Die Rutboek is geskryf taamlik laat in die geskiedenis van die OT – naamlik in die tyd van die Tweede Tempel, oftewel die laat Persiese tyd. Ons praat dus nou van die jare 450-400 vC.
Hoe lyk die situasie?
Dit is na die Ballingskap – u onthou, die Babiloniërs het die land van Juda binnegeval en die room van die volk – die koning, adel en priesters – in ballingskap na Babel weggevoer. Toe kom Kores, die Persiese vors en hy laat die ballinge toe om terug te keer.
Maar in Judea is dit alles behalwe maanskyn en rose. Jerusalem is verwoes, die tempel is afgebreek, die mense is arm en ellendig. Daar is sedelike en morele verval, en om alles te kroon, word die godsdiens en godsdienstige gebruike gruwelik verwaarloos. Op hierdie toneel kom die priester Esra en sy tydgenoot Nehemia af, en behalwe dat hulle die mure van Jerusalem en die tempel herbou, probeer hulle die godsdienstige situasie ook regruk. Volgens hulle sal die gemeenskap van die Here regkom as hulle weer volgens die Skrif en die Wette van Moses lewe – of dan, anders gestel, die gemeente van die Here sal soos die ware gemeente van die Here lyk, as die mense weer begin doen wat die ‘Bybel’ sê.
Sekere goed wat hulle gedoen het, was mooi en reg: die mense het weer die paasfees en ander heilige feeste gevier, en hulle het weer die Sabbatdag as heilige dag onderhou. Maar die Wet van Moses – Deut 23: 3-4 – sê ook dat sekere volke – soos die Ammoniete en Moabiete – nie  lid van die gemeenskap van die Here mag word nie. Tydens die ballingskap het daar heelwat gemengde huwelike plaasgevind, en die priester Esra dring nou daarop aan dat mans wat met vreemde vroue getroud was, die vroue en hul kinders wegstuur. Want, die gemeenskap van die Here moet volgens die letter van die Wet lewe, suiwer ooreenkomstig met die Skrifte – die Bybel van die tyd. Maar intussen, tydens die ballingskap het mans met vreemde vroue getrou, en hulle het werklik hierdie vroue liefgehad. Die eis wat die priesters gestel het – dat hulle hierdie vroue en die kinders wegstuur, was onmenslik en het hul harte gebreek.

Rutboek
          In hierdie situasie ontstaan die Rutboek. Die gemeente van die Here het afgedwaal, en die enigste manier hoe dit reggestel kan word, is om weer na die Skrif toe terug te keer.
Nou kan u miskien dadelik vra – maar hoekom speel die storie dan in die Rigterstyd af? Enigiemand wat ‘n aanvoeling vir letterkunde het, sal weet dat ‘n storie se impak veel groter is as daar afstand geskep word. Ek herinner u aan André Brink se vele historiese romans wat in die Ou Kaaps Hollandse tyd afspeel om die Apartheidsbeleid van sy tyd aan te spreek.
Die skrywer van die Rutboek doen presies dieselfde. Hy – of dalk sy – volgens sommige geleerdes – projekteer die storie terug in die Rigterstyd om probleme in die na-eksiliese – of na- ballingskap se gemeenskap aan te spreek – en dieselfde vraag as Esra en Nehemia te beantwoord: hoe lyk die ware gemeenskap van die Here – en sy doen dit deur ‘n storie oënskynlik uit Israel se verre verlede te vertel.
Ons ken die droewige begin. Hongersnood dryf ‘n Judese familie na die land Moab. Die seuns trou met Moabitiese meisies – en dan sterf al die mans. Skielik – binne ‘n paar verse. Drie weduwees bly oor. Nou moet u weet, ‘n weduwee se situasie in Ou Israel was haglik, veral as sy nie seuns gehad het nie. Dogters het hul ouerhuis verlaat en by ‘n man se familie ingetrek: as ‘n vrou se man sterf, en sy het darem ‘n seun, kon sy hoop dat hy en sy vrou en hul kinders haar op haar oudag kon versorg.
Maar hier is drie kinderlose weduwees met ‘n uitsiglose toekoms.
Naomi, die Judese vrou hoor dat daar weer kos in haar tuisdorp is, en sy besluit om terug te gaan – eintlik nie om ‘n nuwe lewe te begin nie, maar om daar te sterf. Haar twee skoondogters gaan aanvanklik saam, maar omdat sy weet dat daar geen toekoms vir enigeen van hulle is nie, probeer sy hulle oorreed om terug te gaan. Orpa, die een skoondogter draai om, maar Rut, die ander ene weier hardkoppig. Sy sê vir haar skoonma, Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God (1:16).
Mooi woorde van lojaliteit vir ons moderne ore – maar met ingrypende implikasies vir die tyd waarin die boek geskryf is. Hier is ‘n Moabitiese vrou wat op die punt staan om die gemeente van die Here binne te dring. En dit is ‘n ernstige oortreding van die Wet.
Maar ook van Rut se kant is dit ‘n geweldige waagstuk. Sy doen afstand van al haar sekerhede. Sy draai haar rug op haar bekende wêreld. Sy waag dit uit haar gemaksone en durf saam met Naomi ‘n pad van angs en onsekerheid aan. Boonop is sy op pad na ‘n land en ‘n gemeenskap wat haar vyandig gesind is.
Wat ons dus hier sien, is ‘n ingrypende keuse: ‘n keuse om teen die wet in te gaan, ‘n keuse om te waag, ‘n keuse wat nie aan moontlike gevolge dink nie – ‘n keuse wat gegrond is op totale selflose liefde. Wanneer Rut vir Naomi sê – Waar u sterf sal ek sterf en daar begrawe word (v 17) is sy bewus daarvan dat daar waarskynlik ook vir haar geen heenkome in ‘n vreemde vyandige gemeenskap gaan wees nie.
Daar gekom, illustreer die buurvroue se reaksie hoe ellendig die twee weduwees se vooruitsig eintlik is. Naomi – die lieflike – want dit is wat haar naam beteken – lyk so sleg dat hulle haar aanvanklik nie herken nie. Naomi is inderdaad lewensmoeg en verbitterd – sy vra dat hulle haar ‘Mara’ noem – want Mara in Hebreeus beteken bitter. G’n wonder dat party mense vir Naomi die suster van Job noem nie – sy het alles verloor wat dierbaar en kosbaar is, en boonop voel sy dat die Here teen haar gedraai het. Al wat oorbly, is haar Moabitiese skoondogter wat eerder probleme as oplossings voorspel!
Naomi verval dus in ‘n verlammende depressie. En Rut sien, as sy nie inisiatief neem nie, gaan hulle albei van die honger omkom. Dis die begin van die garsoes, en Rut vra of sy are kan gaan optel om kos vir haar en haar skoonma in die hande te kry.
Want gelukkig het Ou Israel baie van barmhartigheid gemaak en omgegee vir diegene wat swaarkry. In Deut 24:19 is daar ‘n wet wat sê: Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet ‘n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir ‘n vreemdeling of ‘n weeskind of ‘n weduwee. En dis op hierdie wet wat Rut haar beroep.
En nou verskyn Boas op die toneel.
Volgens Esra en Nehemia – wat moet ‘n goeie Israelitiese man doen? Hy moet die Moabitiese vrou van sy lande af wegjaag, want Moabitiese vroue voorspel net  moeilikheid! Maar Boas doen presies die teenoorgestelde! Etenstyd sê hy vir Rut, Kom, kom eet saam met ons, eet ‘n stukkie brood en doop dit in die wynsous (2:14). En na ete, sê hy vir sy werkers: Sy mag ook tussen die gerwe optel . . . julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val … (2:15-16). Met aner woorde, Boas gee sy werkers opdrag om nie net, soos die wet dit voorskryf – om nie net are wat toevallig uitval te los nie, maar om aspris are uit die bondels uit te trek sodat Rut dit kan optel.
Wat is hier aan die gebeur? Wat doen Boas? Aan die een kant ignoreer hy die wet wat liefdeloosheid en onverdraagsaamheid teenoor Moabiete voorskryf, aan die ander kant neem hy die wet van deernis en omgee vir diegene wat swaarkry so ernstig op dat hy meer doen as wat die wet vra. Hy staar hom dus nie blind teen ‘n strak wet nie – hy verkies om liewers Rut se goeie eienskappe raak te sien, soos haar liefde en lojaliteit teenoor haar skoonma. Daarom radikaliseer hy liewers die wet van liefde en barmhartigheid – ten koste van homself – want hoe meer are sy werkers uit die bondels uittrek, hoe meer ly sy oes skade!
Rut gaan dan huis toe en gee vir haar skoonma kos – die kos wat sy oorgehou het nadat sy saam met Boas geëet het. ‘n Terloopse opmerking: die wet in Deut 23 – die gebod teen die opname van Moabiete in die gemeente van die Here – gee in vers 4 die rede aan: omdat die Moabiete nie vir die Israeliete met brood en water tydens die woestyntog wou voorsien nie.
Maar wat het ons nou? Presies die teenoorgestelde – ‘n Moabiet voorsien ‘n arme ellendige Israeliet met alles wat sy nodig het. Rut trek dus ‘n streep deur hierdie negatiewe geskiedenis, teen al die vooroordele wat daar teen Moabiete mag wees – en verklaar hierdie gebod ongeldig.
En skynbaar, so hou dit aan, dag vir dag gedurende die hele oestyd. Rut tel gerwe op Boas se lande op, en sorg daardeur dat sy en haar skoonma elke dag kos op die tafel het.
Uiteindelik aan die einde van die oestyd, word Naomi uit haar depressiewe toestand gelig. Sy is nie meer vandag se kind nie, en sy het goed gesien wat hier aan die gebeur is: Boas is ‘n dierbare ou siel, maar dalk ‘n bietjie stadig van die merk. En, teen hierdie tyd het sy ook gesien wat in haar skoondogter steek. Na alles wat sy vir Naomi gedoen het, verdien Rut darem ‘n heenkome – anders gestel, sy moet ‘n man kry. Ek het reeds verduidelik hoekom ‘n man so belangrik in ‘n weduwee van Ou Israel se lewe is.
Naomi sê vir haar skoondogter: My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou ‘n heenkome te soek sodat dit met jou goed sal gaan. Kyk, Boas se werksters saam met wie jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag op die dorsvloer. Was jou, maak jou mooi, en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy nie klaar geëet en gedrink het nie. Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou sê wat jy moet doen (3:1-4). Ja, hoofstuk 3 in die Rutboek knetter behoorlik van erotiek!
Naomi sê in soveel woorde vir Rut: Rut, my kind, maak jou soos ‘n bruid gereed en verlei die man in die middel van die nag op die dorsvloer. En – herinner hom dat hy familie is.
          Naomi sinspeel hier natuurlik op nog ‘n wet in Ou Israel, naamlik die voorskrifte vir die Leviraatshuwelik (Deut 15:5-10). Maar eintlik, is die leviraatshuwelik hier nie ter sake nie, want streng gesproke geld hierdie huwelik slegs wanneer ‘n man kinderloos sterf. Sy bloedbroer is dan verplig om met sy weduwee te trou, nie in die eerste plek om die weduwee te versorg nie, maar sodat die bloedbroer se geslagslyn voortgesit kan word. Met ander woorde die leviraatshuwelik is iets wat met die weduwee van een van twee bloedbroers gebeur, met die uitsluitlike doel dat sy seuns te kry sodat die gestorwene se naam bly voortleef.
Naomi se plan is dus gevaarlik – in die eerste plek omdat Rut nie regtig op die leviraatshuwelik kan aanspraak maak nie, in die tweede plek is die gedagte nie om Rut se gestorwe man se naam voort te sit nie, maar om vir Rut ‘n heenkome te kry – om werklik dus die vrou te versorg – en in die derde plek oorskry dit alle sosiale en seksuele kodes van die patriargale samelewing van die tyd.
As die plan skeefloop, bewys Rut dat sy niks anders is as ‘n slegte Moabitiese vrou wat ‘n Israelitiese man probeer verlei nie.
Maar wat gebeur, daar op die dorsvloer, in die middel van die nag? Goed, ek dink ons kan raai as ons lees dat Boas geëet en gedrink het en baie vrolik was … en toe kom Rut stilletjies in en kruip in by hom … maar dis nie waarop ek nou wil uitbrei nie. Vandag wil ek op die slim vrou konsentreer.
Wat Rut weet en wat ons later in hoofstuk 4 sal uitvind, is dat Naomi grond het wat sy kan verkoop. Daar is nog ‘n wet in Ou Israel, naamlik die wet van lossing (Lev 25:23-25) – en dit het met grondbesit te make: wanneer ‘n Israeliet weens armoede sy grond moet verkoop, moet dit deur die naaste manlike familielid teruggekoop word sodat dit later weer na die oospronklike eienaar kan teruggaan.
Nou, weereens, wat gebeur in die middel van die nag – nie tussen Boas en Rut nie, maar met die wette. Rut is ‘n hubare vrou en Naomi het grond wat sy kan verkoop. Die man is dronk en die vrou is slim. In die middel van die nag in die middel van die dorsvloer knoop Rut hierdie twee wette wat eintlik niks met mekaar te doen het nie, aan mekaar vas. Sy sê vir Boas, as hy slaapdronk wakkerskrik – en ek neem die Ou Vertaling: ‘Brei u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.’ Daarmee vra sy Boas om met haar te trou, en as rede voer sy die praktyk van lossing aan.
Dis absoluut briljant! Op hierdie moment dink Rut nie slegs aan haar eie toekoms nie, maar ook aan Naomi. En behalwe dit, die wette wat tradisioneel bedoel is om die mans te bevoordeel, draai Rut om sodat twee hulpelose weduwees ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe toekoms kan kry. In die middel van die nag verwar die slim vrou die wette en die dronk man val vir die plan!
Maar wanneer hy wel nugter word, besef Boas dis glad nie ‘n slegte idee nie. Hy gaan net nie heeltemal so onkonvensioneel soos Rut te werk nie: hy doen die ding op die regte manier – in die openbaar, in die stadspoort. Streng volgens wet. Hy stel die situasie saaklik aan die nadere losser: Naomi se grond is te koop, en volgens reg moet hy dit koop. Die losser is heel inskiklik – hy sal. Maar dan kom Boas – net soos Rut – met ‘n nuwe ding – saam met die grond moet hy Rut as vrou neem. En – soos wat Boas gehoop het – doen die losser afstand van sy plig.
Nou, net weer ‘n terloopse opmerking. U sal onthou dat Orpa, die ander Moabitiese skoondogter teruggekeer het. Die verhaal stel haar nie in ‘n negatiewe lig nie. Net so die naamlose losser. Beide hy en Orpa doen wat enige redelike mens sal doen. Om saam met Naomi na Judea toe terug te keer, is redeloos, roekeloos. Om met Rut, die Moabitiese te trou, is redeloos, is roekeloos.
Maar dit is wat liefde doen – nie om redelik en berekend met die lewe om te gaan nie, maar om roekeloos te waag.
Die storie het ‘n gelukkige einde: Boas trou met Rut, ‘n seuntjie word gebore wat Naomi op haar oudag sal versorg, en hierdie seuntjie wat Obed heet, is niemand anders die oupa van koning Dawid nie!

Afronding
Nou wonder u – of miskien weet u al – maar wat sê hierdie storie vir ons vandag?
Ek wil u terugneem na ons oorspronklike vraag: hoe lyk ‘n ware gemeente van die Here? Esra en Nehemia het gesê, die ware gemeente van die Here moet presies doen wat die Bybel sê. Maar ons het ook gesien dat so ‘n letterlike benadering liefdeloos is en hartseer gevolge het wanneer sekere mense uitgesluit word.
Daarenteen vertel die Rutboek ook ‘n storie van mense wat doen wat die Bybel ook sê – maar hierdie mense interpreteer die wette anders. Hul interpretasie van die Bybel word gelei deur liefde en deernis, deur omgee vir mense wat swaarkry en vir diegene wat uit die gemeente om watter rede ookal uitgestoot word. En wanneer daar só met die Bybel omgegaan word, word die goeie en die liefde van God in die gemeente sigbaar.
En weet u wat? Die Here speel nie eintlik ‘n beduidende rol in die Rutboek nie. Hy doen net twee goed: in Hoofstuk 1 (v 6) gee Hy weer kos in Betlehem – en dis nie iets wat Naomi direk raak nie, want sy is nog op die moedverlore vlaktes in Moab – en teen die einde van hoofstuk 4 (v 13) gee Hy swangerskap aan Rut.
Party geleerdes meen dat die Rutboek eintlik wil sê, God is agter die skerms aan die werk – Hy help diegene wat hulself wil help. Ek gaan dit waag om te verskil: in die Rutboek is God deurgaans en sigbaar teenwoordig – sigbaar en teenwoordig deur mensehande. Die hele boek getuig van God se liefde en deernis – maar – liefde en deernis wat deur mensehande sigbaar word.  ‘n Ware gemeente van die Here maak die teenwoordigheid van die lewende Here ‘n sigbare, tasbare werklikheid in hul optrede teenoor mekaar.

Slot
Om dan nou saam te vat: vandag is ons doel ook om ‘n ware gemeente van die Here te wees. As daar moeilike vrae is – soos – en ek gaan net een voorbeeld noem – oor gays, en gay huwelike, vra ons ook ‘Wat sê die Bybel?’ Ons kan die Bybel op verskillende maniere gebruik, streng, voorskriftelik soos Esra en Nehemia, volgens die letter van die wet. Of ons kan dit kreatief, anders, en liefdevol interpreteer, soos die skrywer van die Rutboek. En deur só met die Woord van die Here om te gaan, word sy liefde sigbaar.
My hoop is dat hierdie gemeente ‘n ware gemeente van die Here sal wees wat lewe volgens wat die Bybel sê. Mag dit ‘n gemeente wees waar mense God se liefde en deernis aan mekaar bewys – want daar is God die Heer.
Terwyl ons net so bly sit, kom ons sing saam lied 526, 3X saam – Afrikaans, Latyn en weer Afrikaans.

Lied 526
Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer
Ubi caritas et amor Deus ibi est
Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer

Gebed
Here, ons het bely dat ons U gemeente is,
en ons het ook die oortuiging uitgespreek dat U Woord vir ons die riglyn vir ons alledaagse lewens is.
Maar Here, wanneer U Woord in mensehande beland, kan dit ook gebeur dat mense se stemme en belange harder as U Woord spreek.
Ons vra U vergifnis waar ons U Woord gebruik het om liefdeloos en harteloos teenoor mekaar op te tree.
Ek bid dan nou vir hierdie gemeente,
dat hulle – elke predikant en elke lidmaat – U Woord ernstig sal opneem,
dat elkeen van ons sensitief sal luister vir U stem van liefde, van deernis, vir omgee vir mekaar,
dat ons mensehande U liefdesgebod leef,
want Here, waar daar liefde is, en deernis, daar is U!
Amen

Offergawes:
Kom ons dien nou die Here met ons liefdegawes

Slotsang: Lied 250 verse 1&2
Gods wet vra al ons liefde
Vir Hom ons God en Heer
En liefde vir ons naaste
Dis wat sy Woord ons leer

O Heer wil dan U liefde
Ook deur ons openbaar
Dat ons mekaar mag liefhê
En so U wet bewaar

Seën
Mag die liefde van God die Vader
Die genade van ons Here Jesus Christus
En die troos van die Heilige Gees by u wees
Amen

Share this / Deel hierdie: