In 2001 het ek ‘n boek gepubliseer met kwantitatiewe navorsing oor prediking aan arm swartmense met ‘n voorstel dat die prediking gepaard moet gaan met gemeenskapsontwikkeling sodat armes gehelp kan word om hulself te help (Prediking in ‘n konteks van armoede). Daarna het ek in ‘n ondersoek gedurende 2005-2006 gefokus op witmense se Godsbelewing wat as gevolg van die wetgewing oor regstellende aksie hul werk verloor het, of nie werk kan kry nie (sien my artikel in die bundel God in ‘n kantelende wêreld, wat binnekort by Protea gepubliseer word). Die betrokke wetgewing is die wet op gelyke indiensneming (Wet 55 van 1998), die wet op breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (Wet 53 van 2003 en die wette op vaardigheidsontwikkeling (Wet 97 van 1998 en Wet 31 van 2003). Daarin word wit mans wat Suid-Afrikaanse burgers is as die ‘nie-aangewese groep’ aangedui wat betref werksgeleenthede.

 

In hierdie kwalitatiewe opvolg ondersoek het ek eers die hoedanighede van God (hoe God teenoor ons is) gekonseptualiseer in die volgende konsepte: God se liefde vir ons, sy almag, sy goedheid, sy voorsieningheid en sy onveranderlikheid. Om die effek van die trauma van die ontneem van werkgeleenthede op ‘n onregverdige wyse (volgens die siening van die getroffenes) te verstaan, het ek die sosiologiese teorie van Seeman gebruik (M Seeman, On the meaning of alienation. ASR 24(6), 783-791). Volgens hierdie teorie vind daar in so ‘n situasie van ‘onregverdige’ werkverlies ‘n vervreemding of aliënasie plaas wat in vyf stadia van ervaringe verloop, naamlik magteloosheid, betekenisloosheid, normloosheid, isolasie en uiteindelik selfvervreemding. Die teikenpopulasie was lidmate van NG Kerk gemeentes in Pretoria waarin drie gemeentes as steekproef geneem is, naamlik een in ‘n hoër middelklas omgewing, een in ‘n middelklas omgewing en een in ‘n laer middelklas omgewing. Respondente is deur ingeligtes in die gemeentes geïdentifiseer en na ‘n proeflopie met ‘n groter groep is vyf respondente binne die raamwerk van oordeelkundige steekproeftrekking gekies. Daar was ‘n jong vrou wat as mediese dokter afgestudeer het en na haar verpligte diensjare vir die staat geen werk kon kry nie ten spyte van ‘n groot tekort aan dokters in staatshospitale; ‘n matrikulant wat vlieënier wou word en toe daarvan weerhou is; en drie middeljarige wit mans wat onderskeidelik in die bestuursafdeling van die Reserwebank, in Krygkor se bestuursafdeling en by die stadsraad van Pretoria gewerk het. Hulle verteenwoordig die verskillende strategieë wat by die werkplek gevolg word om mense weg te stuur of van werk te weerhou.

Die onderhoude is gelei deur die bogenoemde hoedanighede van God, met die vraag hoe hulle God ervaar het in hierdie trauma. Die resultate toon dat hierdie eienskappe van God nie vir hulle sin gemaak het in die vervreemdingsproses nie. Hulle het nie meer kerk toe gegaan nie en kon nie meer bid nie. Hulle het die meeste van die vervreemdingstadia deurgegaan – twee heeltemal, waarvan die een in vreemde omstandighede teen ‘n boom vasgejaag het en oorlede is, en die ander een se liggaamsfunksies gaan staan het. In opvolgonderhoude het geblyk dat toe hulle uiteindelik ‘n werkie in die netwerk van familie en vriende gekry het (klein private ondernemingkies) met ongeveer ‘n kwart van hul vorige inkomste, slegs een hoedanigheid begin sin maak het, naamlik God se voorsienigheid.

 

In weer ‘n volgende ondersoek het dit gehandel oor die vraag wat ‘n prediker vir hierdie mense kan preek (Prediking oor die koninkryk van God: ‘n Uitdaging in ‘n nuwe konteks van armoede: hts.org.za). Eers het ek gedink dat ons die voorsienigheid van God moes preek. Die kritiek van Noordmans teen die teologie daarin, het my genoop om oor die inhoud van die prediking in so ‘n situasie na die koninkryksgelykenisse van Jesus te kyk. In Jesus se gelykenisse is ‘koninkryk’ ‘n ‘tensive’ simbool, dit wil sê dit verteenwoordig ‘n stel betekenisse wat nie uitgeput of genoegsaam uitgedruk kan word deur slegs een referent nie. Die insig het gedaag dat dit metafore is. Metafore kan ook kort narratiewe wees. In die resente Nuwe Testamentiese navorsing word die gelykenisse, volgens Andries van Aarde, as metaforiese narratiewe verstaan, maar dan as diaforiese metafore. Dit beteken dat dit teen die gewone assosiasies ingaan. Daar is ‘n verrasing, ‘n ‘reversal’, ‘n ommekeer in die optrede van die karakters in die gelykenisse. Verder moet die leefwêreld en lewensbeskouing, die situasie van die eerste-eeuse Oos-Mediterreense mens as konteks van die sinoptiese evangelies verstaan word. Dit verskil grootliks van ons eie konteks.

 

In die leefwêreld van Jesus was daar 5% van die bevolking wat tot die elite behoort het. Politieke mag van die Romeine en die leiers van die Jode het rykdom voorafgegaan. Ongeveer 95% van die mense was die ‘volk van die land’. Hulle was oor die algemeen arm. By die heel onderste klas praat Van Aarde van die onrespektabele armes. Hulle was die siekes en gestremdes, die ontworteldes met betrekking tot familie-aangeleenthede, die ekonomiese weerloses, en diegene wat vanweë politieke magsmisbruik arm was. Jesus was self ‘n sosiaal-veragte omdat Hy nie ‘n wettige vader gehad het nie. Vir hierdie mense het Hy in sy boodskap oor die koninkryk van God teenoor die ryke van die wêreld getoon en geleer hoe om te midde van neerdrukkende omstandighede op God se teenwoordigheid staat te maak. Hierdie teenwoordigheid van God is beleef in terme van die geloofsgemeenskap as ‘n nuwe familie.

 

Die eskatologie in Jesus se koninkryksboodskap is ingebed in die konteks van die etiese eskatologie. Die koninkryk is in Jesus nou hier op aarde teenwoordig. Die koninkryk van God word gepreek as ‘n alternatiewe gemeenskap van diegene wat tot die koninkryk behoort teenoor die koninkryke van geweld en onderdrukking, van korrupsie, gierigheid en haat. In God se koninkryk heers God se liefde, geregtigheid, genade en vrede. Dit is nie geweldadig nie. Vir die sosiaal-veragte arm mense teenoor wie Jesus Hom in sy gelykenisse gerig het, het sy boodskap en die teenwoordigheid van God sin en hoop in hulle bestaan gebring. Hulle het vir mekaar begin omgee in ‘n nuwe werklikheid. Diegene wat Jesus se boodskap hoor en ervaar moet Hom volg in sy houding, sy waardes en sy dade. Ernest Van Eck is van mening dat koninkryk en eskatologie as uitruilbare terme in die Markus-evangelie beskou kan word. Volgens die Markusverteller is die eskatologiese gebeure die koninkryk. Die narratiewe van Jesus se gelykenisse as metafore funksioneer op ‘n wyse waar die koninkryk op elke tydstip wat dit gelees, ervaar en geglo word, teenwoordig is. Daarom kan die koninkryksgelykenisse vandag sin en hoop bring as dit in ons situasie binne die omgee-aard van die geloofsgemeenskap gepreek word.

[Die volledige artikel is beskikbaar op die webblad van HTS].

Share this / Deel hierdie: