Die sorg van die Here: wat verstaan ons daaronder? Wat beteken dit vir jou?

 

Ek wil na hierdie vraag kyk aan die hand van die Matt-teks ten einde met die oë van geloof te kan antwoord op die betekenis daarvan hier en nou.

 

Om net al die vraag te stel, is jy al kant en klaar deel van die vraag met jou hele menswees aangesien jou konkrete menswees van hierdie oomblik al reeds inspeel op die wyse waarop jy die vraag stel. So kan dit wees aan die begin van ‘n nuwe jaar dat jy redelik gehawend vanuit 2009 by 2010 aankom. Dit kon dalk ‘n slegte jaar gewees het. Dalk lyk ek soos die ou hoendertjie wat sê: 2009 was tuff, maar ek het dit gemaak!

 

 

 

Of dalk gaan dit met jou baie goed aan die begin van hierdie nuwe jaar. Ook die lewensfase waarin jy jou bevind en so ook jou behoeftes speel alles spontaan mee in die stel van die vraag na die sorg van die Here. Die punt is: Dit is en bly sekerlik een van die mees basiese geloofsversugtinge: dat die Here sorg, en dat ek as gelowige ook van die Here mag verwag dat die Here in 2010 sal sorg.

 

Ons mag dit verwag. Ons word selfs uitgenooi om dit van die Here te verwag in soveel uiteenlopende tekste in die OT en NT. Om maar net enkeles te noem:

 

Jes 43: Onder alle omstandighede – water, riviere, vuur (alles beelde van die grootste bedreiginge) behoort jy aan die Here, jou Skepper want jy is kosbaar in God se oë.

 

Ps 34: Met deernisvolle toon word gesê dat die Here naby is aan die gebrokenes; Hy help die moedeloses.

 

1 Petr 3 haal Ps 34 aan en voeg by die teks dat die Here luister na ons hulpgeroep.

 

En in 1 Petr 5 kom die uitnodiging: Werp al julle bekommernisse op die Here, want Hy sorg vir julle.

 

Juis op hierdie punt begin spanninge na vore te kom. Die laaste teks van 1 Petr sê dat ons al ons bekommernisse vir die Here moet gee. Die teks van Matt 6 sê dat ons ons nie moet bekommer nie. Nou hoe kan ek vir die Here iets gee wat ek volgens Matt 6 nie moet hê nie? Ekskuus maar as ek dit dan nou reg verstaan, begin hierdie tekste bymekaar verby te praat, selfs teen mekaar te praat. Hoe nou gemaak? En dis natuurlik ook so dat ek eerder tuisvoel met ‘n teks wat ek dink en voel meer realisties oor die lewe praat.

 

Ons worry – dis so! En Here, daar’s regtig vrek baie goed waaroor ons worry. Gesondheid, geld, swottings, veiligheid, politiek, verhoudinge, oud word – noem maar op. En U sê ek moenie worry nie! As dit enigsins sou beteken dat daarmee bedoel word (die bekendjie liedjie se woorde): Don’t worry, be happy – dan moet ek in alle eerlikheid bely: Here, ek val uit die geloofbus uit. Ek is een van diegene wat u maar kan aanspreek met die titel van Matt 6: kleingelowige!

 

Wat maak ons met die lewensoproep van Matt 6: Moenie julle bekommer nie, die Here sorg? Vers 28 noem dit: soos die veldlelies …. Kyk daarna sê Matt 6:28. Hoe kom ek by die veldlelie perspektief uit?

 

Matt 6 is deel van die groter konteks van die Bergpredikasie. In die voorafgaande drie paragrawe word die sorg-teks op ‘n amazing wyse voorafgegaan met die volgende beklemtoninge:

 

Vers 21: Vind uit wat vir jou die belangrikste is, want jou hart is daar.

 

Vers 22: Weet dat jou perspektief op ‘n saak, jou manier van lewe gaan bepaal

 

Vers 24: Onthou: geld (Mammon – Aramese word vir rykdom) en die dien van die Here kan nie vir ‘n mens ewe belangrik in jou lewe wees nie.

 

En net na die sorg-paragraaf: Matt 7 vers 1: Wees bereid om ook jou eie gebrekkige oordeel, die balk in eie oog raak te sien. D w s dat jou oordeel jou in die steek kan laat (veral oor ander mense)

 

Die sorg-paragraaf spreek ons basiese lewensbehoeftes aan. Eet, drink en klere. Jesus vgl dit in die teks met die wilde voëls, veldlelies wat nie saai nie, nie oes nie, nie swoeg nie, wat nie klere maak nie.

 

En die pers draad (ek sal terugkom na hoekom ek dit ‘n pers draad noem) wat deur hierdie paragraaf loop, is:

 

Die Here sorg – julle is baie meer werd – die Here sorg: kyk na die veldleies…

 

Goed Here, ek gaan kyk. Ek gaan kyk en sal myself dan (in die lig van die voorafgaande verse 21-24) afvra: waar’s my hart wat die saak aan betref; hoe sien ek dit (my perspektief; oog as lamp van die liggaam); wat is op hierdie oomblik in my lewe vir my die belangrikste (my lewensprioriteite)? En as ek dan moet, dat ek bereid sal wees om my perspektief te hersien (vers 24 oor balk in my eie oog).

 

Die veldlelie waarna hier verwys word (meeste kommentare sê so) kan anemone wees – ‘n fyn pers blommetjie soos ‘n poppy wat redelik algemeen voorkom in Israel.

 

 

 

 
Maar dit kan ook die Arum Palaestinum wees. Arum – griekse familienaam van blom. Soos Aronskelk. Palaestinum – latynse uitbreiding wat “van Palestina” beteken. Hierop het ‘n suid-afrikaanse nuwe testamentikus my gewys wat ‘n klompie jare gelede in Israel navorsing gedoen het.

 

 

Die veldlelie – soos ‘n besondere kunswerk! Die kleur aan die binnekant is pers: die kleur van ‘n koning. Daarom die woorde van vers 29: Selfs koning Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie!

 

Die kleur van ons verhouding met God is pers – dit is die beste, die hoogste (daarom die woorde van vroeër waarin ek gesê het dat daar ‘n pers draad deur hierdie gedeelte loop). Dis die kleur van die geloofsoog waarmee jy moet kyk na jou verhouding met God, na jou jouself en jou medemens. Kind van God; kosbaar; baie werd.

 

Maar dis nie al nie. Daar kom nog iets verrassend en radikaal (latynse word: radix – worteltrekkend) by. Hierdie Arum van Palestina wat in die mees ongenaakbare woestyngebiede voorkom – ja, in die woestyn, het ‘n dik, sappige wortelstelsel. In tye van hongersnood, het armes die veldlelie uitgegrawe en geëet. Dit was ook kos vir die armes. Wat wil hierdie konkrete wortelstelsel van die veldlelie vir ons by-sê oor die sorg van die Here?

 

Dis daar, maar ons sal moet grawe daarvoor, ja selfs onder die grond moet grawe daarvoor in harde lewenswerklikhede waarin ons ons dikwels bevind.

 

Vers 33: Beywer julle. Ou vertaling: soek allereers. Ek vertaal dit as: Grawe daarvoor. En as jy dalk deur trane heen moet grawe in hierdie woestynsand wat hel-uit warm kan word, kan dit wees dat ek dalk eers ontslae sal moet raak van goedkoop, onvanpaste oortuiginge oor die sorg van die Here. Oortuiginge wat dalk sê: dit gaan altyd goed met ‘n gelowige mens, met ‘n persoon wat sê dat hy / sy aan die Here behoort. Nou moet ek ontdek: Dit is nie so nie. Nee, ons sal moet ontdek dat die Here skep (voorsien) blywend nuwe moontlikhede (wortels) in die harde werklikhede van nood, verlies, seerkry.

 

In ons verhouding met God is ons met duur genade, diep genade verlos. Diep, duur genade wat vertel van ‘n kruis en opstanding. Dis die kruis en opstanding wat die pers kleur gee aan ons verhouding met God, wat die koninkryk van God pers kleur. So ingrypend, so radikaal dat dit sê:

 

Die veldlelie perspektief van God se sorg gaan deur ‘n kruis en opstanding heen sodat ek in my lewe moet weet: Ek sal eers aan myself moet sterf – soos ‘n mosterdsaadjie – om te ontdek wat vertroue in God se sorg beteken. Waar’s my hart; wat is my perspektief hierop; wat is my lewensprioriteite? Ek sal – by wyse van spreke in die lewensgrond waar ek my nou bevind moet grawe daarvoor – dit lê nie sommer so op die oppervlakte nie!

 

Matt 6 is beslis nie naïef oor die lewe nie. Om die waarheid te sê: dis kru realisties. Sien vers 34: Môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg van sy eie moeilikheid. Ja, skrikwekkend nugter. Dit kan dalk wees dat dit more nog slegter gaan. Maar as dit dalk nou met jou sleg gaan, as jou lewe vandag vol bekommernisse is, hoor dan die boodskap van die sorg van die Here: kyk met ‘n veldlelie perspektief na elke nuwe dag.

 

Ek vat saam:

Die betekenis, die verstaan van God se sorg mag nie in goedkoop, eiesinnige, voor-die-wind oortuiginge vasgemessel word nie. Dit kan ons geloofsverhouding met God in tye van nood erg skade berokken, selfs vernietig. Dit kan ook die indruk teenoor ander mense laat dat ons geloof in God is maar net vir my ‘n goedkoop waarborg vir geluk. Maar as dit met jou goed gaan vanoggend, mag die wind van God se Gees deur jou lewe waai in sensitiwiteit en dankbaarheid sodat jy ook vir ander versorgend, hulpverlenend daar kan wees. Mt 6 nooi ons uit om met geloofs-oë – geloofs-oë met die kleur van pers, met ‘n veldlelie perspektief, te ontdek:

 

Verborge in elke nuwe dag lê die wortels van God se sorg.

Amen.

Share this / Deel hierdie: