Teks: Genesis 15:18. ‘Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram . . .’

Inleiding

Vandag is ‘n baie persoonlike aangeleentheid. ‘n Doop gaan oor ouers, ‘n kindjie en familie. Tog hoop ek dat my boodskap vandag vir elkeen van u hier teenwoordig, ook iets sal beteken. Ek preek vandag vir elkeen wat in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop is. Die tema van my preek is die Verbond. Soos wat die Doopformulier lui, word ‘. . . ons gedoop omdat die Here God ‘n verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Reeds vir Abraham, die vader van alle gelowiges het die Here gesê: ‘Ek bring ‘n verbond tot stand tussen my en jou nageslag en al hul geslagte.’ As gedooptes is ons almal deel van die Verbond, is ons deel van ‘n groter familie van verbondskinders.    

Kom ons word stil:

Votum:

Ek hou vas aan U Verbond, die blywende Verbond wat U met my gemaak het, die dag toe ek gedoop is (Gen 17:7).

Seëngroet:

Mag die Here ons deur die sakrament van die doop verseker dat Hy deur sy Gees in ons wil woon en ons lewens daagliks so regeer, dat ons hoe langer, hoe meer, sy beeld vertoon.  

Lofsang: Lied 199 al drie verse

Ons lofsang vanoggend is lied 199. In hierdie lied word alles opgeroep om die Here te loof: hemelwesens, son, maan, natuurverskynsels, volke en die wat hulle regeer – en ook ons, kinders, vroue en mans. Ons gaan dit sing as ‘n loflied, maar ook as ‘n geloofsbelydenis waarin ons erken dat ons glo dat die Here die Skepper is van hemel en aarde en alles daarin. Ons loof die Here nou met Lied 199, al drie verse.    

Wet – Psalm 119:166-168

Psalm 119 is die langste psalm in die psalmboek, en hier gaan dit veral om die Wet. Die psalmdigter beklemtoon deurgaans hoe belangrik dit is om te lewe soos wat God dit wil hê, en om dit te kan doen, gee Hy vir ons sy gebooie. Ek lees vir U net drie verse uit hierdie lang psalm – verse 166-168:

Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, U gebooie gehoorsaam ek;

Ek kom U verordeninge na, ek het hulle baie lief;

U bevele en verordeninge gehoorsaam ek;

My hele lewe lê oop voor U.

Skuld

As ons die hele psalm 119 lees, kom ons agter dit is nie altyd so maklik nie – die psalmdigter is maar al te bewus daarvan dat hy tekortskiet – en hy praat van strikke wat dreig om hom die spoor byster te laat raak. Deurentyd bid hy om lering en wysheid.

Verootmoediging – Psalm 119:27

Kom ons sing nou die woorde van Psalm 119:27 as ‘n gebed saam met die digter waarin ons erken dat ons ons deur sy Woord wil laat lei, maar dat ons dit nie uit ons eie kan doen nie. As ek van u gebod afdwaal, kom soek my asseblief o Here. Net die een vers 27 van Psalm 119.    

Epiklese

Here, ons het U geloof as Skepper van die heelal,

Ook as Skepper van ons – ons wat mense is.

Ons het ons swakheid bely, ons onvermoë om by U verordeninge te hou.

Dankie Here dat ons kan weet dat U ons nie verwerp nie, maar telkens kom opsoek waar ons verdwaal.

Vanoggend Here gaan ons kindertjies doop

En dit vul ons met verwondering en ontsag dat dit U, die Grote God is wat U hand na ons, U skepsels uitsteek.

Dankie dat ons kan reken op U trou, en die Verbond van die Doop – dié Verbond wat U met ons gesluit het.

Ek bid dan Here, dat ons vanoggend – en elke ander dag – U teenwoordigheid in ons lewens sal ervaar, en dat die Doop vir ons elkeen weer nuwe betekenis kry.

Amen    

Inleiding tot Skriflesing

Soos ek gesê het, die tema van vandag se boodskap is op die ‘Verbond’ en die klem val op die doop as die teken wat die Verbond tussen God en mens bevestig. Maar hoe moet ons hierdie Verbond verstaan, en wat kan dit vir die dopeling, en almal wat reeds gedoop is, beteken?

In wese het ‘n verbond te make met ‘n ooreenkoms tussen twee partye – dit kan twee mense wees, maar dit kan ook ‘n ooreenkoms tussen God en mens wees. Vandag gaan ek die betekenis van die Verbond uit die Ou Testament haal, want dit is waar die gedagte van ‘n ooreenkoms tussen God en mens ontstaan het. In die Ou Testament word daar op verskeie plekke van so ‘n Verbond gepraat. Eerstens is daar die verbond wat God met Noag na die Vloed gemaak het – en Hy die reënboog as belofte gegee het dat die aarde nooit weer deur ‘n Vloed vernietig sal word nie. Dan is daar die bekende verbond met Abraham in Genesis 17, waar die besnydenis as teken van die Verbond gegee is. Ons kerk leer dan ook dat die besnydenis van die Ou Testament deur die Doop vervang is – terwyl klein Joodse seuntjies vandag nog besny word, word ons kindertjies gedoop. En dan is daar natuurlik die belangrike gebeure op Sinaï waar Moses die Tien Gebooie ontvang: die Here belowe trou aan Israel, en Israel belowe om sy Gebooie te onderhou.

Ons boodskap kom vandag uit ‘n ander verbond tussen die Here en Abraham, ‘n minder bekende en ietwat vreemde teks, en dit kom uit Genesis 15. Kom ons lees saam.      

Skriflesing: Genesis 15

Preek

Ons teks word ingelei met die woordjie ‘hierna’. ‘Hierna’ het die woord van die Here tot Abram gekom. Maar wat het in Abram se lewe voor ‘hierna’ gebeur?

In Gen 12 roep God Abram uit sy land, weg van sy familie en belowe hom ‘n land en ‘n groot nageslag – niks kom daarvan nie. Skaars in die beloofde land, word hulle deur ‘n groot hongersnood getref. Abram vlug Egipte toe en daar lieg hy oor sy mooi vrou – en Sara beland in die Egiptiese koning se harem – soveel so vir die nageslag! Amper-amper word die nageslag dié van die Farao van Egipte.

‘Hierna’ wonder Abram dalk: wat nou? Wat van die belofte dat die Here my ‘n groot nasie sal maak – ek word ouer, en daar is nog geen teken van ‘n kind nie? ‘Hierna’ is Abram maar taamlik moedeloos oor alles.

Dan kom die ‘woord’ van die Here in ‘n ‘gesig’ na Abram. Vermoedelik, na aanleiding van vers 5, en die sterre wat hy moet tel, het dit in die nag gebeur. Maar nou moet ons nie in die strik trap om te wonder wat het Abram regtig gesien en gehoor nie – dit gaan nie daarom nie. Die skrywer gebruik tipiese formules wat ook by die roeping van profete gebruik word – as Abram die woord van die Here en ‘n gesig ontvang, beteken dit maar net dat die Here aan hom ‘n boodskap wil bring. En die Here belowe aan hom ‘n groot beloning.

Maar ons kan dadelik sien wat op Abram se brein is – sy kinderloosheid. Ons hoor selfs ‘n toon van beskuldiging: ‘Here my God, wat kan U vir my gee?’ en ‘U het nie vir my ‘n nageslag gegee nie, nee wat vergeet nou maar, Eliëser, my slaaf sal dan nou maar my erfgenaam wees.’ Abram het min of meer opgegee op die Here se beloftes.

Die Here herhaal egter sy versekering: Abram se eie kind sal sy erfgenaam wees, nie sy slaaf nie. Om sy belofte te bevestig, neem Hy Abram buitentoe en sê hom: ‘Tel die sterre . . . as jy kan.’

Ons wil dit maar al te graag lees dat Abram se pyn nou versag is en hy gerus gestel is . . . maar die ironie, of die paradoks is – daar is geen manier waarop hy die sterre kan tel nie! Hy kan nie! Is sy probleem opgelos – of net vererger?

Of dalk . . . Abram kyk op na die sterrehemel, en hy begryp iets van God se grootheid. Die Here het hom oorrompel. Die Here is groot, onbegryplik bo die mens se verstand.  

En wanneer ons teks sê dat Abram in Here geglo het en dat die Here dit goed gevind het dat Abram volgens sy wil gehandel het – is dit nie heeltemal wat in die Hebreeus staan nie. Die sleutel tot die verstaan van die teks lê in die begrip ‘geregtigheid’ – wat ook in die Afrikaans heeltemal wegvertaal is. Die kern is hier dat geregtigheid nie met geloof te make het of dit wat moreel reg is nie, dit gaan primêr oor ‘n verhouding tussen twee partye – oor ‘n ooreenkoms en en wat die regte ding volgens die ooreenkoms is. In hierdie teks en in Abram se geval, kom die Here na hom toe, bied ‘n ooreenkoms, en Abram verklaar homself inskiklik.

Die Here gaan nou voort en belowe aan Abram ‘n land wat hy in besit gaan neem. Abram is toe nie die groot gelowige wat ons gedink het hy is nie. ‘Hoe sal ek weet . . .?’ vra hy weer. Hoe sal ek weet?

Dan verseker die Here hom met ‘n baie vreemde ritueel: Abram moet verskillende diere neem – ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaap, en duiwe, en sommige van hulle slag hy middeldeur. Ons verstaan nie hierdie teks nie, dit lyk selfs wreedaardig. Maar die leser van die antieke tyd sou onmiddellik verstaan dat hier sprake van ‘n Verbond is. Die ooreenkoms is so kragtig en bindend dat dit nie net woorde nie, maar met ‘n daad, ‘n sigbare teken bevestig word.

Twee partye, meestal konings in die antieke tyd, het diere gevat, en dit middeldeur geslag en die twee helftes teenoor mekaar geplaas. Een helfte was verteenwoordigend van die een party en die ander helfte het die ander party verteenwoordig. Dan het die twee partye saam deur die geslagte diere geloop en daarmee te kenne gegee dat ‘n vloek op die een sou rus wat die verbond verbreek. Die een sou as’t ware vir die ander sê, ‘As ek hierdie verbond verbreek, dan mag jy my middeldeur slag, net soos wat hierdie diere middeldeur geslag is.’

Dit is wat hier besig is om tussen die Here en Abram te gebeur. ‘n Verbond kom tot stand.

Roofvoëls kom en sak op die karkasse toe – sommige geleerdes meen dat die roofvoëls alles simboliseer wat die Verbond kan vernietig. Maar in die teks wag Abram nog steeds dat die Here moet kom om saam met hom deur die karkasse te loop, en hy jaag hulle weg. Dan word hy vaak en ‘n diep slaap oorweldig hom. Dit is egter nie ‘n lekker slaap in droomland nie – hy word baie bang en hy kry nog ‘n openbaring – eers een in die toekoms – sy nageslag sal vir vier honderd jaar soos slawe onderdruk word voordat hulle na die land sal terugkeer. Dit is natuurlik ‘n vooruit wysing na die tyd van slawerny in Egipte. Tog ontvang hy aan die einde ‘n gerusstelling – hy self sal in vrede sterf en op ‘n hoë ouderdom begrawe word.

En dan gebeur ‘n vreemde ding: toe dit heeltemal donker is, gaan daar skielik ‘n oond wat rook en ‘n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deur.

In die Ou Testament het die Here Homself dikwels deur vuur openbaar. Geen mens kon Hom sien nie, maar as hulle ‘n bonatuurlike, onverklaarbare vuur gesien het, het hulle geweet Hy is daar. Ons kan dink aan Moses en die brandende bos; aan die vuurkolom in die nag deur die woestyn; die donder en weerlig op Sinaï waar Moses die Tien Gebooie ontvang het; die profeet Esegiël wat God met woorde van storm en vuur beskryf.

In ons teks gaan ‘n oond wat rook en ‘n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deur. Die outeur wil te kenne gee – dit is die Here self wat deur die stukke vleis loop. Nie soos wat ‘n mens van ‘n gewone verbondsooreenkoms sou verwag nie – dit is nie die twee partye, die Here en Abram wat albei deur die karkasse loop en verbondstrou aan mekaar belowe nie – die Here beweeg alleen deur die stukke vleis. Die Verbondsooreenkoms, Verbondstrou kom van die kant van die Here.

Liewe Vriende, hierdie teks maak my hoendervleis, vervul my met ontsag. Wat is die implikasies hiervan? As ons glo dat die doop ‘n teken van die Verbond is, beteken dit in die eerste plek dat die Verbond van die kant van die Here geïnisieer word.

Vir Abram, vir my en jou op die dag van ons doop, en vir die klein kindertjies vanoggend, sê die Here: ‘Vandag sluit Ek ‘n verbond met jou. Ek belowe my trou aan jou. Ek weet jy is nie in staat om by ons ooreenkoms te bly nie, en daarom loop Ek alleen tussen die karkasse deur.’

Dit laat my sidder. Die Here sluit die Verbond, die Here belowe sy trou.

Nou – hoe het dit vir Abram gehelp, en hoe help dit my?

As ons na Abram se lewe kyk, sien ons dat die beloftes nie dadelik realiseer het nie. Hy sou nog ‘n rukkie vir Isak moes wag – en by sy dood besit hy nog geen land nie, net ‘n graf. Van sy kant af was Abram ook maar gou om weer oor die beloftes te twyfel – net hierná stem hy in om ‘n kind by sy vrou se Egiptiese slavin te verwek – ons ken die storie van Sara en Hagar – maar dis nié die kind deur wie die Here die nageslag wou voortsit nie – en pas voor Isak se geboorte lieg hy weer oor sy mooi vrou, hierdie keer vir koning Abimeleg van Gerar. Maar – nie een keer word die Here vir Abram kwaad nie. Om die waarheid te sê, Hy keer dat Abram se ontrou te veel skade aanrig. As die kind Ismael van die dors huil, kom wys ‘n Engel van die Here vir die moeder waar ‘n put met water is. En vir Abimeleg vertel die Here in ‘n droom dat Sara eintlik ‘n ander man se vrou is. Ten spyte van Abram se ontrou en twyfel, bly die Here by hom. Hy bly by Abraham, stap die hele tyd soos ‘n goeie vriend saam met hom in en om die land, tot die dag van sy dood.    

Maar hoe troos dit my, vandag?

Ons wat vandag hier is, ons wat reeds gedoop is en die kindertjies wat netnou gedoop gaan word, word gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Deur Jesus is dit moontlik dat ook ons aan hierdie Verbond kan vashou. Nie net die nageslag van Abram nie, maar deur Jesus word alle gelowiges by die Verbond ingesluit. Jesus bevestig dat die Here ook met my ‘n Verbond gesluit het en naby my sal wees, tot die dag van my dood. In ons kerk doop ons klein kindertjies om daarmee te sê dat dit nie oor my geloof gaan nie, maar dat dit die Here is wat van sy kant af na my toe kom. Op die dag van my doop, van u doop, van die kleintjies vanoggend se doop, sê die Here ook vir ons: ‘Hierdie Verbond het Ek met jou gesluit, en Ek stap jou lewenspad saam met jou.’

Maar nog steeds, hoe kan dit meer wees as ‘n vae troos van . . . ‘Ag toemaar, maak nie saak wat gebeur nie, jy moet maar net glo en vertrou dat God altyd by jou sal wees’?

Miskien moet ons dit verstaan in die lig van wat ons in elk geval oor die doop bely: dat God deur sy Gees ook in ons woon, ons lewens regeer en dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon. Die God van die Verbond is ‘n God wat naby aan mense kom en voortdurend in hul lewens teenwoordig is – kinders van die Verbond is mense wat naby aan mekaar kom en by mekaar se lewens betrokke is. My bede vanoggend is dat die Heilige Gees U voortdurend daaraan sal herinner en U sal troos, met die nabyheid van die Een wat met U die Verbond op die dag van U Doop gesluit het. Dat God se nabyheid aan ons, sigbaar sal word in ons nabyheid aan mekaar.

Amen

Formulier en Sakrament

Lied 292:1 as die kindjie ingedra word

Vers 2 na die bediening van die Sakrament

Dankoffers

Slotsang – Lied 450 – al twee verse

Ons slotsang is weereens ‘n vorm van ‘n geloofsbelydenis. Ons het begin deur God te loof as Skepper van hemel en aarde, en ook as Skepper van die mens. In die sakrament van die Doop het ons gesien dat God met ons, die mens wat Hy geskape het, ‘n Verbond sluit. Deur Jesus is alle gelowiges kinders van die Verbond, die Heilige Gees verseker ons van God se nabyheid en help ons om die betekenis van die Verbond op ‘n sigbare manier gestalte te gee. Ons sluit die diens af met ‘n lofsang aan die Drie-Enige God in Wie ons glo: Vader, Seun en Heilige Gees. Lied 450, albei verse.

Seën

Mag die Liefde van God,

Die Genade van ons Here Jesus Christus

En die Troos van die Heilige Gees elke dag met U gaan

Amen