Teks – Eet jou brood met vreugde; drink jou wyn met ‘n bly gemoed.

Tema – Die lewe is ‘n teater van die absurde.

Votum
‘Wie het werklik wysheid? Wie kan verklaar wat gebeur? Niemand het mag om die wind te stuit nie; niemand het seggenskap oor sy sterfdag nie’(Qo 8:1, 8).

Seëngroet
Ons begin hierdie diens, sit dit voort en voltooi dit in die naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees.

Loflied – Lied 456: 1&2
Ons Skriflesing is vandag uit die boek Prediker. En, soos ons sal sien, dit is nie ‘n baie vrolike boek nie. Prediker teken vir ons die donker kant van die lewe. Maar nogtans, midde ons droefheid en ons leed, kan ons ook die Here loof, en kan ons sing. Kom ons staan en sing ons loflied vir vandag, Lied 456, verse 1 & 2: Loof heel die skepping, loof die Heer, en sy krag in droefheid, krag in leed sal niemand ooit na waarde meet.

Epiklese
Here, ons het u lof besing,
Saam met die hele skepping, aarde, wolke maan en sterre, mens en dier wil ons u loof.
Ons eer U as ons Vader, Skepper en Heer.
Maar Here, in ons loflied is ons ook van die gebrokenheid bewus,
ons eie gebrokenheid, en die gebrokenheid van die skepping.
Dikwels is ons die skuldiges – ons lewe nie soos ons moet nie,
ons eer U nie met ons gedrag nie, ons betoon nie liefde aan ons medemens nie, ons maak mekaar seer.
Ons gaan onnadenkend, selfs onverantwoordelik met die skepping om, en vergeet dat alles wat ons tot ons beskikking het, genadegawes uit U hand is.
Here, vir al ons oortredinge vra ons vanoggend vergifnis.
Maar Here, daar is ook dinge wat ons nie verstaan nie.
wanneer alles, ten spyte van ons heel beste bedoelings, lelik skeefloop.
wanneer onskuldige mense in tye van onrus diep ly, sonder dat hulle direk daarvoor verantwoordelik is – ons dink aan die gebeure in Nigerië, die Oekraïene, die onluste in ons eie land.
En met hierdie vrae wil ons vanoggend worstel Here.
Maak dan nou u Woord vir ons oop, en lei ons in ons vrae.
Ons bid om genade, Heer,
Amen

Skriflesing – Qohelet 9:1-9
Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind:
God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen.
Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie.
Een en dieselfde lot tref almal:
die regverdige en die goddelose,
die reine en die onreine,
die een wat offer en die een wat nie offer nie.
Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar,
soos dit gaan met die een wat ‘n eed aflê,
so gaan dit met hom wat weier om ‘n eed af te lê.
Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref.
Die hart van die mens is vol boosheid;
die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, sy einde is die dood.
Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop.
‘n Hond wat lewe, is beter as ‘n leeu wat dood is.
Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan,
maar die dooies weet niks;
daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet.
Dit is klaar met hul liefde, hul haat, en hul hartstog.
Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.
Teks – Eet dus jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly gemoed,
God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen (het behae in jou werke [OV]);
Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie.
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet,
dié lewe wat tot niks kom nie,
maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het,
die hele lewe wat tot niks kom nie.

 Preek
Die boek Prediker is ‘n donker boek. Dis troosteloos en uitsigloos. Hierdie paar verse wat ons gelees het, sê eintlik maar wat keer op keer deur die hele boek herhaal word: die lewe is onseker; die mens weet nie wat vir hom wag nie; verder, moet ook nie te veel van die lewe verwag nie. Moenie aanneem dat jou goeie dade beloon gaan word nie, en moet ook nie daarop reken dat die ou wat jou kwaad gedoen het, gestraf gaan word nie – o nee!

Om die waarheid te sê, die Prediker sê eintlik die teenoorgestelde. ‘n Regverdige gaan onder, al doen hy reg; ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd (Qo 7:15). En, omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen (Qo 8:11). Die lewe, sê die Prediker is nie net onseker nie, dis ook onbillik. Al waarvan jy wel seker kan wees – of jy nou goed of sleg doen – is dat jy sal sterf. Die een en dieselfde lot tref elke liewe mens op hierdie aarde, en dis die dood.

Tussendeur vind die Prediker ook nie veel sin in die wêreld en in die mensdom nie. Hy kyk eers na die kosmos en hy sien: die son kom op en die son gaan onder, en dan haas hy hom na die plek waar hy opkom – in die Hebreeus staan daar letterlik, hy ‘hyg’ na sy plek waar hy opgekom het; al die riviere loop in die see, maar die see word nie vol nie. En wat die mens betref – die oog kyk en kyk, maar kry nie klaar gekyk nie; die oor hoor en hoor maar kry nie klaar gehoor nie. En wat kry die mens vir al sy geswoeg in hierdie wêreld? Dis alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind. So begin die boek, en so eggo dit deurgaans: alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind. Kortom, die Prediker sê: die lewe is moeilik, die lewe is kompleks, die lewe is onbillik.

Maar wie is hierdie Prediker? Kom ons maak ‘n bietjie nader met hom kennis.

Hy word voorgestel as die Prediker, die seun van Dawid en die koning van Jerusalem. Onmiddellik dink ons aan Salomo, maar – behalwe miskien vir Paulus in die NT – is al die skrywers van Bybel – OT en NT – onbekend. Boeke word aan bekendes toegedig óf om gesag aan ‘n geskrif te verleen, óf om ‘n teks in ‘n bepaalde tradisie te plaas. Wat die boek Prediker betref, word hy met Salomo geassosieer om hom binne die sogenaamde wysheidsliteratuur van ou Israel te plaas.

Wat maak wysheidsliteratuur anders as die ander boeke? Die wysheid vertel nie van Israel se geskiedenis nie. Wysheid is ook nie profetiese uitsprake nie, dit is nie goddelike openbaringe nie, en dit is ook nie gebede nie. Wysheidsliteratuur worstel met die direkte lewe, die lewe van elke dag en die vrae wat elke dag oor die lewe gevra word. Soos – wat moet ek doen om gelukkig te wees? Of? Hoekom moet ek so swaarkry? Is daar ‘n verband tussen lewensgedrag en vreugde – of pyn?

Wysheidsleraars het die werklikheid rondom hulle waargeneem – die kosmos en die mensdom – daaruit afleidings en gevolgtrekkings gemaak, en hierdie lewenswyshede het hulle op skrif gestel sodat ander mense iets daaruit kon leer. In die HB is daar drie boeke wat as wysheidsboeke bekend staan: Spreuke, Prediker en Job.

Van hierdie drie lees ons Spreuke die graagste. Spreuke se wysheidsleraar is oor die algemeen optimisities oor die lewe, en hy sê vir ons wat ons graag wil hoor: as jy goed doen, sal jy beloon word; as jy kwaad doen, sal jy gestraf word. Maw – in die lewe is daar ‘n logiese oorsaak en gevolg, daar is iets soos vergelding – in ons bekende Afrikaanse spreukwoord: Wat jy saai, sal jy maai.

Prediker, soos ons gesien het, is pessimisties oor hierdie positiewe lewensuitkyk, en Job vertel ‘n verhaal van ‘n Prediker-man: ‘n regverdige wat ondergegaan het, sonder dat hy dit verdien. Die skrywer van Job en ons Prediker, is wysheidsleraars wat na die wêreld rondom hulle kyk, en waarneem dat alles nie altyd uitwerk soos wat ‘n mens verwag nie.

Maar – as die Prediker nie Salomo is nie, wie is hy dan, en waarom is hy so pessimisties?

Na alle waarskynlikheid is die boek Prediker taamlik laat op skrif gestel – die meeste geleerdes reken so laat soos 250 vC. Dws – toe die Grieke alreeds die bekende wêreld van die ONO oorwin het. Spore van die Griekse filosofie kan ‘n mens baie duidelik in die boek Prediker sien – onder andere sy skeptisisme, en sy vrae oor die bestaande fundametele dogmas van sy tyd, veral dan, die dogma van vergelding – die hele gedagte dat jou vreugde of verdriet in die lewe direk verband hou met wat jy doen, of nie doen nie.

Die Prediker se pessimistiese lewensuitkyk is egter nie slegs te danke – of te wyte – aan die Griekse filosofie nie. Hy lewe ‘n paar eeue na die Babiloniese Ballingskap. Nou gaan ons eers weer ‘n entjie in die tyd terug, na die jaar ongeveer 587 vC, toe koning Nebukadneser Jerusalem en die Tempel verwoes het, en die adel en priesters na Babilonië toe weggevoer het. Dit was ‘n baie donker tyd, maar in 522 vC kom die Perse aan bewind, en hoop het begin opvlam. Kores, die Persiese koning het die ballinge na hul land laat terugkeer, hulle toegelaat om hul tempel en stad te herbou, en hy, en die res van die Persiese vorste was uiters verdraagsaam ten opsigte van godsdiensvryheid. Daar was soveel hoop dat Israel weer sal herstel, en ‘n grootse ryk word, soos in die tyd van Dawid en Salomo.  

Maar in 333 vC kom Aleksander die Grote en die Grieke. Teenoor die Perse se beleid van godsdiensvryheid, het die Grieke ‘n aggressiewe Helleniseringsbeleid gevolg. Alles en almal moes ver-Grieks, en as daar verset was, het hulle geweld toegepas. En die hoop is ontnugter. Onder andere is dit – hoop wat ontnugter word – ‘n uiters belangrike tema in ons Prediker se boek. Ontnugtering oor die vorste wat in sy dag aan bewind kom. Hy skryf: ‘Ek het al die verdrukking in die wêreld gesien. Die verdruktes kla, maar niemand help hulle nie; daar is niemand wat help teen die geweld van die verdruktes nie’ (Qo 4:1). En hy neem hul gedrag fyn waar: ‘Ellende wag vir die land waarvan ‘n slaaf koning is en waar amptenare vroeg in die dag begin feesvier’ (Qo 10:16). En dan: ‘Dit gaan goed met die land waarvan die koning vir homself kan besluit en waar amptenare op die regte tyd feesvier, met selfbeheersing en nie met ‘n drinkery nie.’

‘n Mens kry dalk die eienaardige gevoel dat die Prediker netsowel in ons tyd kon gelewe het.

Politiek opsy, en terug na die Prediker. Hy kom ongemaklik naby aan die lyf van die mens van ons tyd. Die mens wie se hoop ontnugter is. Eers was daar die mens van die 20e eeu, die opkoms van die natuurwetenskappe en al die hoop op die oneindige moontlikhede wat die tegnologie kan bied. En toe volg twee vernietigende wêreldoorloë.

Die mens van die 21e eeu en sy hoop in die wisseling van ‘n millennium – die jaar 2000. En toe gebeur 11 September 2001; die Midde-Ooste is ‘n tydbom; en ander krisisse wêreldwyd.

Nog nader aan eie lyf: die Prediker worstel met die essensie van menswees. Hy beskryf die mens wat intens van sy eie eindigheid bewus is, die mens wat weet dat hy enige oomblik kan sterf. Hy beskryf die mens wat worstel met die sin van die lewe, die mens wat wonder wat die doel van die lewe nou eintlik is.

Die Prediker kan netsowel die eksistensiële krisis van die mens in die 21e eeu beskryf. Wat is die doel van die lewe? Is enigiets die moeite werd? Wat bring al die geswoeg en gesweet my in die sak? Niks werk soos dit moet nie, daar is geen logiese oorsaak / gevolg wat ek sien nie. Die hele wêreld – en ekself – is hopeloos deurmekaar!

In die boek Prediker hoor ons die stemme van die Franse eksistensialiste: die lewe is ‘n teater van die absurde!

Om alles te kroon, help Prediker se God ons nie juis nie. Waar die Psalmis se God sy hand na die mens in nood uitsteek, is Prediker se God ver, en nie juis by die arme man se worsteling betrokke nie. Die Prediker voel homself geworpe op die aarde, oor die kom en gaan van gebeure waaroor hy geen beheer het nie. Daar’s ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe; ‘n tyd om te breek, ‘n tyd om te bou; ‘n tyd om lief te hê, ‘n tyd om te haat – gaan lees maar Prediker 3. Soms wil ons hierdie verse graag positief interpreteer asof daar darem ‘n mate van voortbestemming in hierdie lewe is, maar Prediker wil eintlik sê, hierdie tye spoel oor die mens terwyl God vanaf ‘n afstand dophou – die mens moet selfs oppas vir Hom! Hierdie gedagte kom baie sterker in die OV as in die nuwe voor.

En laat ek dadelik sê, die boek Prediker is een van die moeilikste boeke om uit die Hebreeus te vertaal. Die Afrikaanse vertaling wat u voor u het, het die hardheid van die Prediker se boodskap versag – dalk juis omdat die boek vir die meeste gelowiges – en vir predikers van ons tyd – ‘n verleentheid is. Byvoorbeeld – menige dominees probeer ‘n klein stukkie troos in die laaste gedeelte van Prediker vind: Prediker 12:1 – ‘Dink aan jou Skepper in jou jong dae . . .’ Die eerste probleem is dat Skepper met ‘n hoofletter geskryf word – Hebreeus het nie hoofletters of kleinletters nie. Maar ‘n groter probleem lê in die woord self. ‘Skepper’ bestaan uit vier Hebreeuse letters. In die antieke tye was daar nie ‘n drukpers of fotokopieer-masjiene nie – alle dokumente is met die hand oorgeskryf. En ‘n aansienlike aantal manuskripte van Prediker 12, skryf daardie spesifieke woord nie met vier Hebreeuse letters nie, maar met drie. Dan beteken die Hebreeuse woord nie Skepper nie, maar graf, en lees die teks: ‘Onthou jou graf in jou jonkheid . . .’

Een van die beginsels van tekswetenskap, is dat ‘n korter lesing meestal die oorspronklike is – sommige geleerdes reken dat van die mense wat daarvoor verantwoordelik was om die teks oor te skryf, ook ‘n probleem met die boek gehad het, en die ekstra letter bygevoeg het om dit ‘n bietjie sagter op die gees te maak. Maar ‘graf’ sluit baie beter aan by die res van die tema van die boek: onthou voortdurend jou eindigheid, jou sterflikheid. Die lewe is sinloos en absurd, en wat ookal met jou gebeur, jy het eintlik geen beheer daaroor nie.

Is daar dan geen troos in hierdie boek te vind nie?

Ja daar is, en dit kom voor in die gedeelte wat ons gelees het: Qohelet 9:7 – ‘Eet jou brood met vreugde en drink jou wyn met ‘n bly gemoed.’ Elders skryf Prediker ook: ‘Ek het tot die insig gekom dat daar vir die mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die lewe te geniet’ (Qo 3:12); en ‘Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld’ (Qo 5:17).

Wat die Prediker hiermee wil sê, is dat binne ‘n lewe wat geen sin maak nie, en waar alles net verkeerd uitdraai, moet ‘n mens geniet wat jy kan, terwyl jy kan. En ook in hierdie stukkie raad kan ons die Franse eksistensialiste herken. Daar is geen sin in die lewe nie, behalwe as jy self sin daaraan gee. Dit wil lyk asof die Prediker ‘n hedonistiese lewenswyse voorstel: ‘Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons!’ En dit is dan hoe hý aan sy sinlose lewe sin gee. Carpe diem! Gryp die dag!

Nie heeltemal nie. Al is die Prediker se God meestal onbetrokke by sy droewige lot, is ons wysheidsleraar tog bewus daarvan dat die lewe wat hy het, van God af kom. Hy weet nie hoe lank of hoe kort dit gaan wees nie, en hy weet ook nie watter voorspoed of teespoed vir hom wag nie, en juis daarom moet hy die beste maak van die goeie oomblikke van die lewe. So skryf hy: ‘Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God’ (Qo 3:13). God gee jou die lewe met al sy absurditeit, vreugde en verdriet, en moet jou nie blind staar teen die dinge wat jy ook kan geniet nie. Maak dus vrede met die absurde, en put genot uit die oomblik.

Slot
Ons het gesê die Prediker is ‘n wysheidsleraar – wat wil hy vandag vir my en vir u leer?

Eerstens – en ek dink dit is baie belangrik, bevraagteken Prediker die fundamentaliste van sy tyd. Die mense met hul sekerhede. Die mense wat dink hulle het ‘n vaste greep op die waarheid, ‘n vaste greep op die geloof, en selfs ‘n vaste greep op God. Ek wil nie sê ons mag nie glo of nie seker wees wat ons glo nie, maar weet u, daar is tye wanneer my sekerhede iemand anders bitter seer kan maak. Soos wanneer ons diep en ernstig rondom ‘n siekbed om genesing gebid het, en die persoon sterf. En my verklaring is: ‘Ons het nie vas genoeg geglo nie’ – of ‘Ons gebed was nie opreg genoeg nie’ – of om met my vaste oortuiging te sê ‘Ons moet maar net glo, dit was God se wil’, terwyl iemand anders se diepe tragedie vir hom of haar eenvoudig geen sin maak nie.  

Die Prediker leer ons dat geloof, gebed en God in geen skema ingedwing kan word nie. Hy stoei met die dogmatiese verstaan van hoe dinge in die lewe werk en hy kry nie ‘n antwoord nie. Kom ons leer dit by ons wysheidsleraar van vandag – sekere gebeure is onverklaarbaar. Ons eie Afrikaanse digter Totius vergelyk die Godsbesluit met ‘n wag-‘n-bietjie bos: twee van sy kinders is deur die weerlig doodgeslaan – ja, vir hom het die weerlig regtig twee keer op dieselfde plek geslaan, en die digter probeer verstaan hoekom. Maar in sy worsteling loop hy hom in ‘n bos vas – hy wil die blare gryp en die takke breek, maar dan tas hy in ‘n doringnes wat vreeslik haak en steek – en dit noem hy die wag-‘n-bietjie-bos van die Here se besluit.

En dis miskien die teleurstelling waarmee die Prediker ons los – hy skets die probleem op meer as een manier, maar hy gee nie vir ons ‘n antwoord nie. Hy sê net dat dinge skeefloop, maar hy verduidelik nie vir ons waarom nie

Die Prediker gee darem vir ons ‘n stukkie praktiese raad: probeer om darem tussendeur ook die goeie dinge van die lewe te geniet – eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed, trek mooi aan, versorg jouself en heg waarde aan liefde, aan vriendskap. Tog interessant hoe Prediker met hierdie genot-uitsprake ook by die mens van die 21e eeu aansluit. Net nou-die-dag lees ek ‘n artikel in die koerant van lewenstyl-terapeute wat ons al hoe meer aanmoedig om in die oomblik van die hier-en-nou te lewe. Om die sonlig op jou vel te voel, om intens bewus te wees van wat jy eet, wat jy drink, hoe jy asem haal, ensovoorts. In hierdie lewe wat absurd is, wat eindig is en waar alles sinloos voorkom, is dit noodsaaklik om veral te bly fokus op daardie oomblikke wat kosbaar is. Oomblikke van samesyn, oomblikke van vriendskap, oomblikke van medemenslikheid.

Laastens: in die Joodse liturgiese jaar speel die boek Prediker ook ‘n belangrike rol. Hierdie boek is een van die sogenaamde ‘megillot’ – die ‘rolle’ wat tydens die belangrike Joodse feeste voorgelees word. En die Joodse fees waartydens die boek Prediker voorgelees word – vandag nog – is die ‘fees van weke’ oftewel die ‘loofhuttefees’. Hierdie fees val saam met ons Christelike Pinkster.  

Nou sal u dadelik vir my vra – maar wat het Prediker se donker en pessimisme met die goeie boodskap van Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees te doen?

U sal onthou dat tydens die eerste pinkstergebeure, die Jode in Jerusalem bymekaar was om die pinksterfees te vier. Die NT noem dit ‘pinkster’ – maar vir die Jode is dit die loofhuttefees wat sewe weke of vyftig dae ná Pase gevier word: die Grieks vir vyftig is pentekoste – vandaar die Engelse Pentecost – wat ons Pinkster noem. En, soos ek gesê het, is Prediker die boek waaruit die Jode tydens hierdie fees voorlees.  

Hoekom? Hoe kom feesvier en Prediker bymekaar uit?

Selfs vandag nog maak tradisionele Joodse families tydelike hutskerms en dan dink hulle aan Israel se omswerwinge gedurende die woestyntydperk toe die volk ook in sulke hutte van loof – loofhutte – gebly het. Hierdie hutte was tydelik en verganklik, en Prediker en sy worsteling met die verganklikheid van die mens en sy wêreld, herinner aan die brose bestaan van Israel terwyl hulle deur die woestyn getrek het. Die mens en sy woning was verganklik.

Wat die absurditeit in die boek Prediker betref, was was die hele woestyngebeure eintlik absurd. Skaars het die volk uit Egipte getrek, of hulle word in ‘n dwaal vir veertig jaar rondgelei. Daar is stof, daar is slange, en die water is bitter. Moses is moeg vir die volk, en hulle is moeg vir hom. Sinloos en tevergeefs, sal ons Prediker sê.

Maar die woestyntyd sou ook die wonderlikste tyd in Israel se geskiedenis wees. Vir alles, vir elke klein dingetjie was hulle van God afhanklik en moes hulle op Hom vertrou. Ten spyte van hul gemor en gekla, hul verlange terug na die vleispotte van Egipte, voorsien Hy hulle van manna en kwartels. Anders gestel, midde hul sinlose bestaan, was God op ‘n onverklaarbare manier teenwoordig. So herdenk die Jode hul verganklikheid, maar vier terselfdertyd God se teenwoordigheid midde-in hul verganklikheid.

Ons het vandag uit die boek Prediker gelees, en gesien dat Prediker se diepste worsteling die sinloosheid en verganklikheid van die mens is. Maar wat gebeur wanneer ons Prediker in ons Christelike Pinkster-tradisie tradisie herinterpreteer?

In die eerste plek ontkom ons nooit aan ervarings van lyding en sinloosheid nie. Kersfees, Pase, Pinkster – ons wil dit nie altyd weet nie, maar deurentyd word ons aan die eindigheid van ons bestaan herinner – ‘n ernstige siekbed, of eenvouding die ouer-word proses. Nooit sal ons die Prediker-kant van menswees kan ontken nie – ons is broos en ons is verganklik.

Maar ons kan ook binne ons Christelike tradisie die boek Prediker deel van ons feesviering maak, deur in die eerste plek te weet dat Jesus as mens ook op aarde gely het, en dat sy menslike bestaan net soos ons s’n in die tekens van verganklikheid gestaan het. Ook Jesus was ‘n Prediker-mens. Die aardse Jesus het lyding geken, en veral Pase herinner ons aan sy passie – Jesus se lyding, en die sinlose lyding van die hele mensdom, ook ons eie lyding. Jesus identifiseer Homself met intense lyding.

Jesus het ons egter nie alleen gelos nie. In ons woestyn-tyd, in ons sinlose Prediker-ervaringe stuur Hy sy Heilige Gees om ons van brood en manna te voorsien. As ons die Christelike Pinkster vier, onthou ons ons verganklikheid, maar terselfdertyd ook God se onverklaarbare teenwoordigheid wat die lewe vir ons draaglik maak, sodat ons dit soms met oorgawe kan geniet.

Vriende, geloof waarborg nie geluk nie. Geloof los ook nie die probleme van die lewe op nie, geloof gee ook nie antwoorde op die probleme van die lewe nie. Maar geloof maak die lewe draaglik. Laat ons dan nou huis toe gaan, laat ons die absurditeit, die paradoks van die lewe self omhels, ons brood met vreugde eet en ons wyn met ‘n blye hart drink, laat ons goed wees vir onsself en vir mekaar – terwyl ons die lewe self het, dié lewe wat God ons geskenk het.    

Geloofsbelydenis
Ofskoon die Prediker met sy eie eindigheid en die sin van die lewe worstel, en ofskoon God vir hom ver en onbetrokke voel, gee hy nooit die geloof prys nie. Al is die Prediker ‘n donker boek, help hy ons tog – juis deur wat hy nie sê nie – om te weet ons is nie alleen in ons gevoelens van vertwyfeling nie. Prediker staan in ‘n geloofstradisie waarbinne ons ook staan – die gemeenskap van gelowiges.

Kom ons staan en bely ons geloof saam met gelowiges en die kerk deur die eeue, vir wie die lewe ook nie altyd maklik was of sin gemaak het nie.

Laat ons staan –

Gebed
Here, die lewe is nie maklik nie.
Ons sien dit rondom ons, in die wêreld, in ons medemens, en in onsself;
daagliks word iemand deur ramp en teespoed getref – soms gebeur dit ver van ons, elders in die wêreld;
maar soms raak dit ons direk – iemand vir wie ons lief is, soms onsself.
Die eerste vraag op ons lippe is ‘Waarom?’
En Here, meestal vind ons nie ‘n bevredigende antwoord nie.
Dan is dit moeilik om te bly glo – te glo dat U omgee.
Vanoggend wil ons dan bid dat U ons brose en verganklike menslike bestaan tog raaksien;
in die woestyn van ons lewens verlang ons na U teenwoordigheid – manna en kwartels – u Heilige Gees – 
wat ons in staat stel om die geloof te behou,
sodat ons ook mekaar kan bemoedig en ondersteun wanneer dit swaar gaan.
Amen

Offergawes

Sang – Lied 393:1, 3 & 4
Met hierdie laaste lied sing ons oor ons verlange na God, oor Jesus wat hierdie versugting so goed verstaan het, en ons bid om lewenslus en rus in ons brose lewens.

Seën
Mag die liefde van God,
die genade van ons Here Jesus Christus
en die onverklaarbare teenwoordigheid van die Heilige Gees met u wees,
Amen

 

Share this / Deel hierdie: