Sedert Pro Pent se ontstaan word die woordjie ‘etiek’ gebruik, maar nooit presies omskryf nie. Dit het egter ’n nuttige woord in ons Pro Pent-woordeskat geword om die Pentateug se ontstaan te help beskryf. Elke moment in die Pentateug se vorming is deur die een of ander etiese vraag of probleem beïnvloed en dié vrae en probleme moet voortdurend gehoor kan word. Anders gesê: die stemme van ’n ou verlede moet ‘gehoor’ en ‘verstaan’ word.

 

En vanweë die breuke, nate en ander krake in die teks kan ons wel iets van die groot eties-teologiese gesprekke in Israel se geskiedenis verstaan. Anders gesê: in die teks klink nou nog iets van Israel se worsteling met God en hulle wêreld, en dit is waarom Pro Pent 2008 in sy geheel aan die Pentateug en etiek gewy word. Weer volg geen vaste omskrywing van wat ‘etiek’ is nie, maar word die saak vanuit ’n hele aantal kante en perspektiewe bekyk.

 

Eckart Otto beklemtoon in die eerste referaat van Pro Pent 2008 die spanning tussen die na-ballingskapse profete- en priestergroepe; tussen die Hosea-Jeremia-tradisie en die Amostradisie aan die een kant en die priesters wat vir die vorming van die Pentateug verantwoordelik was, aan die ander kant. Theodor Seidl soek na etiese aanwysings in die aartsvaderhale en vind dit onder andere in die verhale oor Abram en Lot (Gen 13), Jakob en Esau (Gen 32 en 33), en Josef en sy broers (Gen 50). Aan die hand van dié verhale moes Israel leer hoe om volgens die Tora te lewe. Gerlinde Baumann gaan weer oor ‘bedrog’ in die Pentateug praat en Sias Meyer wys op die etiese implikasies van die Godsbeskouing in die Heiligheidskodeks en veral Levitikus 25. Hierin word Jahwe tegelyk as landbesitter en slawe-eienaar geskets. Om dus soos Jahwe in die Heiligheidskodeks te word, het dié etiese implikasie dat onderdrukking van die ander voorgeskryf word. Jurie le Roux beklemtoon die belangrikheid van ’n hermeneutiek vir die regsmateriaal in die Pentateug. So ’n hermeneutiek kan ons help om die aard en betekenis van die wette in Israel se geskiedenis te bepaal. 

 

Daar is ook vergelykings tussen die Pentateug en ander dele van die Ou Testament. Andrew Mein fokus op die etiek van die koningskap deur op veral die psalms en Deuteronomium 17 te wys. Hy wys onder andere op die impak wat dié  gedagtes oor die koning in die debatte oor die rol van die Engelse monargie gehad het. Christo Lombaard vergelyk Moses en Kohelet (Prediker) en beklemtoon twee sieninge van lewe ten tye teenspoed. Een wat lewensin in woorde soek en die ander in lewensgenot. Met behulp van Proto-Jesaja verbind Alphonso Groenewald moraliteit aan die handhawing van ’n skeppingsorde. God het die wêreld geskep en die mens moes die skeppingsorde deur middel van die regte morele optrede onderhou. Die Nuwe Testament en meer bepaald Jesus van Nasaret kom in die lesing van Eben Scheffler aan die orde. Hy gaan die relasie tussen Jesus en die Pentateug toelig, maar ook aantoon hoe gedeeltes in die Pentateug Jesus tegelyk geïnspireer, maar ook afgestoot het. Gerda de Villiers vra na die rol van Egipte in the Pentateug en vermoed ’n unieke narratiewe ingrype in die vorming van ‘n literêre korpus.

 

Afrika en sy probleme kom ook spesifiek in die referate van Hendrik Bosman, Liswaniso Kamuwanga en Sakkie Spangenberg na vore. Hendrik Bosman beklemtoon die waarde van die tiende gebod in Afrika se stryd teen korrupsie. Hierdie gebod waarsku nie net teen die naaste se vrou nie, maar ook teen die gulsige strewe na goud en silwer. Dit tiende gebod het dus duidelike ekonomiese gevolge. Liswaniso Kamuwanga probeer ’n band tussen Zambië se geskiedenis van die afgelope tien jaar en dié van Jerusalem in 587 vC lê. Korrupsie, ongeregtigheid en talle vorme van onetiese gedrag het uiteindelik tot Juda se vernietiging gelei en dít het vir hom die bril geword waardeur hy na Zambië kyk. Tien jaar gelede het president Chiluba reëls vir die ideale gemeenskap geformuleer, maar dinge het intussen lelik skeef geloop. Liswaniso soek dit in gebrekkige etiese dade. Sakkie Spangenberg se referaat sluit by die onlangse zenofobiese aanvalle in Suid-Afrika aan. Volgens hom kom haat vir die vreemdeling reeds vroeg voor en daarom fokus hy op enkele regs- asook wysheidstekste wat die vreemdeling politieke regte (Deut 17:15), ekonomiese aktiwiteite (Deut 15:1-3; 23:20) en kultiese deelname (Eks 12:43) ontsê.

 

Volgens Frances Klopper het ’n manlike lees van die Bybel groot onreg aan die vrou se beeld berokken. Sy pleit dan vir ’n vorm van Bybelinterpretasie wat respek sal toon vir die integriteit van die ‘ander’, die ‘slagoffer’ van ’n bepaalde lees van die teks. Ter illustrasie sal sy op Genesis 34 fokus. Jaco Gericke het die Pentateug en die filosofie van godsdiens bymekaargebring. Deur middel van meta-etiek gaan hy poog om die voorveronderstellings, wat morele gedrag bepaal, nader te omskryf. Hy worstel met allerlei vrae oor moraliteit en wonder of moraliteit eerder met smaak as met waarheid te make het. En Dirk Human bekyk ons tema vanuit die perspektief van Pro Psalms.

 

In die voorlaaste lesing van die kongres worstel Danie Veldsman met die probleem van ‘moraliteit’, die ‘morele mens’, die betekenis van ‘om moreel te wees’ en waarom dit goed is om die goeie na te streef en nooit daarmee op te hou nie. In sy referaat sal hy by die Ou Testament asook die voorafgaande Pro Pent-lesings aansluit.

 

Eckart Otto sluit Pro Pent 2008 af met die vraag of Moses ’n fundamentalis was. Aan die hand van ’n sinkroniese lees van die Pentateug en Moses se funksie daarbinne gaan hy die toekomstige taak van die Ou-Testamentiese wetenskap probeer verwoord.

Share this / Deel hierdie: