Die belangrikheid van teorieë
Die belangrikheid van Pentateugteorieë is oor en oor tydens Pro Pent se seminare beklemtoon. Sonder ‘n teorie vaar niemand wel nie. Teorieë is immers al wat ons het. En dít geld nie net vir die teologie of die Pentateug nie, maar vir alle vakrigtings en daarom sou teoretiese besinning part en deel van Pro Pent se aktiwiteite wees.

‘n Teks se woorde, begrippe asook teologie maak in, deur en met behulp van ‘n teorie sin. Ons kan nooit daarsonder werk nie. Die blote lees van ‘n teks mag dus belangrik wees en ‘n immanente lees van die Pentateug kan baie interessante perspektiewe oplewer, maar Pro Pent wil graag die Pentateug binne die histories-kritiese raamwerk van die afgelope twee honderd jaar lees en verstaan. Omdat die Pentateugteks nie vanself spreek nie, is dit sinvol om dit vanuit ‘n bepaalde teoretiese perspektief te lees.

Nog anders gestel: ons wil die Pentateugnavorsing van die afgelope twee eeue baie ernstig neem. In ons bestudering van die Pentateug moet hierdie eeue lange navorsing as ‘t ware saampraat. En die rede daarvoor is dat soveel kosbare insigte in die Pentateug se ontstaan, groei en teologie deur hierdie navorsing ontbloot is. In hierdie navorsinggeskiedenis is die denke, metodes en insigte van baie jare se geleerdes saamgepers en dít wil Pro Pent altyd weer opnuut toe-eien en gebruik.

Teorieë alleen is nie genoeg nie
Daar is ook ‘n anderkant van hierdie Pro-Pent-munt: die etiese (of teologiese) relevansie van hierdie teorieë. Dit het geen sin om Pentateugteorieë opsigself te bestudeer of bloot net die verskillende tradisielae in die teks te onderskei nie. Iets meer is nodig: die etiese (teologiese) konsekwensies van ‘n bepaalde teorie. Pro Pent wil dus nie net in blote teoretisering opgaan nie, maar die etiese (of teologiese) gevolge van ‘n teorie deurdink.

In die lig hiervan is besluit om voorlopig die teorie van ons Münchense partner, Eckart Otto, as werksteorie te gebruik. Die waarde van Otto se teorie is juis dat dit Pentateugteorie en etiek, die historiese konteks en destydse etiese vrae probeer integreer. Elke redaksiefase in die ontstaan van die Pentateug kan ‘n mens aan ‘n bepaalde etiese vraag of probleem koppel. ‘n Voorbeeld is Israel se konfrontasie met die neo-Assiriese invloed gedurende die sewende eeu voor Christus. Volgens Assiriese gewoonte het hulle hulle ryksgod, Assur, op die oorwonne volke afgedwing. Alle eer moes aan Assur gebring word en hierdie god moes aanbid word. Teenoor die Assiriese politiek is toe ‘n teenkonsep ontwikkel. Hierdie versetspoging is op ‘n briljante manier uitgevoer: Assiriese idees en terminologie is oorgeneem en so herskryf dat Jahwe alle eer moes ontvang. In hierdie verset het Israel sy eie identiteit ontdek en is die andersheid van sy God besef. Uit hierdie gebeurtenis vloei gevolglik allerlei ‘etiese vrae’ oor die verhouding tussen godsdiens en gemeenskap, die aard van verset, die aard van Israel se geloof in Jahwe, die kerk se houding teenoor staatsmag en nog ander sake voort.

Nog ‘n voorbeeld kom uit ‘n vergelyking tussen die Heksateugredaksie (HexRed) en die Pentateugredaksie (PentRed). In albei redaksies word die groot eties-teologiese probleme van die na-ballingskapse gemeenskap gereflekteer. In die Heksateugredaksie (HexRed) wat ons in die boeke Genesis tot en met Josua aantref, staan land en grond sentraal. Soos wat die ballinge se nageslag na 538 vC teruggekeer het, was daar al hoe meer spanning oor land. ’n Grondkrisis het mettergaan ontstaan omdat verskillende mense verskillende grondaansprake gehad het. Vir die Heksateugredaksie (HexRed) was ‘land’ die eintlike heilsgawe van Jahwe. In die Heksateugredaksie (HexRed) se grootse werk (wat vanaf Genesis 1 tot Josua 24 gestrek het) was alles op Israel se besit van die land afgestem. Hierdie klem op die land val vandag nog gunstig op die oor van menige Afrikaan, maar dit was net die eenkant van die munt.

Dan was daar ook nog die Pentateugredaksie (PentRed). In die Pentateugredaksie (PentRed) verneem ons die stem van diegene wat in diaspora verkeer. Wat van hulle vir die wie die land nie so belangrik is nie of wat nie deel aan die land het nie of in die diaspora was? Vir hulle word gesê die Tora (Genesis tot Deuteronomium) is die uitnemendste van Jahwe heilsgawes. Teenoor die Heksateugredaksie (HexRed) se klem op land word die Tora dus gestel. Die Tora was die eintlike gawe wat Israel moes koester. Gevolglik is die Pentateug van die boek Josua losgemaak en het die wette (soos in die Bondsboek, die Heiligheidskodeks en Deuteronomium) ‘n baie sentrale rol begin speel. Hierop moes Israel bly fokus en in hierdie wette moes Israel ‘sy vreugde vind, dit dag en nag oordink’ (Ps 1:2). Belangrik is weereens die ‘etiese konsekwensies’ wat hieruit voortvloei. Vir die debat oor grondregte in Afrika is die spanning tussen Heksateugredaksie (HexRed) en Pentateugredaksie (PentRed) uiters belangrik.