Teks: Ester 9:20-23, 27

Mordegai het hierdie gebeure laat opskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hul vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hul angs in blydskap verander het en hul rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as ‘n vaste gebruik aanvaar. … Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het, het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar op hierdie twee dae te vier.

 

Inleiding

Die afgelope week het Jode wêreldwyd Purim gevier. Die datum was 14 en 15 Adar.  Volgens Joodse gebruik begin sulke feeste reeds teen sononder van die vorige dag, dit wil sê, vanjaar, 2009 volgens ons kalender, het Purim reeds Maandagaand 9 Maart begin en Dinsdag en Woensdag voortgeduur totdat die son weer gesak het.  

 

Agtergrond

Die naam purim kom van die Hebreeuse woord pur wat beteken ‘met die lot’: die metode wat Haman gebruik het om die datum te kies waarop hy die Jode sou uitroei (Ester 3:7). Volgens Joodse tradisie dateer hierdie gebeure ongeveer 450 vC toe die Jode onder Persiese regering uitwissing in die oë gestaar het. Geleerdes is egter glad nie baie seker hieroor nie. Was dit letterlik histories waar? Daar is nie buite-bybelse bronne wat hierdie dramatiese geskiedenis bevestig nie. Verder ontbreek die tipiese religieuse motiewe wat so kenmerkend van ander Joodse feeste is. Byvoorbeeld, nie die Here nie, maar Mordegai gee opdrag dat hierdie fees voortaan gedenk moet word.  

Kan daar dalk parallelle met ander Ou Nabye Oosterse feeste wees? Die name Ester en Mordegai word soms gekoppel aan die name van die Babiloniese gode Ishtar en Marduk, en Haman en Vasti aan die Elamitiese gode Humman en Mashti. Hierdie tipe teorieë berus egter bloot op die ooreenkoms tussen die name, niks meer nie, en die feeste wat ter ere van hierdie gode gevier is, lewer ook geen duidelike bewyse nie. Die historiese oorsprong van Purim bly tot op hede ‘n raaisel.    

 

Purim deur die eeue

In Jerusalem is die Purim-fees so vroeg soos die 3e eeu vC gevier, want die LXX ken dit ook – as Phrourai (‘dae van beskerming’). Aanvanklik was dit ‘n sober fees. Families het die storie vir mekaar oorvertel en geskenke uitgeruil. Na die val van die tempel in 70 nC het die verhaal ‘n nuwe betekenis gekry. Ten spyte van die katastrofe sou hulle nie gaan lê nie. Die waagmoed en deursettingsvermoë van Ester en Mordegai het hulle hoop gegee en geïnspireer: bevryding en verlossing uit die hand van die vyand, is moontlik. Gedurende hierdie tyd is die boek Ester as deel van die Joodse kanon erken, en vind die eerste lesings hardop in die openbaar plaas.

          Sedertdien raak purim-feeste toenemend uitbundig van aard, veral onder die Babiloniese Jode. In die vierde eeu verklaar Raba die Wyse dat ‘n mens tydens Purim soveel behoort te drink dat jy nie meer die verskil agterkom tussen ‘vervloek is Haman’ en ‘geseënd is Mordegai’ nie (b. Meg. 7b)! Teen die Middeleeue word daar met volle oorgawe fees gevier. Veral in Italië en Suid-Frankryk, ongeveer gedurende die 12e eeu, was groot optogte en parodieë populêr. Tipies van hierdie parodieë was inversie en satire wat die spot gedryf het met religieuse en sosiale strukture. Talmoed-studente is toegelaat om hul onderwysers te bespot. In Oos-Europa is ‘n ‘Purim Rabbi’ verkies om diegene in religieuse en sosiale magsposisies belaglik te maak. Natuurlik het hierdie praktyke begin hand uitruk, en Purim het die fees geword waar oormatig gedobbel en gedrink is, en fopdossery algemeen voorgekom het – iets wat natuurlik baie streng deur die Torah verbied word (Deut 22:5)!

 

Purim vandag          

Na die Tweede Wêreldoorlog het Purim weereens ‘n nuwe betekenis gekry. Baie duidelike parallelle is tussen Haman en Hitler getrek. Alhoewel sommige van die moderne en gereformeerde Jode afgesien het van die gebruik om Purim te vier, bly dit ‘n populêre fees, veral onder Hasidiese en Kabbalistiese groepe en in die meer konserwatiewe kringe. Gesinne woon ‘n diens in die sinagoge by waar daar uit die megillah van Ester voorgelees word. Wanneer die naam van Haman genoem word, mag daar ‘n geraas gemaak word: sis, met die voete stamp of ‘n soort ratel rondswaai – genoem ‘n ‘Purim-ra’ashan’. ‘n Feesmaal – se’udat Purim – word genuttig. Vriende en familie deel oor en weer geskenke uit, gewoonlik in die vorm van kos, drank of ander lekkernye. Veral jong kinders word as ‘boodskappers’ gestuur om hierdie geskenke te gaan aflewer. Daar word ook verwag dat aalmoese aan hulpbehoewendes geskenk word, deesdae al meer in die vorm van geldelike donasies. Optogte, openbare feesviering, feestelike kleredrag en kostuums is steeds kenmerkend van Purim, veral in Joodse gemeenskappe en natuurlik in stede in Israel.           

          Purim is ‘n fees met ‘n nasionalistiese eerder as ‘n religieuse inslag, ‘n fees wat eie is aan die Joodse bevolking. Dis ‘n fees wat getuig van uitbundigheid en vreugde maar ook welwillendheid.  In ‘n wêreld wat maar nog nie van anti-semitisme bevry is nie, gee die verhaal van Ester en Mordegai hoop. Die Jerusalem Talmoed, Megillah 1/5a, maak die stelling dat, al sou die profetiese en hagiografiese werke ophou bestaan, die Boek Ester steeds onthou sal word en die Purim-fees steeds gevier word.

 

Bronne:

  • Rabbi Hayim Halevy Donin 1972. To be a Jew. A Guide to Jewish Observance in Contemporary Life. New York: Basic Books Inc. Publishers.
  • Longman T & Enns P 2008. Dictionary of the Old Testament. Wisdom, Poetry and Writings. Inter-Varsity Press. 
Share this / Deel hierdie: