Gelowige mense glo nie aan toeval nie. Ek meen dat alle Christelike groeperinge met hierdie stelling sal saamstem. Om dus te kyk na die merkwaardige ooreenkoms tussen die skelet en liggaamsorgane van mens en dier: bloed en bloedsirkulasie; hart en longe, brein en senuweestelsel, maak dit dus vir gelowiges, en vir teologiese nadenke noodsaaklik / onvermydelik om evolusie ernstig te neem. Gene en chromosome bestaan – in dier en mens. Ons mag nie – vanuit ‘n geloofsperspektief – hierdie evolusionêre ooreenkomste aan toeval oorlaat nie. Maar hoe benader ons dan hierdie gesprek tussen hulle wat voorstanders is van evolusie, en teologie nadenke waarin nie alleen God se bestaan bely word nie, maar God ook as Skepper?

Ek wil vanoggend ‘n saak daarvoor uitmaak dat jy – George – in jou uiteensetting die spelreëls van jou eie natuurwetenskaplike oortuiginge oortree. Dat jy onkant speel. Dis egter nie al nie. Ek wil ook ‘n saak daarvoor uitmaak dat baie godsdienstige groeperinge – nes jy – ook onkant speel. Om onkant te speel is om meer van die wetenskap te maak as wat jy mag – dis wat jy doen; om onkant te speel is om meer van geloof te maak as wat mag – dis wat baie godsdienstige groeperinge doen.

Om jou boek van 2008 “Geloof, bygeloof en ander wensdenkery” te lees, was nie lekker nie. Nie lekker om te lees die wyse – soms venynige wyse – waarop jy oor dinge wat vir geloofsgemeenskappe belangrik is, skrywe en dit amper sonder enige onderskeid eenvoudig (lees: oorvereenvoudig) van die tafel vee. God inkluis. Jy praat van lagwekkende bog; twak; oneties; gemanipuleer; Don Quijote-agtige windmeulbestormers. En hierteenoor stel jy jou lofrede van die natuurwetenskappe: die natuurwetenskappe wat die deur is om aan te klop vir antwoorde op die vrae na die lewe; die natuurwetenskappe wat nodig is om die narkose van die alledaagse te deurbreek. Nog nooit – voer jy aan – het die wetenskap soveel vermag om juis mense se kennis te verbreed en ons te bevry van die kettings van onkunde nie. Jy haal die Duitse skrywer Goethe aan wat gesê het: Niks is so skrikwekkend as onkunde in aksie nie.

Om vanoggend na jou te luister, was ook nie so lekker nie. Sterk kom die strekking deur dat godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is, dat – in die woorde van Weinberg –  die mees besondere bydrae van die wetenskap is, is dat dit dit vir mense moontlik maak om nie religieus te wees nie. Maar dis nie die punt nie: dit gaan nie hier oor wat lekker is of nie, maar om die noodsaaklike en onvermydelike gesprek tussen die voorstanders van evolusie en teologiese nadenke. Om die emosionele hype wat ontstaan het, aan te spreek. Jy stel indringende, uitdagende vrae; jy konfronteer teologiese nadenke, godsdienstige groeperinge met verpletterende en aardskuddende insigte; jy lê die broosheid van soveel oppervlakkige kerklike standpunte bloot.

En dis nie lekker nie. Maar dis goed. Dit moet. Ter wille van die integriteit van teologiese nadenke, maar nog dieper, ter wille van die belydenis van die heiligheid van God – ‘n heiligheid wat is om soos in ‘n verblindende son te kyk – moet ons praat oor dit wat die diepste sin van lewe bepaal en raak. Oor dit – in filosofiese taal gestel – wat die uitgestrektheid (let wel: uitgestrektheid) van die infinitief van menswees raak. Daaroor moet ons praat, en wel as die mees fundamentele vraag tov die sin van lewe. Van die Teologiese Fakulteit van Pretoria was hierdie kritiese ingesteldheid – om ook nie weg te skram van moeilike en nuwe uitdaginge – nog altyd deel.

Ek wil eerstens met jou saamstem dat die standpunte en reaksie van baie godsdienstige groepe op die evolusie- geloof/teologie gesprek, inderdaad gekritiseer moet word:

–          Geestelike leiers se oppervlakkige clichés

–          Godsdienstige arrogansie (dit is: om oor onderwerpe te praat waarvan hulle weinig moeite gedoen het om iets van te verstaan)

–          Onbeholpenheid in die hantering van die verhouding Natuurwetenskap-Teologie

–          Oninsigtelike amptelike kerklike uitsprake

 

Noem maar op. Ernstige teologiese nadenke wil ook dit aanspreek. Wil ook, moet ook – om maar net een vb te noem – die shows aanspreek van “Crossing over” / “Aan die ander kant”; standpunte soos die van kreasionisme / IO (Intelligente Ontwerp) aanspreek; Jy doen dit in jou boek. Teologiese nadenke moet ook. En meer nog: Jy maak hierin teologiese nadenke blywend bewus van die NT perspektief as hermeneutiese waarskuwing: om bewus te wees van die balk in die eie oog.

Hierdie bewus wees van die balk – as beklemtoning van die historisiteit van ons nadenke en as beklemtoning van die oproep tot herbesinning – is ingebed in die breë gang / stroom van die geskiedenis op ‘n merkwaardige wyse: die Westerse mens se verstaan van die self, die wêreld was tot en met die Middeleeue redelik veilig (in die mate wat ek dit veilig kan noem tov dit wat sou volg!). En selfs na die ingrypende verskuiwinge sedert Kopernikus, Galileo Galilei, Kepler, Newton, Einstein waarin die aarde nie meer die middelpunt was nie, waarin tyd en ruimte absoluut geword het; waarin daar nie meer vaste plekke en beweginge was nie! Tog, tog was daar nog plek vir God as Skepper, Ontwerper, Onderhouder van alles. Maar na Darwin lyk dit anders. Radikaal anders. Nog nooit in die geskiedenis van die mensheid – en spesifiek tov die selfverstaan van die Westerse mens – is so ingrypende verskuiwing teweeggebring nie. Nie meer ‘n vloei van hiërargiese denke van bo na onder nie, van hoëre bewussyn (denke) na laer materie nie – nee, dis nou andersom; nie meer van plan / ontwerp vooraf nie, maar van agterna; kousaliteit, en by name natuurlike seleksie word die allesbepalende beginsel; oorsaaklikheid trek nie voor nie, maar stoot van agter. En dan – die doodskoot – kom Genetika (“human genome”) toe nog by. In hierdie radikale ingryping is daar blykbaar nie meer plek vir God as Skepper nie, Vir God as Ontwerper nie. Is dit so?

Net voor ek die vraag “Is dit so?” aanpak, twee belangrike tussenopmerkinge: een opmerking as voorlopige samevatting tov evolusie; die ander opmerking tov teologiese nadenke.

Wat die evolusieleer aanbetref: Ons sal dit in ons teologiese nadenke ernstig moet neem as ons nie ontrou aan ons eie oortuiging wil wees dat niks in God se goeie skepping aan toeval oorgelaat kan word nie. Die evolusieteorie is ‘n stabiele teorie. Om dit net ‘n teorie te noem soos wat kritici van evolusieteorie doen, is ‘n gemaklike uitweg wat nie vreeslik goed werk nie. Om op die sogenaamde “missing links” te probeer fokus is ook geen gelukkige invalshoek nie. Dat daar uitstaande vrae is oor evolusie is egter ook so. Maar ons sal moet erken dat daar geen goeie wetenskaplike – let wel: wetenskaplike – rede is om die mens van evolusie uit te sluit nie. Dit is vandag die standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Wat teologiese nadenke aanbetref, die volgende: Ek mis in Claassen se aanvat van godsdienstigheid enige (teologiese) diepgang. Net soos wat hy tov die natuurwetenskaplike denke aandring dat ons die eietydse menere – ja, menere – van evolusie moet lees: Dawkins, Jones, Zimmer, Fortey, sou ek wou vra: waarom ontbreek die teologiese diepgang – om maar net selektief enkele name te noem – vanaf die Kappodosiese Kerkvaders, Anselmus, Thomas van Aquinas ens. uit jou waardering van teologiese denke. Net dit: Om van jou opponent se diskoers ‘n strooipop te maak en af te skiet (asof dit maar net “Crossing over” / “Aan die anderkant” gedagtetjies is), is akademies oneerlik en maklik. Maar erger nog: waarom ontbreek die eietydse invloedryke diskoers van evolusionêre epistemologie in jou standpuntinname? Juis hierdie diskoers het in die epistemiese ruimte wat geopen het tussen die natuurwetenskappe en teologie (ogv ons gedeelde insig dat ons redelike vermoëns nie alleen gevorm is deur die meganisme van biologiese evolusie nie, maar ook dat dit bepalend is vir die wyse waarop ons ons wêreld ken) ons bewus gemaak van veral die teorie-geladenheid van alle denke, bewus gemaak het van die paradigma-afhanklikheid (na Thomas Kung) van al ons kennis. Bewus gemaak het van transversale rasionaliteit. In kort: Bewus gemaak van die interpretatiewe, hermeneutiese dimensie van al ons kennis. Al ons kennis – teologiese en natuurwetenskaplike kennis! En ook nog die bevrydende insig wat in hierdie epistemiese ruimte prut: dat ons nie gevangenes van ons gene is nie. Hulle het ‘n “lewe van hulle eie” ontwikkel wat ons vandag ken nie alleen in die menslike vermoë van redelike denke nie, maar ook in Estetika, Moraliteit en Religiositeit.

Is dit dus dan so dat die aanvaarding van evolusie logieserwyse beteken dat God nie bestaan nie? Dat gelowiges nie God as skepper mag bely nie. Nee. Dis nie so nie. Ek vat saam en sluit af met hierdie vraag na bestaan of nie-bestaan van God.

Die spel van die wetenskap moet gespeel word volgens die reëls van daardie spel. Vir die natuurwetenskappe is dit evidensie wat berus op (empiriese) toetsbaarheid, die vraag na objektiwiteit, kritiese distansie, en rasionaliteit. As jy sou meen om die nie-bestaan van God te bewys, oortree jy die grense van die empiriese en toetsbare. Dan maak jy jou skuldig aan onwetenskaplikheid. Dis onwetenskaplik om te probeer bewys dat God nie bestaan nie. Dis onwetenskaplik om vanuit menslike ellende, lyding en natuurrampe te wil redeneer – selfs al is dit ‘n verbysterende moeilike vraag – dat God nie bestaan nie. Jy oortree jou eie reëls vir die maak van uitsprake.  Jy speel as’t ware onkant. In jou eie woorde:

“Dit is egter wel die plig van gelowiges om vir ‘n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die gode waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.” En ook: “Gelowiges sê: die bestaan of nie bestaan van God kan nie deur die wetenskap bewys word nie. Dit is ‘n veilige skans waaragter geen rasionele en intelligente mens behoort te skuil nie.”

Onwetenskaplikheid is ook ‘n spel: maar dit is onkantspel (Antonites). Dit is om van wetenskap ‘n kwasi-ideologie te maak. Maar net so vind ons ook dat godsdienstige groeperinge hulle aan onkantspel skuldig maak: ook meer maak van geloof as wat dit kan wees. Asof geloof die bestaan van God kan bewys. Ook dit is onkantspel. Ons vind dit by die kreasioniste. Vind dit by diegene wat van evolusie ‘n sogenaamde ateïstiese projek wil maak. Daar is dus ‘n wetenskaplike en onwetenskaplike spel – en elkeen het eie spelreëls.

Maar daar is ook – en ek gebruik hier die term van die filosoof van UP Alex Antonites – nie-wetenskaplikheid.  Ek sou dit ook kon noem vanuit die fenomelogie: ‘n intensionaliteit vir lewe. Benewens ‘n teoretiese intensionaliteit (bv in die natuurwetenskaplike verobjektivering van alles) is daar in die spel van die lewe, ‘n intensionaliteit vir lewe: dit is om die skoonheid van ‘n roos of die prag van die sterrehemel in die Karoo te geniet, om vir jou lewensmaat te kan sê – ek het jou lief. Alles nie-wetenskaplik. Maar dit maak dit nie onwaar nie. Net soos om te kan bely: Ek glo in God, Skepper van die hemel en die aarde. Hierdie belydenis wat ‘n antwoord is op die uitnodiging wat kom vanuit die stroom van geskiedenis om in God te glo, jou lewe aan God toe te vertrou, bly die voortdurende taak van teologiese nadenke. Daarmee kom saam om al die Godsvoorstellinge wat deel geword het van hierdie stroom tot vandag toe, met alles wat in ons is en in afhanklikheid te onderwerp aan kritiese nadenke aan die hand van die bybelse getuienis, tradisie, die natuur, redelike denke en uit ervaring.

Share this / Deel hierdie: