Die woord ‘Reformasie’ of ‘Hervorming’ verwys in hierdie reeks na die gebeure wat in 1517 begin en tot grootskaalse nuwe denke oor kerk en teologie gelei het en enorme sosio-politieke veranderinge veroorsaak het. Die term verwys ook na leiers soos Martin Luther, Zwingli, Melanchton en andere wat so radikaal nuut gedink het dat dit tot die afstigting van die Middeleeuse Rooms-Katolieke Kerk gelei het. Alhoewel die Reformasie primêr ‘n religieuse beweging was, was die invloed daarvan op gewone mense se lewens asook die ekonomie en die staat ingrypend. Inderdaad was die hervorming van 1517 nie die eerste in die kerkgeskiedenis nie, maar geen ander het so ‘n beroering in die destydse wêreld veroorsaak nie.

Amper was dit die einde

En tog het alles in 1546 amper tot ‘n stilstand gekom want in die nag van 18 Februarie het Luther ver van sy woonplek Wittenberg in ‘n herberg in sy geboortestad Eisleben gesterf. By hom was sy ou vriend en die predikant van Halle, Justus Jonas, wat hom in sy laaste ure bygestaan het. Toe alles om drie uur die oggend van 18 Februarie verby was, het Justus Jona hom onttrek en ‘n aantal briewe geskryf. Een was aan Philippus Melanchton, vriend, medestryder en kollega van Luther in Wittenberg en Jonas het dié brief spoedpos gestuur. Dit het Melanchton eers vroegoggend van die negentiende Februarie bereik terwyl hy met ‘n lesing oor die Romeinebrief besig was. Droefheid het hom oorweldig en stotterend herhaal hy Elisa se woorde in 2 Konings 2:12 toe Elia voor hom opgevaar en verdwyn het: ‘My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters’ (Oberman 1988:13-18).

Melanchton se woorde het nogal die onmiddellik dillemma goed verwoord: die leier is dood en hoe sou hulle kon voortgaan. In dié woorde van Melanchton word iets van die onmiddellike probleme van daardie oomblik verwoord: die leier is dood en hoe sou hulle sonder hom kon voortgaan. Luther het alles begin, die proses bestuur en tot groot hoogtes gevoer, maar by sy sterfbed het alles begin kantel. Sy dood het groot ontwrigting veroorsaak en daar was geen waarborg dat die Reformasie sou oorleef nie. Luther se dood was nie net die einde van ‘n mens se lewe nie, maar ook die Reformasie se voortbestaan het skielik aan ‘n lyntjie gehang..

Die kontra-Reformasie

Behalwe Luther se dood en al die probleme wat dit vir die ‘binnegroep’ in Wittenberg veroorsaak het, was daar ook die ‘buitegroep’ wat ons die kontra-Reformasie kan noem. Ons moet egter versigtig met die woord ‘kontra-Reformasie’ omgaan want kerkhistorici het dit eintlik eers na 1870 begin gebruik om die verset teen die Hervorming van 1517 te beskryf. Die kontra-Reformasie was egter meer as ‘n blote versetsbeweging want lank voor 1517 was daar al pogings tot hervorming binne die katolieke kerk en in plaas van ‘kontra-Reformasie’ sou ons ook van ‘Katolieke Reformasie’ of ‘Restourasie’ kan praat. Hoe dit ook al sy, daar is veel gedoen om die Reformasie se invloed te stuit en soms is gewonder of die Reformasie na Luther se dood sou oorleef.

Een van die kragte wat die Reformasie se vordering bemoeilik het, was die sukses van Ignatius van Loyola se bediening. Hy was ‘n Spaanse edelman wat in ‘n oorlog swaar gewond is en toe tot bekering gekom het en al sy besittings weggegee en ‘n priester geword het. In 1540 het hy met goedkeuring van pous Paulus III die Jesuïete-orde gestig wat onder andere die Reformasie se invloed moes stuit. Dié orde het al van die Reformasie se beginjare gewerk en hulle ideaal was om verlore grond vir die katolieke kerk terug te wen. Elke lid van die orde het ‘n gelofte van kuisheid, armoede en ‘n bereidheid tot sendingwerk afgelê en hulle werk het uit prediking, pastorale sorg, liefdadigheid, onderrig en sondebelydenis (bieg) bestaan. Ten tye van Luther se dood het dié groep al baie bereik en het met groot sukses die katolieke geloof uitgebrei en gevestig (Denzler & Andressen 1988:283-285).

‘n Paar weke na Luther se dood word op 15 Maart 1546 besluit op ‘n byeenkoms wat later die ‘Konsilie van Trente’ of die ‘Concilium Tridentinum’ genoem sou word en wat die katolieke leer wou herbevestig. Daar is toe onder andere besluit om naas die Skrif die kerklike tradisie met dieselfde eerbied te beskou en dat die kerk oor die betekenis van die Skrif sou besluit. Hierdie en ander besluite het die Reformatoriese siening van Skrif en kerk onder druk geplaas.

Enkele maande na die dood van Luther ontstaan daar in Julie 1546 ‘n burgeroorlog in die Duitse Ryk met baie slegte gevolge vir die Reformasiegesindes. Stede wat hervormingsgesind was, is gedegradeer en moes weer katoliek geword. Wittenberg, die Lutherstad, was so ‘n stad wat op 19 Mei 1547 weer katoliek geword het asook Constanz wat gedegradeer is en ‘n katolieke stad geword het (Oberman 1988:20-21).

In 1555 is daar in Augsburg egter op godsdiensvrede ooreengekom en dit het die Reformatoriese kerke gehelp het om in die sestiende eeu te oorleef. Aan die einde van die Dertigjarige-burgeroorlog in 1648 is die voorwaarde geskep vir die Reformasie om te bloei en vooruit te gaan.

Ten spyte van ongunstige omstandighede het die vroeë Reformasie oorleef en met die ‘byvoeging’ van die Calviniste en ander groepe het dit ‘n kragtige beweging geword en ‘n magtige invloed op die samelewing uitgeoefen. Die Reformasie het die destydse wêreld omgekeer en tot vandag toe nog voel ons die gevolge van dié beweging. Ons noem net twee voorbeelde: die opkoms van die individu en die vorming van die kapitalisme.

Die opkoms van die individu

Luther en die reformatoriese verset het tot die individu se herontdekking gelei. Dít was nogal ’n heel rewolusionêre gedagte want in die plek van die ‘kollektief’ (die kerk as instituut) het die enkeling, die individu gekom. Elkeen het sy/haar eie lot bepaal. Geen heil was meer van die kerk afhanklik nie, maar die enkeling se verhouding met God het alles bepaal. In 1520 het Luther ’n boek (‘De libertate christiana’) oor die vryheid van die Christen geskryf en gesê dat die gelowige ’n vrye mens is, die heer van sy eie lewe en niemand se onderdaan nie. En dié klem op die individu het groot invloed uitgeoefen.

‘n Klompie jare gelede het ‘n voormalige Nederlandse premier, Jan Peter Balkenende, gesê die Reformasie het van Nederland ‘n oop en vrye gemeenskap gemaak en’n soort individu gevorm wat sy/haar eie lewe deur keuses en optrede geskep het en wat alleen aan God verantwoording verskuldig was. Hierdie nadruk op die eie verantwoordelikheid veronderstel ook kritiese nadenke: ‘Die nadruk op de eigen verantwoordelijkheid heeft door de eeuwen heen ook het onderzoekende en kritische karakter van het calvinisme bepaald. Verantwoordelijkheid vereist immers dat mensen zelf kritisch nadenken’ (-my kursivering). Die opkoms van die individu, eie verantwoordelikheid en kritiese denke hoort saam en is die hedendaagse produkte van die Reformasie.

Kapitalisme

Nog ‘n voorbeeld is die Reformasie se enorme bydrae tot die vorming van die kapitalisme. Die gevolg van Luther en die sestiende eeuse teologie was ’n totaal ander denke oor die mens en arbeid. Beroepsarbeid het nou ‘n roeping van God geword en moes binne-in hierdie lewe, hierdie wêreld beoefen word. Nooit weer moes dit in asketiese afsondering opgaan nie, maar moes nimmereindigend in die alledaagse lewe beoefen word (Weber 1920a:163).

En veral by die Puriteine kan ’n mens hierdie nuwe beroepsetiek aan die werk sien (Weber 1920a:163). Hulle het roepingsbewustheid, harde werk, getrouheid, spaarsin, ‘n afkeer van wêreldse genietinge asook strenge Sabbatsheiliging deur die individu beklemtoon. En hoe harder, kreatiewer elkeen gewerk en meer en meer geld gemaak het, was dit ‘n teken van God se goeie guns. Dít het weer tot nog harder arbeid en groter geloofsekerheid gelei. Vir mistieke onttrekking was daar geen plek nie en al wat van die Middeleeuse askese oorgebly het, was ‘innerweltliche Askese’ wat deur elkeen binne-in die wêreld beoefen moes word (Weber 1920a:118-119). Dít was ‘n asketiese leefstyl (soberheid, harde werk, spaarsin) wat deur harde werk en allerlei vernuftige maniere binne-in die wêreld gestalte gekry moes gekry het. Kortom: die Calvinis en Puritein kon sy ‘certitudo salutis’ vanuit sy ekonomiese aktiwiteite ‘aflees’ en gemoedsrus in kapitaalvermeerdering gevind het (Weber 1920a:104,108,130).

Slotwoord

Protestante ken nie die sestiende eeuse Reformasie en die sosiaal-poltieke-ekonomiese krag wat daarin opgesluit lê nie. Meestal word dit as ‘Calvinisme’ of ‘gerefomeerd’ of wat ook al afgemaak en bespotlik voorgestel. So ‘n siening toon ’n enorme onkunde ten opsigte van die primêre bronne, sosiale kragte en maatskaplike gevolge van daardie beweging wat sedert die laat-Middeleeue ons wêreld tot en met verander het. Dit bly die moeite werd om die Reformasie te bestudeer en in die volgende artikel meer oor die laat-Middeleeuse konteks van die Reformasie.

 

Bronnelys

  • Bakhuizen van den Brink, J N 1966. Ecclesia, II, ‘S-Gravenhage: Martinus Nijhoff, 1966, 29.
  • De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen: Kok.
  • Denzler, G & Andresse, C 1988. Wörterbuch der Kirchengeschichte. München: DTV.
  • Parsons, T 1966. Introduction, in Weber, M, Sociology of religion, xix-lxvii. London: Methuen & Co Ltd.
  • Shils, E A 1949. Foreword, in Weber, M, The methodology of the social sciences iii-x. New York: The Free Press.
  • Weber, M 1920a. Die protestantische Ethik und der Geist des Kapitalismus, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 17-206. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)
  • Weber, M 1920b. Die protestantischen Sekten und der Geist des Kapitalismus, in Gesammelte Aufsätze zur Religionssoziologie I, 207-236. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing)