Geen breuk nodig 

Dikwels word gemeen dat die Reformasie so ‘n radikaal nuwe era begin het dat die bande met die Middeleeue nie so belangrik is nie. Met die Reformasie het daar dan so iets nuut ontstaan dat die Middeleeue soos ‘n skulp oopgegaan en net ‘n leë dop het oorgebly. ‘n Onbelangrike dop wat nie nodig is om die Reformasie en mense soos Luther te verstaan nie. So ‘n siening maak van die Reformasie ‘n kontekslose en a-historiese gebeurtenis wat bloot dogmaties en teologies verstaan moet word. So ‘n benadering lei uiteindelik tot ‘n geweldige verskraling van die 1517-gebeure sowel as die Reformatoriese teologie wat daaruit gegroei het (vgl Oberman 1992:18-21).

Die Reformasie het nie sommer net gebeur nie, maar is deur die sosiale en intellektuele kragte van die laat-Middeleeue gevorm en moet as deel van die gebeurestroom tussen die jare 1400 tot 1600 verstaan word. Anders gestel: die Reformasie was so in die denkwêreld van die laat-Middeleeue ingebed dat die gebeure van 1517 en die daaropvolgende jare slegs binne die wêreld van die laat-Middeleeue begryp kan word (Hamm 2008a:1-27).

‘n Duitse kerkhistorikus van die Universiteit van Erlangen-Nürnberg, Berndt Hamm, verduidelik dit aan die hand van die term ‘Emergenz’ wat van die Latynse ‘emergere’ afgelei is en wat ‘te voorskyn tree’, ‘verskyn’, ‘sigbaar word’ beteken (vgl Oberman 2003:23). En die beeld wat hy gebruik, is dié van ‘n seekoei wat stadig maar seker uit die water opstaan. Aanvanklik is net die ore van die dier sigbaar, maar dan word dele van sy liggaam stuk-stuk duideliker totdat die dier in sy volle glorie verskyn en die water nog van hom afdrup. Daar bestaan ‘n kontinuiteit en ‘n samehang tussen die vorige toestand in die water en die huidige gestalte van die dier. Dit is dieselfde seekoei, maar ons sien nuwe liggaamsdele wat vroeër nog onder water was. En wat ons sien, is nie iets anders as wat onder die water was nie. Dit is net ‘n nuwe konfigurasie van wat toe nog in die water verborge was en nou verskyn het. Nog anders gestel: daar is ‘n wesenseenheid tussen die watertoestand en die dier se groter volheid nadat dit uit die water opgestaan het (Hamm 2008a:1-5).

Dié beeld help ons ook om die verhouding laat-Middeleeue en Reformasie te verstaan. Die laat-Middeleeue was as’t ware die lewensruimte (of ‘lewenswater’) waaruit die Reformasie ontstaan het. Soos in die geval van die seekoei was baie min van die Reformasie in 1517 sigbaar, maar met verloop van tyd is ‘n teologie en ‘n denke ontwikkel wat die lewe van gewone gelowiges radikaal omvergewerp en groot kerklike onrus veroorsaak het. En alhoewel die Reformasie die sestiende eeu radikaal verander en omgekeer het, is die band met die laat-Middeleeue nie sondermeer afgesny nie en bly dit steeds die verstaanshorison waarbinne ons die Reformasie moet verstaan.

Foucault se episteme

Die Franse filkosoof Michel Foucault het ons op die noue band tussen historiese ruimte of historiese konteks en kennis gewys. Hy het sosiale kontekste met sekere tipes kennis verbind; hy was geinteresseerd in die soort of tipe kennis wat in en deur sekere sosiale kontekste geskep is. En hy dít reggekry deur die kulturele of intellektuele kodes onderliggend aan elke era in die geskiedenis te begryp. Die woord wat hy daarvoor gebruik het, is ‘episteme’ of ‘intellektuele ondergrond’ (Foucault 2009:xxiii).

Eenvoudig gestel: die Reformasie soos wat ons dit na 1517 leer ken het, is ook deur die intellektuele kodes of episteme van die laat-Middeleeue geslyp en om die beginjare van Reformasie te begryp, impliseer dat ons hierdie laat-Middeleeuse intellektuele ondergrond moet verstaan. En om weer Hamm se beeld van die seekoei te gebruik: soos wat die seekoei byna verborge gelê en dan stadig maar seker verskyn so was dit ook met die Reformasie gesteld: dit het nie sommer in 1517 met een klap in sy volheid verskyn nie, maar het stelselmatig uit die ‘water’ van die laat-Middeleeue tot volle wasdom gegroei.

Om hierdie verweefdheid met die laat-Middeleeue denke te illustreer, let ons hieronder op ‘n paar voorbeelde. Die eerste is die teologiese denkwêreld waarbinne iemand soos Luther geleef en gewerk het.

Teologiese dampkring

Een manier om hierdie dampkring te probeer peil, is om op die vyfde Lateraanse kongres wat vanaf 1512 tot 1517 te let. Tydens dié konsilie is besluite geneem wat as’t ware die stand van die teologiese en geloofsdenke van dié tyd weerspieël. Een besluit het die pous se mag versterk. Voor die byeenkoms het die gedagte by baie geleef dat ‘n pous deur ‘n konsilie aangestel en afgesit moet word. (ook ‘Konsiliarisme’ genoem), maar tydens die Konsilie is dié gedagte verwerp en het die pous net sterker uit die stryd getree. Ook die ampte soos biskoppe en kardinale het belangriker geword en daar is gesê dat hulle (en net hulle) die gelowiges kon help om die Bybel reg te verstaan want hulle het presies geweet hoe hóé want hulle het die tradisie (die interpretasie-geskiedenis ) goed geken en getrou gevolg.

Nog ‘n besluit het weereens beklemtoon dat daar buite die kerk geen saligheid was nie. Volgens Middeleeuse oortuiging was geloof, goeie werke, verlossing, heil, ewige lewe aan die kerk as instituut gekoppel; die kerk het die gelowige afhanklik van haar gemaak; die gelowige was ook vir sy/haar geestelike welsyn van die kerk afhanklik; die kerk wou ‘n greep op die gelowige se binneste kry; verbondenheid aan die kerk, die uiterlike instelling was daarom beslissend want daarbuite was daar geen saligheid nie (Bakhuizen van den Brink 1966:29).

Ten slotte was daar die heilsmiddele wat jou op die lewenspad moes begelei: die nagmaal kon jou ook help want die tekens het Christus se bloed en liggaam geword; dan was daar ook ‘n horde vroomheidsoefeninge (soos vas, gebed, selfkastyding) en as jy sou val, was onse moeder Maria (die ‘mater misericordiae’) darem daar. Kortom: geloof in die laat-Middeleeue was ‘n kollektiewe ding, iets wat die kerk beheer het en wat kritiekloos aanvaar is (Adam 1968).

Bogenoemde was die laat-Middeleeuse teologiese denkwêreld waarbinne iemand soos Luther sou opgroei, ‘n kloosterling word en nog later as ‘n dosent aan die Universiteit van Wittenberg werk. En volg ons vir ‘n oomblik Foucault se denke, vorm bogenoemde besluite die intellektuele ondergrond wat gewone gelowiges se lewens gevorm het en wat ons ook in die volgende voorbeeld kan sien: Luther skrik vir ‘n donderslag en hy interpreteer dit vanuit ‘n laat-Middeleeuse teologiese perspektief.

‘n Skokuitroep

Op 2 Julie 1505 het Luther vir ‘n donderslag duskant geskrik en toe gesê: ‘Heilige Anna, ek sal ‘n monnik word’. Hoekom gebruik hy hierdie spesifieke woorde? Die antwoord is dalk heeleenvoudig: dit weerspieël op ‘n besondere wyse iets van die laat-Middeleeuse denke. Dat hy geskrik het, is heeltemal normaal, maar dalk skuil daar ‘n bepaalde denke agter hierdie skok. Soos vele in die Middeleeue was Hy bang vir God want God was ‘n God van oordeel en in die donderslag het hy iets van God se kwaaiheid gehoor.

Waarskynlik is dit geïntensifeer deur sy ervaringe in die ouerhuis. Beide ouers, Hans en Margarete Luder, het ooreenkomstig die tydsgees die kinders swaar gestraf. Luther vertel self hoe hard sy pa hom op ‘n keer geslaan het dat hy die ouerhuis wou verlaat en die verhouding tussen hulle ‘n ruklank versteur was (Oberman 1988:93). Al die ervaringe van kwaai ouers en sy vrees vir ‘n kwaai God het Luther se skok verskerp en daarom die woorde ‘Heilige Anna, ek sal ‘n monnik word’.

Waarom Anna? Sy was die moeder van Maria en is lank voor Luther al in Duitsland vereer en tydens die skok van die donderslag het sy twee dinge vir Luther beteken. Eerstens was sy die beskermheilige wat hom in die nood en angs van die donderslag sou beskerm, maar sy was ook die beskermvrou van sy pa se myn en daarom waardig om vereer te word.

Waarom wou hy monnik word? Hy was maar een en twintig, het sopas ‘n meestersgraad in die regte verwerf en ‘n mooi regsloopbaan het op hom gewag, maar toe kom die dag in Julie en die donderslag en Luther skrik en hy beloof om ‘n priester te word. Hoekom? Luther was bang en hierdie angs het hom klooster toe gedryf want dít was sy enigste hoop op saligheid. In die klooster sou hy reg kon leef, boete oor sy sonde doen, goeie dade verrig en as’t ware so na God toe opklim.

Luther het dus daardie Juliedag se gebeure soos ‘n laat-Middeleeuse gelowige gelees en verstaan: God het gepraat, hy het geskrik, Anna sou hom beskerm en die klooster sou sy enigste uitweg wees. Op 17 Julie, net meer as twee weke na die ervaring by die Stotternheim, sluit hy hom dan by die Augustynse klooser in Erfurt aan om monnik te word (Oberman 1988:115).

 ‘n Laat-Middeleeuse antwoord wat die nie werk nie

Luther was ‘n goeie monnik: hy het die toilette skoongemaak, met skottelgoed gehelp en nog ander nederige take vervul. Iets het egter elke dag aan hom gevreet: As God dan kwaai is, hoe kon hy dan God se guns wen? Wat moes hy maak om hemel toe te gaan?

Natuurlik het die kerk antwoorde gehad (vgl hierbo) en sy biegvader Johann Von Staupitz het hom geestelik begelei. Hy het hom vertel van God se genade, Christus se soendood, maar daar iets het kortgekom: hy wat Luther was, moes ook iets doen en dan sou God hom halfpad tegemoetkom; God het die mens so gemaak dat hy deur eie krag en insig veel van God kan verstaan (vgl Lamberigts 2003:39-48; 2007:219-223; 2008:258-279).’n Sinnetjie wat oor en oor gebruik was, was ‘facere quod in se est’: ‘doen wat binne-in jou is’, gebruik jou natuurlike talente, gee uiting aan jou innerlike vermoëns. Iemand wat sy natuurlike vermoëns gebruik, kon as ‘t ware iets van die geloof uit homself bewerkstellig (Oberman 1992:88,90).

Vir Luther het dié laat-Middeleeuse teologie nie gewerk nie en het mettertyd tot ander insigte gekom, maar dit geheim gehou totdat iets in Januarie 1517 gebeur het wat alles verander het: Pous Leo X het besluit om aflate uit te reik.

Die aflaathandel was die eerste vonk

Aflate was natuurlik niks nuut nie want Clemens VI het al in 1343 daarmee begin. Aanvanklik sou dit elke vyftig jaar gebeur, maar telkens wanneer die pous se geld geknyp het, het aflate uitkoms gebied. Vir Luther was dit ook nie so vreemd nie want in 1506 het Julius I aflate verkoop omdat hy die Petruskerk in Rome klaar wou bou (vgl. Holl 1932: 544-82; Ebeling 1969:48-89; Ebeling 1971:51-54)

Aan die begin van 1517 het Leo toe die mense van Fugger, die Duitse bank wat die kerk se geld hanteer, besoek. Hulle sou teen ’n goeie kommissie die aflaathandel finansier, monitor en bestuur (Bainton 1965:56-57). Tetzel, ’n Dominikaan, sou weer oral rondreis en die hele projek propageer en bestuur. Volgens Tetzel en sy helpers het die aflaat al jou sondes vergewe, jou van ewige skuld bevry en ook jou geliefdes uit die vagevuur verlos.

Vir Luther was dit een te veel en het hy sy vyf en negentig stellings in Latyn geskryf en op die Wittenbergse kerkdeur vasgeslaan (vgl Bainton 1965:60-64). Dat Luther sy stellinge teen die kerkdeur vasgeslaan het, is ook tipies van die tyd. Volgens die statute van die Wittenbergse universiteit moes stellings oor omstrede sake aan die kerkdeur vasgespyker en almal na ‘n openbare debat uitgenooi word. Die stellings begin met ‘n inleiding waarin gesê word dat ter wille van die waarheid die onderstaande stellings deur die ‘eerbiedwaardige Vader Martin Luther’ verdedig sal word. Almal was welkom en diegene wat nie teenwoordig kon wees nie, kon hulle vrae voor die tyd skriftelik inhandig. Dit was ook belangrik dat Luther die stellings op 31 Oktober aan die slotkerk se deure moes vasslaan want dit was die fees van die Allerheiligste waartydens baie mense die kerk sou besoek en ook aflate sou koop (Hamm 2008b:32).

Interessant die draaie wat die geskiedenis met ‘n mens loop want as Luther in Erfurt as dosent aangebly en nie in 1510 na Wittenberg getrek het nie, sou 31 Oktober 1517 dalk nooit plaasgevind het nie. In 1479 is ‘n bekende Erfurtse teoloog tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy die aflaathandel ‘vroom bedrog’ genoem het. Hy was verder krities teenoor die pous en die konsilies en het hom op die Skrif as die enigste grond vir sy teologie beroep. Dié gebeure het ‘n donker skadu oor die Erfurtse teologiese fakulteit gewerp en dit is byna ondenkbaar dat Luther agt en dertig jaar later sy 95 stellings en sy skerp kritiek op die aflaathandel in Erfurt sou vasspyker (Oberman 1988:118).

 Kortom

Die beginjare van die Reformasie moet in die lig van die laat-Middeleeue begryp word. Die 1517-gebeure was die uitdrukking van ‘n spesifieke era se denke, die manifestasie van ‘n lewenservaring en ‘n bepaalde teologie asook die Reformasie se reaksie daarop. In ‘n volgende artikel word vertel hoe die denke tussen 1400 en 1600 Luther gevorm het.

Bronnelys

  • Adam, A 1968. Lehrbuch der Dogmengeschichte, Vol 2. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus Mohn.
  • Bainton, R 1964. Here I stand. New York: Mentor Books.
  • Bakhuizen van den Brink, J N & Dankbaar, W F 1967. Handboek der kerkgeschiedenis, vol 3. Den Haag: Bert Bakker.
  • Bornkamm, H 1979. Martin Luther. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Denzler, G & Andresse, C 1988. Wörterbuch der Kirchengeschichte. Munich: DTV.
  • Ebeling, G 1964. Luther. Tubingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • Ebeling, G 1969. Evangelische Evangelienauslegung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • Ebeling, G 1971. Lutherstudien,  Vol 1. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • Foucault, M., 2009, The Order of Things, Routledge, London.
  • Hamm, B 2008a. Die Emergenz der Reformation, in Hamm B & Welker, M, Die Reformation – Potentiale der Freiheit. Tubingen: Mohr Siebeck, 1-27.
  • Hamm, B 2008b. Die Einheit der Reformation in ihrer Vielfalt. Die Freiheitspotential der 95 Thesen vom 31. Oktober 1517. Die Reformation – Potentiale der Freiheit. Tubingen: Mohr Siebeck, 29-66.
  • Holl, K 1932. Luthers Bedeutung für den fortschrift der Ausle­gungskunst, in Gesammelte Aufsätze zur Kirchengeschichte, Vol 1. Tubingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • Kooiman, W J 1961. Luther en de Bijbel. 2e druk. Baarn: Bosch & Keuning.
  • Kooiman, W J 1962. Luther. 6e druk. Amsterdam: W Ten Have.
  • Lamberigts, M 2003. Pelagianism: from an ethical religious movement to a heresy and back again, in Melloni A. (ed), ‘Movements’ in the church. London: SCM Press, 39-48.
  • Lamberigts, M 2007. Augustinus en het pelagianisme, in Van Bavel T & Bruning B. (reds),  Sint-Augustinus. Brussel – Heverlee:. Mercatorfonds, 219-223.
  • Lamberigts, M 2008. Pelagius and Pelagians, in Harvey S., Hunter D. (eds), The Oxford Handbook of Early Christian Studies. Oxford: Oxford University Press, 258-279.
    Lohse, B 1997. Martin Luther. Eine Einführung in sein Leben und sein Werk. 3 Auflage. München: C H Beck.
  • Oberman, H 1963. The harvest of Medieval theology. Cambridge, Mass: Harvard University Press.
    Oberman, H 1987. Luther. Kampen: J H Kok.
    Oberman, H 1992. The dawn of the Reformation. Londoa: Yale University Press.
  • Oberman, H 2003. The two Reformations. London: Yale University Press.
  • Welker, M 2008a. Die Botschaft der Reformation – heute, in Hamm B & Welker, M, Die Reformation – Potentiale der Freiheit. Tubingen: Mohr Siebeck, 67-90.
  • Welker, M 2008b. Sola Scriptura. Die Autorität der Bibel in pluralistischen Umgebungen, in Hamm B & Welker, M, Die Reformation – Potentiale der Freiheit. Tubingen: Mohr Siebeck,