Dikwels word die woorde ‘Gereformeerd’ en ‘Reformatories’ gebruik, maar die betekenis bly vaag, algemeen en inhoudloos. Dalk getuig dit van ’n onvermoë om die sestiende-eeuse Reformasie in al sy diepte te peil, om die teologiese kragte van die vroeë kerk en die Middeleeue wat die Reformasie help vorm het, te deurgrond; om die ‘Wirkungsgeschichte’ van dié gebeure tot vandag toe te verstaan. ‘Gereformeerd’ of ‘Reformatories’ is egter nie iets vas en absoluut is nie, maar iets wat weer en weer ontdek moet word, wat telkens weer teologies nuut ervaar moet word.

 

Dit het ek weer die afgelope weke by vier Ou Testament-kongresse en –seminare ervaar. Die eerste twee was Pro Psalms en Pro Pent en by elkeen het die klem op etiek geval. Telkens het ons gewonder of daar ’n etiek van die Pentateug of die psalms bestaan, en hoe dit in die teks ‘gesien’ en geïnterpreteer kan word. Na die Pro’s is ons Windhoek, Namibië toe waar nog twee kongresse by die Universiteit van Namibië plaasgevind het. Een was SAVNOS en die OTWSA (Ou Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika) was die ander. Alhoewel dit nie kerklike geleenthede was nie en uitstekende Katolieke en Joodse geleerdes deel van veral SAVNOS en die OTWSA vorm, het ek tog by dié geleenthede weer van die sestiende-eeuse Reformasie se krag bewus geword.

 

In dié tyd het iets gebeur wat die Westerse teologie so geslyp en so gevorm het dat ons vandag nog die gevolge daarvan voel. Dit is veral in die Bybelwetenskap waar ’n mens dit die duidelikste sien. Bekyk ’n mens die Reformasie se eksegetiese impulse histories, verstaan jy die andersheid daarvan. Dit was iets totaal anders as allegorie (die vergeesteliking van die Skrif), tipologie (die soeke na tipes in die Ou Testament wat na die Nuwe Testament heenwys) of tropologie / viervoudige Skrifsin (die letterlike betekenis, die betekenis vir my, die kerk en die hiernamaals).

 

Wat was hierdie Reformatoriese impulse? Ons noem vier. Eerstens, ’n nuwe soort eksegeet het ontstaan; die kerk of die tradisie het nie meer die eksegetiese proses bepaal of die finale betekenis van die Skrif vasgelê nie. Elke individuele leser/eksegeet was ‘t ware op hom-/haarself aangewese. Tweedens, die keuse teen ’n vertaling (die Latynse Vulgaat) ten gunste van die Hebreeuse en Griekse Bybel as die basis vir die prediking en alle teologiese arbeid was verreikend. Dít het die eksegese in totaal ander bane gestuur. Derdens, die intense konsentrasie op die Hebreeuse en Griekse teks het ’n kenmerk van Reformatoriese eksegese geword. Omdat die tradisie nie meer voorsê en die kerk nie meer die betekenis bepaal nie, is fyn op elke merker in die teks gefokus: elke woord, uitdrukking, teksvariant, ensovoorts is skerp ondersoek. Dit was die begin van eindelose en deeglike studies in verband met tekskritiek, Hebreeuse (en Griekse) grammatikas, woordeboeke, teologiese woordeboeke, ensovoorts. Vierdens, die klem op die geskiedenis van Israel asook die Ou Testament se wording was geweldig belangrik. Toe die kerk sy rol as ‘eksegeet’ kwytgeraak en die (bekoorlike?) Middeleeuse eksegese sy krag verloor het, moes ander tipe vrae aan die teks gevra word. Een was die historiese vraag: Wie het dié of daardie boek geskryf, wanneer het dit gebeur, wat was die skrywer se bedoeling en wie was die oorspronklike lesers?

 

In die negentiende en twintigste eeue het hierdie Reformatoriese impulse op verskillende maniere tot volle wasdom in die Bybelwetenskap geblom. En die afgelope weke het ek dit op ’n besondere manier weer ervaar. Diepgaande is oor die teks, metode, teologie, geskiedenis, geskiedskrywing gepraat en geskryf. Altyd het die Hebreeuse teks die begin- en eindpunt gebly; selfs die kleinste stukkie detail is opgespoor en teologies verwerk. Altyd is die kritiese vrae sedert die negentiende eeu ernstig bejeën. Altyd is gepoog om by die beste intellektuele tradisies van ons tyd aan te sluit en dit vir ons situasie te deurdink.

 

Dit het net weer geblyk dat die Suid-Afrikaanse Ou Testamentici op ’n besondere wyse die omwentelinge in die vakwetenskap sedert die negentiende en twintigste eeue toegeëien, verwerk en verinnerlik het. Dít het veroorsaak dat die Suid-Afrikaanse Ou-Testamentiese wetenskap en Bybelwetenskap in die algemeen die enjinkamer van die teologie geword het; ’n dinkskrum wat teologiese nadenke in ’n bepaalde rigting help stuur.

 

Die afgelope kongresse was ’n ruimte waarbinne ons ons weer kon herontdek, ons teksvaardighede kon slyp, ons Ou Testament-insigte kon verbreed en teologies kon groei. En dié binne ’n Reformatoriese konteks kon opnuut ervaar wat dit eintlik beteken om gereformeerd te wees.

Share this / Deel hierdie: