Die Sfinx – en ‘n kameelrit

die aankoms …

 

Sowat 350m vanaf Khufu/Cheops se piramide, lê hy, hierdie reuse, statige en waardige gedierte. Of nee, dis nie ‘n dier nie, dis ‘n mens-dier, ‘n zoömorfiese figuur met die kop van ‘n mens en die lyf van ‘n leeu. Die eeue het aan hom gevat: sy neus is af en sy uraeus (die kobra op sy hooftooisel) gebreek, maar getrou bewaak hy die klein tempeltjie tussen sy reuse kloue. ‘n Volle 73,5m lank, 6m breed en 20m hoog lê hy daar, en soos jy kan verwag, kyk hy Oos, na die rigting van lig, van lewe.         



… meer oor sfinxe …

 

Hierdie groot sfinx is die grootste en die bekendste, maar in die res van Egipte, en ook elders in die antieke wêreld is daar meer van hierdie mitologiese figure te vinde. Tradisioneel is sfinxe mens-dier uitbeeldings, soms met vlerke, maar nie noodwendig nie. Die woord sfinx is terug te herlei na die Antieke Grieks, sphingx, heel moontlik van die werkwoord sphingo – ‘om styf vas te bind – (dalk) verwurg’. In die antieke Griekse mitologie was die sfinx ‘n vreesaanjaende vroulike monster wat die handelsroete na Tebes bewaak het. Om by haar verby te kom, moes reisigers die volgende raaisel beantwoord: ‘Wat loop op vier voete in die oggend, op twee in die middag en op drie in die aand?’ En as die antwoord verkeerd was, het sy die ongelukkige swerwer verwurg. In ‘n ander mite gee Oedipus die korrekte antwoord, en uit pure ontsteltenis pleeg sy selfmoord. (Die antwoord op die raaisel sal aan die einde van die artikel gegee word – as u dalk vergeet het!)

 

Die Egiptiese sfinx is ietwat anders. Hy is oorwegend manlik en alhoewel sy moderne naam in Arabies ābu al-hūl is (dit beteken ‘vader van terreur’), is hy nie gewelddadig nie. Sfinxe in Egipte is simbole van wysheid en beskerming. Maar hoekom dan die eienaardige voorkoms – die kop van ‘n mens en die lyf van ‘n dier?

 

Die sfinx vergestalt die krag van ‘n dier en die rede van ‘n mens. Brute krag, tesame met intellektuele besinning. Wanneer ‘n sfinx ‘n menslike gesig het, is dit gewoonlik dié van die farao wat hom gebou het. Die Giza-sfinx se kop is inderdaad getooi met die kenmerkende nemes hooftooisel en uraeus – tipies van ‘n farao.

 

Die raaisel is: niemand weet wie die eer vir hierdie ou grote moet kry nie!

 

Daar word egter ‘n pragtige storie vertel. Deur die eeue heen het die woestynwinde baie sand oor die Giza-sfinx gewaai, soveel so dat sy glorie amper-amper tot niet is. Lank nadat hy gebou is, amper meer as ‘n duisend jaar later,  in die jaar 1400 vC het ‘n jong seun van die farao – nie die kroonprins nie – aan ‘n jagtog deelgeneem, en van pure uitputting in die skadu’s van die Oue aan die slaap geraak. Hy droom, hy hoor ‘n stem. Die songod, Harmakis praat met hom, deur die sfinx. Voorwaarde – belofte. As die slapende jongman onderneem om van al die sand rondom die sfinx ontslae te raak, belowe sfinx en god hom die troon van Egipte. Nodeloos om te sê, die ouer broer, die troonopvolger het ‘n ontydige dood gesterf, en Tutmoses IV word die volgende farao van die 18e dinastie. Sy verhaal is opgeteken op die ‘droom-stela’, sorgvuldig gebêre en getrou bewaak tussen die voorpote van die sfinx.

 

 

… die kameelrit …

 

Nou mag dit lyk asof ek Egipte idealiseer. Ja, dis asemrowend: die piramides, die sfinx – en ander ervaringe waarvan ek binnekort meer gaan vertel.

 

En tog wil ek huil.

 

Kamele simboliseer vir my iets van ‘n eksotiese, verlore wêreld. My ouers het op ‘n stadium ‘n intense belangstelling in Persiese tapyte ontwikkel en nogal ‘n paar daarvan aangekoop. Onder andere was daar ‘n ook ‘n saalsak wat jy oor ‘n kameel gooi. Met kinderlike nuuskierigheid het versigtig die knope losgewikkel en op ‘n sakkie harde ‘klippe’ afgekom. Gekyk, gevoel, gedruk, gelek – en dit was soet. Versteende dadels. My verbeelding het die loop geneem. Wat is die storie agter hierdie sakkie dadels? Ek moet tog eendag op ‘n kameel ry, om uit te vind.

 

Ek het gehoop om kontak te maak, soos wat ‘n mens met ‘n perd of ‘n hond kontak maak. Ek wou langs die dier gaan sit en vra: ‘Hou jy van my? Ruik ek OK? Gee jy om as ek op jou klim?’ Ek wou ‘n verhouding daarstel, om die dier se vertroue te wen. Daar moet tog iewers ‘n raakpunt tussen ons twee wees, voordat ons hierdie rit onderneem?  

 

Niks daarvan nie.    

 

Daar word kil onderhandel oor ‘n prys. Jy is veronderstel om te stry. Ek wil weghardloop, maar ek is nou eenmaal in die ding. Intussen lê die kameel op die grond, en ek peil hom nie. Hy is suf, lewensmoeg. Die soveelste toeris. Dis maar net nog een.

Die rit self was verskriklik. Die aanvanklike prys was betreklik goedkoop – maar die kameelhandelaar het my aan sy seuntjie toevertrou in die verwagting dat ek vir die kind ‘n goeie fooitjie moet betaal. Ek weet nie of die kind my wou beïndruk nie, maar hy het die kameel nie sagkens behandel nie – die arme dier aan die nek gepluk en met ‘n stok aangemoedig.

 

Ons is deur die agterstrate van Kaïro. Die armoede is verskriklik. Die toestand van die diere is hartverskeurend. Veral die donkies loop deur. Hulle is oortrek met sere, trek swaar vragte en word genadeloos geslaan. Orals was donkies en kamele aan kort toue vasgebind, en die stank van hul ekskresie bykans ondraaglik.     

 

Ek het my kameel so nou en dan oor sy nek gevryf, en die kind het my baie snaaks aangekyk. Ek glo nie dit het een van die twee beïndruk nie.

 

‘Was it good?’ vra die kameelhandelaar toe ek afklim.

 

Wat kan ek sê?

 

‘You will give him something?’ en hy wys na sy jong seuntjie.

 

Wat kan ‘n mens doen?

 

Ek voel nou nog skuldig teenoor die kameel.

 

[Wat loop op vier voete in die oggend, op twee in die middag en op drie in die aand? Die mens.]

Share this / Deel hierdie: