Die siel van die piramides

… ek staan op heilige grond …

 

Hoe voel hulle diep binnekant, terwyl hulle afkyk op die krioelende massa mense hieronder? Hoe voel hulle oor toeriste met groot kameras wat mekaar vertrap om hulle af te neem? Ontbloot? Verneder? Hoe voel hulle oor argeoloë wat hul diepste geheime ontrafel en aan die wêreld bekend stel? Geïrriteerd? Woedend? Hoe voel hulle oor die dekadensie, geleidelik oor eeue heen, oor ʼn eens magtige ryk waar die grootste getal mense nou min of meer onder die broodlyn leef? Meewarig? Geskok?      

 

My oomblik van verwondering word wreed versteur toe die eerste self-aangestelde gids my aan die elmboog beetkry om vir my by die een of ander ‘secret chamber’ in te sleep, wat lank nie meer geheim is nie en waar ek sou verkies om self en op my eie tyd in te gaan …

 

geskiedenis …

 

Die bloeityd vir die bou van piramides was gedurende die tyd van die Ou- en Middel-Koninkryk (tussen ca 2690-1814 vC), toe die farao algehele en absolute mag gehad het. Alhoewel die piramides op die Giza-plato die bekendste en ook die indrukwekkendste is, is hulle nie die oudste nie. ʼn Ouer voorloper

staan te Saqqara, ook bekend as die ‘step’ of ‘trap’- piramide.  Hierdie konstruksie dateer uit dit tyd van farao Zoser, of Djoser, van die 3e dinastie (ca 2630-2612 vC). V
óór hierdie tyd is die farao’s en ook die adel in ‘mastabas’ begrawe, groot langwerpige ontwerpe (min of meer 4 maal langer as breed), met skuins kante. Toe die tyd vir farao Djoser aanbreek om sy ‘mastaba’ te bou, kry sy argitek, Imhotep ʼn briljante plan. Hy verander die basiese struktuur na ʼn vierkant, en stapel ʼn reeks al-kleiner-wordende ‘mastabas’ bo-op mekaar. Hierdie skepping van Imhotep het gelyk soos reuse trappe waarmee die siel van die gestorwe farao na die hemel toe kon opklim – en is as sodanig aanvaar. Vir hierdie prestasie is Imhotep later deur die Egiptenare gedeïfiseer. Imhotep was egter nie slegs ʼn argitek nie, hy was ook ʼn hoëpriester en ʼn dokter. Twee duisend jaar later sou die Grieke ook sy genialiteit bewonder en net soos die Egiptenare hom vergoddelik. Hulle het hom die naam  ‘Esculapius’ gegee.

 

Later is slegs die farao’s in piramides begrawe – die adel en diegene wat dit kon bekostig, moes met ‘mastabas’ tevrede wees. Soos ek reeds gesê het, die indrukwekkendste piramides is dié op die Giza-plato, deesdae teenaan Kaïro. Miskien moet ek net byvoeg, daar is meer as 100 piramides in Egipte waarvan sommige nie veel beter as ʼn puinhoop lyk nie. Maar op Giza staan die drie bekendstes: Die piramide van Khufu – of Cheops soos die Grieke hom later genoem het, die een van Khafre/Kephren en die een van Menakaure/Mykerinus. Khufu se piramide is die grootste. Hy was ʼn farao van die 4e dinastie (ca 2560 vC) en dit het tussen 14 en 20 jaar geneem om sy piramide te bou. Verder is die Khufu-piramide die enigste van die sewe wonders van die antieke wêreld wat nog bestaan. (En indien u, soos ek, ʼn bietjie vergeet het wat presies hierdie sewe wonders was, hier is hulle: die Khufu-piramide; die hangende tuine van Babilon; Zeus se standbeeld op Olimpus;  Artemis se tempel by Efese; die mausoleum van Maussollos by Halikarnassus; die kolossos van Rhodos; en die lighuis van Aleksandrië.)  

 

Oorspronklik is die kante van die piramides met kalksteen afgewerk wat hulle in die son laat blink het, en ook was die bopunte met óf egte goud óf die een of ander allooi-metaal bedek. Vir ʼn oomblik het ek my oë toegemaak en my verbeel wat ʼn asemrowende gesig dit 4500 jaar gelede moes gewees het, toe hier niks was nie, net woestyn en die plato. Kilometers ver sou jy hulle kon sien, blinkende berge in die son, die onverstoorbare laaste rusplekke van die farao’s.

 

… bouwerk …

 

Geleerdes krap steeds kop oor hoe dit moontlik is dat die piramides op die Giza-plato bly staan sonder dat daar enige fondamente gegrawe is, en sonder dat die granietblokke met sement of iets soortgelyks aanmekaar geplak is. Waarskynlik kan dit aan die blote grootte en gewig toegeskryf word. Tans is die magtige Khufu-reus 138,8 meter hoog en weeg 5,9 miljoen ton. Hy gaan nie maklik omgestamp word nie!


Ook is dit taamlik seker dat granietblokke uit omliggende steengroewe uitgegrawe is en op ʼn manier – dalk op rollers – nader gesleep is. Om hierdie massas klip in bykans ewe groot blokke te kry, is ʼn vindingryke plan bedink. Gate is op strategiese plekke in die groot klip gemaak, en droë houtstokke is daarin gedruk. Die hout is natgemaak, en as dit swel, het dit die klip laat bars, en siedaar! mooi ewe groot blokke. Die teorie dat hulle ʼn soort ‘oprit’ teen die helling van die piramide gebou het en die blokke ook op rollers opgesleep het, kan nog nie onweerlegbaar bewys word nie, maar dit kan ook nie weerlê word nie, want hoe anders?      

 

Hollywood het ons laat verstaan dat die piramides deur slawe gebou is wat baie wreed behandel is. Die bekende Egiptoloë en argeoloë, Zahi Hawass en Mark Lehner dink egter anders. In 1990 het hulle ʼn begraafplaas opgegrawe wat daarop dui dat die mense wat hier lê, heelwaarskynlik werkers was wat aan die piramides help bou het. Hulle het naby die piramides gebly, was tegnies geskool, het ʼn goeie dieet gekry en het ook mediese sorg ontvang waar nodig. Vir hul dienste het hulle ʼn salaris ontvang, of het gewerk as ʼn manier om hul belasting te betaal.          

 

Wat ʼn mens verstom, is die denke, die beplanning en die fyn berekening wat hier manifesteer. Sonder rekenaars en masjiene, sonder die gesofistikeerde wetenskap, wiskunde en tegnologie van die 21e eeu, is daar monumente opgerig wat – en so hoop ek – tot in ewigheid sal bly bestaan.

 

… teologie …

 

Die kenmerkende vorm van die piramides is ʼn groot driehoek met ʼn vierkantige basis. Daar is twee moontlike verklarings hiervoor. In die Egiptiese mitologie speel beide berge en die son ʼn baie belangrike rol. Een verklaring is dat die vorm van die piramide die strale van die son voorstel wat neerdaal aarde toe. ʼn Ander verklaring hou verband met ʼn Egiptiese mite oor die ontstaan van die wêreld. Alles was eers net water. Die eerste droë punt wat uitgesteek het, was die mitologiese ‘oerberg’, – met die tipiese drie-hoekvorm van die piramide  – en hier het ook die son (natuurlik die songod) vir die eerste keer verskyn. Dit was die begin van die skepping van die wêreld.     

 

Ek het dit so in die verbygaan genoem en geleerdes is dit ook eens dat die piramides as grafkelders vir die farao’s gebou is. Maar watter teologie lê hier agter? Antieke Egipte het amper ʼn obsessiewe belangstelling in die lewe na die dood gehad. Son, die lig was die lewe, die donker was die dood. Omdat die son in die weste ondergaan, was die weste vir hulle die terrein van die dood, en daarom het hulle al die piramides op die weste-oewer van die Nyl gebou. Binne die Khufu-piramide is smal ‘skagte’ vanuit die grafkamer ontdek wat direk opkyk na die suide- en noordelike hemel onderskeidelik. Aanvanklik is gereken dat dit maar blote luggate was, maar deesdae is navorsers oortuig daarvan dat hierdie ‘skagte’ doelbewus só geplaas is om die siel van die ontslape farao direk in die hemel in, die blyplek van die gode, te lanseer.                 

 

Kuns, wetenskap, tegnologie, teologie – die siel van die piramides – dalk?      

 

… laaste woorde …

 

In Egipte sê hulle: Almal vrees Tyd, maar Tyd vrees die Piramides …

 

[Volgende week vertoef ons ʼn wyle by die Sfinx.]

 

Bronne:

Share this / Deel hierdie: