Die groot Griekse beskawing? ‘n ander storie 

Inleiding

Vir die toeris roep Griekeland beelde op van ‘n bootvaart tussen die Griekse eilande deur, ‘n kobaltblou see en witgepleisterde huisies teen hange van heuwels. Griekeland is ook sinoniem met sy hoofstad, Atene, die bakermat van geletterdheid, intellek, kultuur en ‘n magtige beskawing. Selfs tot diep in die tyd van die Romeinse Ryk, was Grieks die taal van geleerdheid. Die bekendste figuur in die Griekse geskiedenis, is seker Aleksander die Grote.

Maar die aanloop tot Griekeland se hoofbloei begin iewers aan die Noordooste van die vasteland in ‘n provinsie waarop neergekyk word: Macedonië in die vierde eeu vC. En die hoofrol van die verhaal word nie deur Aleksander nie, maar deur sy vader, Philip II van Macedonië gespeel. Hierdie teo-bydrae gaan sy lewe van nader bekyk.     

Agtergrond

Antieke Griekeland was nooit ‘n verenigde nasie nie. Tot en met die vierde eeu vC het die hedendaagse Griekse vasteland sowel as die eilande uit talle groter of kleiner stadstate bestaan. Elke eiland, vallei, of vlakte was van sy bure afgesny, hetsy deur die berge of deur die see. Oorlog was aan die orde van die dag. Individuele stadstate het teen mekaar oorlog gevoer, maar later het dit ook gebeur dat meerdere stadstate kragte saamgesnoer het om teen andere in opstand te kom, of hulle te onderwerp.

Die bekendste van hierdie struwelinge, is die sogenaamde Peloponnesiese oorloë, die jarelange stryd tussen Sparta en Atene wat min of meer vanaf 431-404 vC geduur het. Sparta was bekend vir sy oligargiese en militaristiese bedeling; Atene was die demokratiese kultuurstad. Die Peloponnesiese oorlog het Atene onttroon; Atene, wat eens die sterkste Griekse stadstaat was, was bykans volledig onderworpe. Sparta was nou die grootste mag in Griekeland, maar dit het nie goed gegaan nie. Die verskillende stadstate was steeds verdeeld tussen oligargiese Sparta en demokratiese Atene en burgeroorlog was aan die orde van die dag. En tesame met die aansienlike druk wat die oorlog op die bevolking geplaas het, was armoede wydverspreid oor die hele Griekeland.               

Macedonië

Macedonië was ‘n antieke koninkryk in die Noorde van hedendaagse Griekeland, en het aanvanklik geen beduidende rol in die Griekse geskiedenis gespeel nie. Macedonië was een van daardie klein, sukkelende, verarmde stadstaatjies waarop die res van Griekeland neergekyk het. Om die waarheid te sê, hulle was nie as ‘ware Grieke’ beskou nie.

Vir die antieke Grieke was die Macedoniërs gevaarlike bure, barbare. Die Griekse geskiedskrywer Herodotos berig dat die Macedoniese koning, Aleksander I (490-454 vC), op ‘n stadium as ‘n ‘philhellene’ (vriend van Grieke, dus ‘n nie-Griek) aan die Olimpiese Spele wou deelneem, maar die Griekse atlete het ten sterkste daarteen protesteer en aangevoer dat hulle nie ‘saam met ‘n barbaar’ sou hardloop nie. Volgens Thucydides is Macedoniërs oor die algemeen barabre, en Thracymachus verwys spesifiek na koning Archelaus van Macedonië (413-399 vC) as ‘n barbaar.

Philip II van Macedonië

In 382 vC word Philip II in Pella, die hoofstad van antieke Macedonië gebore. Hy is die jongste seun van Amyntas III. Macedonië is besig om stadig maar seker te disintegreer. Amyntas III het gesterf, en Philip se twee ouer broers, Aleksander II en Perdiccas III voer ‘n verlore stryd teen invalle van Macedonië se buurstate, Tracië, Illirikum, Olynthus, en Thebes. Tussen 368 en 365 vC word Philip self as gyselaar deur die Grieke in Thebes aangehou. Maar as gevangene in Thebes, wat op daardie stadium die grootste mag in die Griekse wêreld was, gebruik Philip die geleentheid om die militêre tegnieke van die vyand waar te neem.

Aleksander II, die aangewese troonopvolger is intussen oorlede, en toe Philip na Macedonië toe terugkeer, begin hy onmiddellik om die volgende koning, sy broer Perdiccas III, te help om die leër te herorganiseer. In 359 vC waag Perdiccas III dit om teen Illirikum op te trek in ‘n poging om die Noordweste van Macedonië te bevry, maar hy ly ‘n verpletterende neerlaag. Perdiccas en 4 000 van sy soldate sneuwel, en Illirikum word ‘n groter bedreiging as ooit.

Philip II bestyg nou die Macedoniese troon onder uiters moeilike omstandighede. Die koninkryk is op die rand van ineenstorting, dit word nie net van buite en van vreemde magte bedreig nie, maar ook van binne; skielik is daar veelerlei aanspraakmakers op die troon en hulle word ten sterkste deur die magte van buite ondersteun. Philip is net een en twintig jaar oud, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. Hy gaan uiters diplomaties te werk.

Die eerste wederregtelike aanspraakmaker op die troon, het skuiling aan die koninklike hof van Thracië gaan soek. Philip bied die koning van Thracië geskenke aan, en oorreed hom daarmee saam om sy mededinger om die lewe te bring. Die tweede aanspraakmaker op die Macedoniese troon kry ondersteuning van Atene. Hy en sy Ateense bondgenote word verpletterend in ‘n oorlog deur Philip vernietig; maar Philip, versigtig om nie die Ateners heeltemal die harnas in te jaag nie, sluit met hulle ‘n verdrag en staan Amphipolis, ‘n stad aan die kus van Macedonië aan hulle af.

Binne ‘n jaar slaag Philip daarin om gemoedere van buite en van binne te sus, en vestig hy homself stewig op die Macedoniese troon. 

Huwelik, oorlog, liefde, wraak

Tussen 357-348 vC volg die Macedoniërs ‘n aggressiewe oorlogsbeleid. Hulle bevry stede wat voorheen deur vreemde magte beset is, neem nuwe stede in besit en brei hul grondgebied uit. Trou aan sy diplomatieke aard, sluit Philip ook huwelike met verskeie vroue, hoofsaaklik om bondgenote te werf en om lojaliteit te verseker. So trou het met Audata, ‘n Illyriese prinses; Philia is ‘n prinses van ‘n Macedoniese provinsie; die vrou wat egter die geskiedenis sou voortsit, is Olympias, ‘n prinses van die buurstaat Epirus. ‘n Jaar na die huwelik met Philip II, word sy die moeder van hul seun, Aleksander III, later bekend as Aleksander die Grote. ‘n Bietjie later sou twee dogters uit die huwelik gebore word: Thessalonike en Cleopatra.

Philip II is egter nog nie klaar nie. Teen 339 vC het hy die meeste Grieke uit Macedonië verdryf, en slegs die stede op die oostelike kus, Bizantium en Perinthus slaag daarin om weerstand te bied. Hulle verkry hulp van ander Griekse stadstate en ironies genoeg, van die Perse. Op hierdie moment span die Grieke en die Perse saam. Die Persiese koning is baie bekommerd oor die Macedoniese mag wat Ooswaarts uitbrei, en alhoewel die Grieke vir die afgelope honderd jaar of so ‘n diepgewortelde haat vir die Perse koester, is hul weersin teen die Macedoniërs groter. Die Grieke roep dus die Perse se hulp teen die Macedoniërs in.

In die lente van 339 vC het Philip al diep binne die gebied van Thracië binnegedring, en naby die Donau raak hy met die Skithiërs slaags. Philip wen die oorlog. Die Skthiese koning sneuwel en en Philip-hulle neem 20 000 Skithiese vroue en kinders as slawe. Maar op pad terug na Macedonië toe word die konvooi deur ‘n Thraciese stam oorval. Die Macedoniërs is hul buit kwyt, en Philip word beseer; vir die res van sy lewe sou hy mank loop.

Hy gebruik die volgende paar maande om van sy besering te herstel, maar vir Philip is daar nie tyd om te ontspan nie. Die Grieke is nou besig om met die Perse se hulp teen hom saam te span, en as hy nie gou maak nie, gaan hulle sy gebied binneval – sy plan was andersom, eintlik wou hy hulle vernietig en hul grondgebiede afneem. Philip bring dus die grootste Macedoniese leër tot op hede op die been, en stel sy agtien-jaaroue seun, Aleksander, as een van die senior bevelvoerders aan. Die Macedoniërs trek teen die Grieke op, en ten spyte daarvan dat die Macedoniërs in die minderheid was, verslaan hulle die verenigde Griekse weermag – wat onder andere bestaan het uit die Ateners, die die mense van Thebe en die Agajers.        

Hierdie vernietigende slag wat op 2 Augustus 338 vC plaasgevind het, staan bekend as die ‘Slag van Chaeronea’. Die antieke Griekse en Romeinse geskiedskrywers beskou dit egter nie as die begin nie, maar die einde van die Griekse vryheid en geskiedenis.

Philip se volgende ambisie is om heerser oor die hele Griekeland te word, en die Persiese magte vir eens en altyd te verdryf. Die meeste Grieke is egter nie gelukkig om die knie voor ‘n barbaarse Macedoniese koning te buig nie, en teen 337 vC, toe sy planne om Persië binne te val, het letterlik tienduisende Grieke weggeseil om by die Persiese leër aan te sluit en weerstand teen die opkomende inval van die Macedoniese koning te bied!

Gedurende hierdie turbulente tyd trou Philip weer, hierdie keer nie weens politieke of diplomatieke redes nie, maar volgens die geskiedskrwers, trou hy vir liefde. Sy bruid is Cleopatra, ‘n vrou van die Macedoniese adel. Maar volgens die geskiedskrywers, is dit ook die grootste fout van sy lewe. Behalwe vir een vrou met die naam van Philia, was al Philip se vroue nie-Macedonies – ook Olympias, moeder van Aleksander was ‘n prinses van Epirus, een van Macedonië se buurstate.

Daar word vertel dat Attalus, ‘n oom van Cleopatra en generaal in die leër, tydens die huwelikseremonie tussen Philip en Cleopatra ‘n opmerking gemaak het dat daar uiteindelik vir Philip ‘n wettige Macedoniese troonopvolger gebore sou word. Aleksander het sy beker na hom toe geslinger en hom gevloek omdat hy hom, Aleksander by implikasie ‘n ‘basterkind’ noem. Philip het opgestaan en Aleksander met sy swaard bestorm, maar in sy dronkenskap gestruikel en vooroor op sy gesig geval. Waarop Aleksander smaled uitgeroep het: ‘Hier is die man wat hom gereed maak om van Europa na Asië toe oor te steek, maar hy kan van die een tafel na die ander toe oorsteek sonder om sy balans te verloor nie!’

Aleksander en sy moeder moes na Epirus toe vlug. Later is hulle toegelaat om terug te keer, maar Aleksander was geïsoleer, onseker en was gedwing om ‘n baie lae profiel aan die Macedoniese hof te handhaaf. Vir Philip en Cleopatra is wel ‘n seun gebore en hulle het hom Caranus genoem, ter herinnering van die grondlegger van die Macedoniese dinastie. Dit lyk egter nie asof hierdie kind ooit ‘n kans as toekomstige Macedoniese troonopvolger gestaan het nie. Olympias het alles in die stryd gewerp om seker te maak dat haar seun, Aleksander III uiteindelik die troon sou bestyg.

Sluipmoord

In die lente van 336 vC, begin Philip se invalle in Persië. Cleopatra, die dogter van Philip en Olympias het intussen grootgeword, en terwyl die Macedoniërs die Hellespont oorsteek, vind ‘n huwelik plaas: Cleopatra, dogter van Philip II trou met en Aleksander van Epirus, broer van Olympias. Die eerste dag het goed verloop. Die skare is vermaak en op elke moontlike manier getrakteer. Op die tweede dag het Philip II die saal binnegekom en terwyl hy tussen sy seun Aleksander en sy nuwe skoonseun Aleksander beweeg, word hy onverwags met ‘n dolk gesteek. Hy sterf onmiddellik.

Die sluipmoordenaar is Pausanias, ‘n jongman van die Macedoniese adel. Hy probeer ontvlug, maar struikel en word om die lewe gebring deur ‘n paar intieme vriende van Aleksander, Philip se seun.

Tot vandag toe bly dit ‘n raaisel waarom Pausanias vir Philip vermoor het. Daar is gerugte dat die koning hom onbillik behandel het toe hy sy ondersteuning gevra het nadat Attalus (Cleopatra se oom) hom onbillik behandel het. Maar Olympias en Aleksander kom ook saamgesweer en Pausanias aangehits het. Dit mag verduidelik waarom Aleksander se intieme vriende Pausanias onmiddellik vermoor het en hom nie lewendig gevange geneem het nie.

Niemand sal weet nie.

So sterf Philip II, die groot Macedoniese oorwinnaar. Tussen 356-336 vC het hy sy land van vreemde beset bevry, van die randjie van die afgrond gered en as ‘n wêreldmoondheid gevestig. Sy seun en troonopvolger Aleksander III, sou binnekort die magtige Persiese Ryk verower. Maar sonder Philip se militêre en politieke ondernemings, sou Aleksander nooit sukses behaal het nie. Dit was Philip wat die Macedoniese leër opgebou het, en van die Macedoniërs ‘n oorlogvoerende volk gemaak het.

Philip lê begrawe in Vergina, ‘n klein dorpie in die Noorde van Griekeland. ‘n Entjie verder, is die tombes van Roxana, die vrou van Aleksander en hul twaalf- of dertienjaar-oue seun, Aleksander IV. Albei is vermoor, waarskynlik vergiftig. Die oorskot van Aleksander die Grote is tot vandag nog nie gevind nie.

Thessaloniki vandag

Anders as Atene, is Thessaloniki nie ‘n toeriste-stad nie. Dis ‘n stad waar die Grieke woon en werk. ‘Toeriste’ is Grieke, Griekse skoolgroepe en enkele verdwaalde kongresgangers – soos ek – wat andersins nie daar sou kom nie. Dis ‘n voordeel. Die mense is eg, gulhartig, vriendelik, en hulle probeer nie om geld uit jou te maak nie. Om die waarheid te sê, wat kos en verblyf betref, is Thessaloniki is baie billik. Die grootste pluspunt is dat jy bykans om elke hoek en draai oor iets struikel wat uit die antieke Griekse of Romeinse tyd dateer. En die argeologiese en Bizantynse museums mag nie misgeloop word nie. Hier staan tyd stil, verloor jy tyd. Niemand jaag jou aan nie, en daar is nie toeriste wat mekaar van die een ‘moet-sien’ na die ander vertrap nie. Jy kan stilstaan waar jy wil, solank jy wil, en elke moment van die geskiedenis beleef en herbeleef.  

Die mense is baie modebewus. Die vroue trek sjiek aan, die mans dra pakke, die jongmense het die nodige tattoes, ringe en knopies aan neus, oor en lip. Maar die huidige ekonomiese krisis kan ook gesien word. Die stad is vervalle. Die een mislukte onderneming na die ander. Leë ruimtes in geboue, en rommel wat ophoop. Belowende restaurants. Die een na die ander, dikwels leeg. Soms dink jy, laat ek maar net hier ingaan en ‘n koppie koffie drink, sodat die arme ou darem net een kliënt vandag kry . . .

Die hartseerste was egter die honde, die rondloperhonde in Thessaloniki. Ek het my emosies met Cas Vos, voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie gedeel, en ons was albei diep ontroer. Prof Cas is ook ‘n digter, en hy het die volgende gedig oor die honde van Thessaloniki geskryf:    

Honde van Thessaloniki

Hier is alles verdrietetyd,

wind skep hande vol sand

en strooi dit oor vlaktes

om daar na hartelus te skoffel.

Heuwels is skraal met klein

boggelruggies op die einders.

Mense bedek hulle wanhoop

met deftige modevars klere.

 

Meetsnoere val hier

vir honde in liederlike plekke.

Hulle swaai sterte hoopvol,

hulle ore hang verlep.

Hulle slaan hulle oë op

en soek soos Argos witvoet.

Doof vir smeke slaan base

honde se tjank by bekke uit

en skreeu skellend luid:

“Maak vas die baster!”

 

Honde drommel van een as hoop

na die ander om iets uit te snuffel.

Stank is al dank wat hulle snuif.

Hondeluise suig hulle bloedarm

en vlieë sak op hul wonde toe.

As hulle ’n vreemdeling gewaar,

kruip hulle huiwerig vorentoe,

maar afjakke vewilder hulle.

 

Niemand steur hulle aan ’n hond

wat vir die maan blaf nie,

hulle ly aan tuisverduistering.

In Thessaloniki is ’n hondelewe

’n uitgestelde doodsvonnis.

Slot

Is dit dan die moeite werd om Thessaloniki te besoek?

Beslis. Thessaloniki is Tessalonika van die Nuwe Testament. Berea (Veria in Grieks) is nie ver daarvandaan nie. En Philip II, Roxana en Aleksander IV lê in Vergina begrawe. Die geskiedenis lewe. ‘n Mens eet goedkoop en lekker.

Maar pasop vir die honde.

Share this / Deel hierdie: