Stoker, Wessel 2006. Is Faith Rational? A Hermeneutical-phenomenological accounting for Faith. Leuven: Peters. 267p. ISBN-13: 978—90-429-1778-0. Price: unknown.

 

“Is faith rational?” wat in die reeks Studies in Philosophical Theology (34) verskyn het, is ‘n godsdiens-filosofiese verantwoording van die Christelike geloof deur Wessel Stoker van die Vrije Universiteit in Amsterdam, Nederland. Hierdie publikasie is ‘n vertaling deur Henry Jansen van die oorspronklike nederlandse teks Is geloven redelijk? Een geloofsverantwoording wat reeds in 2004 verskyn het. Agt jaar voor hierdie publikasie het Jansen ook ‘n ander werk van Stoker vertaal, naamlik Is the quest for meaning the quest for God? The religious ascription of meaning in relation to the secular ascription of meaning (1996).

 

In sy hermeneuties-fenomenologiese verantwoording van die Christelike geloof, stel Stoker die ervaringsbegrip voorop. Hy gee twee redes hiervoor – wat as uitdaginge volgens hom geld – naamlik die pluralistiese (Westerse) konteks waarin verantwoording gedoen moet word en die feit dat die Christelike geloof vanuit ‘n minderheidsposisie haarself nou moet verantwoord (sien bl 1-3). Sy verantwoording doen hy as ‘n gekwalifiseerde kritiek op die transendentale verantwoording van geloof deur Paul Tillich (sien bl 23-46) en die analities-epistemologiese verantwoording van geloof deur William Alston (sien bl 47-82). Teenoor eersgenoemde se aprioriese begronding van geloofservaring as ‘n natuurlike deel van menswees en ook as self-evidente ervaring, en teenoor laasgenoemde se fokus op die direkte waarneming van God as ervaring van redding, stel Stoker (sien bl 85ev), in noue aansluiting by o a Paul Ricoeur en Friedrich Schleiermacher, ervaring as getuienis tot transendensie voorop. Noukeurig ontvou hy sy fenomenologiese verantwoording t o v (durende) religieuse ervaring as “saturated phenomenon” (in aansluiting by Jean-Luc Marion se Being Given: Toward a Phenomenology of Giveness) aan die hand van die dimensies van trans-intensionaliteit (in kritiese gesprek met o a Levinas), narratiewe identiteit (aan die hand van die evangelie van Markus en veral in aansluiting by Ricoeur) en affektiewe kognitiwiteit (in aansluiting by o a Strasser, Kenny en die gevoel van absolute afhanklikheid van Schleiermacher). In sy eie argumentatiewe uiteensetting van die instemming tot geloof, sluit hy by Toulmin  se model aan van substansiële argumentasie (sien bl 220ev) asook Calvin Schragg se transversale rasionaliteitmodel (sien bl 216ev) ten einde sy eie praktyk-georienteerde rasionaliteitsmodel van presumpsionisme t o v geloofservaring te verdedig.

 

Alhoewel hierdie nie ‘n maklike boek is nie (en die engelse vertaling somtyds misleidend is), is dit wel ‘n baie goeie boek aangesien Stoker heelwat moeite doen om die argumentatiewe opbou van sy eie hermeneuties-filosofiese verantwoording deurgaans in gesprek met uiteenlopende denkers van uiteenlopende velde te voltrek. Op hierdie wyse neem Stoker die leser saam op ‘n versigtige (lees: fyn gekwalifiseerde!) en insiggewende argumentatiewe opbou van sy uiteensetting van religieuse ervaring. Na my mening is die mees insiggewende bydrae van Stoker sy uiteensetting en verdediging van die integrale rasionele dimensie van affektiwiteit in die getuienis tot transendensie asook sy baie waardevolle geintegreerde standpunt oor narratiewe identiteit. Die een gedeelte waaroor Stoker wel veel ruimte ooplaat vir kritiese debat met hom, is sy slotverwysinge na die wyse waarop sy verantwoording t o v religieuse ervaring sou kon geld binne die konteks van interreligieuse gesprekvoering (sien bl 239ev). Om een of ander rede is Stoker in hierdie gedeelte nie so versigtig en uitvoerig in gesprek met ander kritiese gespreksgenote nie, en laat hy die leser met ‘n gevoel van onvergenoegdheid.

 

Benewens die bibliografie (bl 249-260) word die teks aangevul met ‘n waardevolle onderwerp (bl 261-263) en outeur indeks (bl 264-267).

Share this / Deel hierdie: