Die koerante het gegóns. Hier is iets núúts. Voorheen was daar ander openbare rimpelinge oor seksualiteit: “Sexually speaking, with Dr Paul”, op Talk Radio 702, en sy gelyknamige boek; Dr. Agrippa Kathide se praatjies in oorwegend swart kerke en radio- en televisieprogramme; pastoorsvrou Ivy Sutton se veelbesproke gemeentepraatjie met behulp van ’n besemstok; Kleinboer se Rapport-prysboek Kontrei, en die sekstydskrif vir die Christelike Afrilkaanse vrou, Intiem. Maar hier was iets núút: ’n Afrikaanse vrou wat ’n seksboek skryf. G’n hygroman, prikkelend storie-agtig nie; ampers-histories, eerder; ampers-outobiografies. Sy’s gelowig; sy’t tradisioneel-Afrikaans grootgeword; sy’s voorstedelik getroud (die koerante kon nie genoeg maak van die “Garsfonteinse huisvrou” nie); sy skryf onder ’n skuilnaam (tot ’n joernalis onbeholpe haar identiteit uitblaker); vanuit al hierdie doodgewone agtergronde, skryf sy haar seksualiteit óóp… Maanvrug.

Die reaksie op die boek was gemengd. Haar spel met woorde het baie beïndruk. Haar tema het sommiges ontstel. Was dit net verbeeldingvlugte, of skryf sy haar geskiedenis? Bevrydend!, het heelwat mense uitgeroep. Liewers nie, het andere hardop gewens.

Tog, na die sukses van Maanvrug, doen Annelise dit weer, maar anders. Weerloos. Hierin is die spel nie tussen haar (vermeende) agtergrond en haar (vermoede) fantasie-lewe nie. Hier is die spel tussen aarde en hemel; godsdiens en sekslewe; ’n goeie en ’n… ánder hiernamaals. Op kreatiewe trant herskryf sy die draaiboek vir die hemel wat in baie mense se gedagtewêreld bestaan.

In hierdie “hiernamaals” is daar nie hemel en hel, in die populêre sin van die woord, nie. Daar is wel twee “plekke”, geskei. In die een regeer denke, in die ander gevoelens – kop en lyf. Nie teenoorstaandes nie, maar alternatiewe. Kan hulle by mekaar aansluiting vind?; selfs: één word? Die hiernamaals en die aardse is ook nie heeltemal geskei nie – parallelle geskiedenisse en herinneringe wat opduik deurbreek dié muur ook. Godsdienste, waarheidsaansprake, lyflikheidskonsepte en dies meer kompeteer op aarde, maar het ook ’n effek in die hiernamaals, as dinge begin gebeur in die hemel wat ’n mens daar nie verwag nie: diefstal, en dies meer.

Die sekstonele in Weerloos is heelwat minder as in Maanvrug; die hele boek, egter, ontwyfelbaar in geheel ’n verbeeldingsvlug. Tog bly die skryfster duidelik dieselfde, in een opsig: sy skryf nie inligting nie, maar emosie; gewaarwordinge; versugtinge. Daarin lê, deels, die sukses van beide haar boeke. Annelise is Weerloos.

Share this / Deel hierdie: