Snyman, Gerrie 2007. Om die Bybel anders te lees: ‘n Etiek van Bybellees. Pretoria: Griffel Media. 196 bladsye. Sagteband. ISBN 978-0-9802556-6-X.

Die strekking van hierdie boek herinner aan Robert Carroll se bekende Wolf in the Sheepfold (1997) wat ook handel oor die gevolge van onkritiese omgang met die Bybel. Om die Bybel anders te lees… is egter toegespits op die Suid-Afrikaanse konteks, intens persoonlik, ‘n eksistensiële soektog, geskryf met die patos van vervreemding van die eie kerktradisie. Teenoor die Afrikaanse kerklike diskoers wat tradisioneel met onbuigsame sekerhede werk, is dit ‘n boek van indringende vraagstelling eerder as klinkklaar antwoorde.

Gerrie Snyman (Ou Testamentikus en Gereformeerde teoloog verbonde aan UNISA) besin in dié publikasie oor die nalatenskap van apartheid wat, soos Auschwitz in Europa, ‘n epistemiese breuk in die Suid-Afrikaanse samelewing veroorsaak het. Nà 1994 het almal se lewens en denke ingrypend verander maar die Afrikaanse reformatoriese kerke het nog nie met ‘n postapartheidsteologie vorendag gekom om die trauma wat lidmate in hulle veranderde omstandighede ervaar, te help verwerk nie (pp 20-22). Die  apartheidsteologie wat dié bestel met goddelike sanksie uit die Bybel geregverdig het, word meteens as verkeerd bewys en gelowiges bevind hulle in ‘n geloofs- en identiteitskrisis waaruit hulle nie begelei kan word nie omdat die heersende hermeneutiek sedertdien nog nie verander het nie (pp 25-31). Soos Totius in die veertiger jare van die vorige eeu sonder inagneming van die sosiohistoriese konteks en die doel van die geskrifte, willekeurige Ou-Testamentiese tekste ‘netso aanvaar (het) as geldend vir die Boerenasie’ (p 75) om sy ideologie van rasse-skeiding te regverdig, word homoseksualiteit steeds met ‘n ideologie van heteroseksualiteit as sonde veroordeel en word vroue in die Gereformeerde Kerke op grond van die bybelse skeppingsorde uit die ampte gehou om ‘n ideologie van patriargie in stand te hou.

Vanuit ‘n positiwistiese denkraamwerk word die Bybel letterlik gelees. As geïnspireerde Woord van God verkry die tekste onaantasbare status en word antieke waardes ‘summier as waardes vir die híér en nóú’ aanvaar’ (p 84). Die uitwasse van hierdie leestradisie het Snyman oortuig dat dit noodsaaklik geword het om die Bybel anders te lees: met ‘n historiese bewussyn en verantwoording vir die nawerking van Bybellees in mense se lewens. ‘n Onkritiese lees laat merke op ander mense en kan selfs die dood as gevolg hê. Soos ‘n refrein deur die boek word ‘n historiese bewussyn beklemtoon. Hy wy ‘n gedetailleerde hoofstuk, ‘Die Mite van ‘n Letterlike Lees’, aan die illusie van ‘n ‘kontekslose’ lees. Kontekste kom noodwendig in die spel in die vorm van bedekte vooronderstellings en ideologieë.

Snyman bied ‘n etiek van Bybellees wat reg laat geskied aan die integriteit van die teks, die subjektiwiteit van die leser en die menswaardigheid van diegene wat deur die interpretasie van die teks geraak word (p 183). In die hoofstuk ‘’n Etiek van (Bybel)lees’, maak hy erns met die verskillende kontekste wat ‘n rol speel in die interpretasieproses. Elke teks reflekteer die konteks waarin dit ontstaan het en word verstaan vanuit die konteks van die leser.  Betekenis is nie in die teks opgesluit nie, maar ‘die mens (is) by die lees van die Bybel die knooppunt van verstaan’ (p 53). As historiese wese is dit onafwendbaar dat elke leser, sowel as die Bybelskrywers, se persoonlike geskiedenis, sosiale ligging en vooronderstellings by die verstaan van tekste betrokke is (vgl Gadamer Truth and Method 1987). Daarom is daar meer as een interpretasie-moontlikheid. Die etiese ding om te doen is dat die eksegeet verantwoordelikheid sal aanvaar vir sy of haar perspektief deur dit te verklaar, sodat dit kan meehelp in die verstaansproses. Totius se interpretasie illustreer die tirannie van ‘n verskuilde ideologie (p 79). Dan skryf hy: ‘Die begin van verstaan lê in die opstel van ‘n vraag’ (p 68). Om die eksegeet bedag te maak op die implikasies van sy of haar interpretasie, behoort die teks op retories-kritiese wyse suspisieus gelees en bevraagteken te word om vas te stel wie se belange gedien word, watter waardes aangemoedig word en watter sosio-politieke praktyke gelegitimeer word. In kort, om die ideologie agter die teks te vind (p 59).

In die hoofstuk ‘Geweld en die Bybel as Wapen’, onderskei Snyman tussen die gebruik van die Bybel as wapen of as instrument. Omdat die Bybel as God se stem of God se wil gelees word, word aanvaar dat dit ‘n welwillende teks met heilsame waardes is. Dit is nie noodwendig die geval nie. ‘n Historiese lees ontbloot die gaping tussen die waardes van vandag en dié van tweeduisend jaar gelede en verhoed dat die ‘Godsprake in die hande van Bybellesers handige ideologiese magsinstrumente (word) om mense te dwing om ‘n sekere weg te volg’ (p 185).

In ‘n uitstekende hoofstuk, ‘Die Kanon en Inspirasie: Die Status van die Teks’, word die filosofiese onderbou van ‘n fundamentalistiese Skrifbeskouing uitgespel. Die oorsprong en verklarings van sentrale geloofsbegrippe soos ‘kanon’ (die implikasies van mondelinge oorleweringe en ‘n skriftelike kanon vir die interpretasieproses), ‘inspirasie’ (meganies of organies), ‘waarheid’ (objektiewe waarheid of relasionele waarheid) en ‘Skrifgesag’ (goddelike openbaring of menslike produksie) slaan ‘n fundamentalistiese benadering die nek in.

Die hoofstuk, ‘Die Bybel en Mag’, kyk na die geestelike afpersing wat met die gesagsaanspraak van die Bybel en die belydenisskrifte gepaard gaan – veral in die hande van leiersfigure soos dominees en sinodes wat moet bepaal wat God se wil is (p117). Onder andere word die uitspraak dat ‘n Christen ‘soos ‘n kind moet glo’ as ‘n vorm van magsuitoefening gedekonstrueer (p 121).

By die Franse filosoof, Emmanuel Levinas, kry Snyman die gedagte van die ‘etiese moment’ in die ontmoeting met die Ander. In ‘n deernisvolle hoofstuk, ‘Lees met ‘n ‘Ander’ in Gedagte’ wil hy tuisbring dat ‘n etiek van verantwoording behels dat ons die teks sal lees met verantwoordelikheid vir die kwesbaarheid en nood van die Ander, die persoon vir wie en namens wie die teks gelees word. Lesers het ook ‘n verantwoordelikheid om die Bybelteks as die Ander ernstig op te neem en te respekteer as ‘n antieke teks uit ‘n vervloë era wat radikaal van ons s’n verskil. In Alan Paton se woorde: ‘The past is another country. They do things different there.’ Bybellees as ‘n etiese handeling het dus ‘n dubbele betekenis: nie ander mense, of die teks in sy andersheid, mag deur ons interpretasie geweld aangedoen word nie (p 146).

In ‘n goedgeskrewe Slotwoord word die argumente van die losstaande hoofstukke in samehangende verband, amper soos ‘n storie wat sluit, uiteengesit en ‘n mens sit die boek neer met respek en waardering vir die deeglike navorsing en nadenke wat daarin gegaan het.

Herhaling in ‘n bespreking van soveel verweefde kwessies is noodwendig en moet verskoon word. Alhoewel Snyman se skryfstyl gemaklik is en hierdie leser meegesleur het, is dit gerig op lesers met ‘n teologiese agtergrond. Die deursnee lidmaat mag die filosofiese inslag ietwat gewigtig vind. Met die vloedgolf van naïewe Bybellees wat die land tans oorspoel, mag hierdie boek nie geïgnoreer word nie. Dit hoort op elke predikant se lessenaar en op die leeslys van alle nagraadse Teologie- en Bybelkundestudente.

Boek kan bestel word by:
Griffel Media
Tel: 012 843 7717 – Sel: 082 942 9998
Epos: info@griffel.co.za
Faks: 0866 750 776

Share this / Deel hierdie: