Een van die ou probleme in die boek Levitikus wat geleerdes al redelik laat kopkrap het, is wat ons kan noem ‘n soort “etiese wending” in die middel van die boek. Dit verwys na die feit dat Levitikus 1-16 fokus op dit wat ons vandag “rituele” sal noem, terwyl ons in die tweede helfte van boek, in die deel wat as die Heiligheidswetgewing bekend staan, tekste vind wat meer “eties” van aard is. Wat bedoel ons daarmee?
‘n Vinnige oorsig oor die boek Levitikus sal dalk help. Levitikus 1-7 gaan oor verskillende offers en beskryf hoe hierdie rituele uitgevoer moet word. Dit sluit verskillende offers, soos die brandoffer, vredesoffer, graanoffer, reinigingsoffer ens. in. Hierdie sewe hoofstukke oor offers word gevolg deur ‘n verhaal wat strek vanaf Levitikus 8 tot 10 en dit beskryf hoe die priesters georden word om hulle werk te doen. Dit behels ook die bring van verskeie offers en ander rituele waardeur die priesters geheilig word. Die verhaal bereik is soort kultiese klimaks aan die einde van Levitikus 9 om net oor te gaan na ‘n groot anti-klimaks in die begin van hoofstuk 10 wanneer die twee seuns van Aäron “vreemde vuur” na die altaar bring en sterf. Levitikus 11-15 is ook ‘n soort versameling waar konsepte soos “rein” en “onrein” oorheers en dan word die eerste helfte van die boek Levitikus afgesluit met Levitikus 16 wat gaan oor die die Groot Versoendag. Laasgenoemde hoofstuk het terminologies redelik baie in gemeen met die beskrywing van offers in Levitikus 1-7. Hoofsaak is dat tot en met hoofstuk 16 van Levitikus draai alles om die kultus en die rituele wat uitgevoer moet word om die kultus in stand te hou.
In Levitikus 17 begin ‘n volgende versameling wat bekend staan as die Heiligheidswetgewing (H) en, soos ons nou net sal sien, is die versameling juis vernoem n.a.v. die taal wat hier gebruik word om hoorders te motiveer. Maar in H kry ons nou skielik wette wat ons vandag sou beskryf as meer “eties” van aard. Dit gaan byvoorbeeld oor hoe Israeliete moet optree teenoor mekaar en selfs teenoor vreemdeling. Levitikus 18 en 20 gaan byvoorbeeld oor seksuele gedrag. Die hoofstuk wat soos die vulsel in ‘n toebroodjie tussen 18 en 20 sit, hoofstuk 19, is ‘n vreemde mengsel van wette wat herinner aan dit was ons in die eerste deel van Levitikus kry en ander wette wat soms herinner aan die dekaloog en soms herinner aan “sosiale geregtigheid” die soort ding wat ons by baie profete kry (Nihan 2007:451). Levitikus 19:5 sê “Wanneer julle ‘n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is”. Dit klink soos Levitikus 1-7. In vers 11 lees ons: “Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.” Dit klink soos die tien gebooie. Verse 13 en 14 klink as volg: “Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ‘n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. Uit eerbied vir jou God mag jy nie ‘n dowe vloek of ‘n hindernis in die pad van ‘n blinde lê nie. Ek is die Here.” Dit aan die soort idees wat ons soms by die profete soos Amos en Jesaja kry wat protesteer teen die uitbuiting van armes, maar ook soos tekste uit Deuteronomium. Of dink aan verse 18 en 34 oor die liefde vir die naaste en die vreemdeling, woorde wat selfs deur Jesus aangehaal word. Verderaan in hoofstuk 25 vind ons ook tekste wat bekommerd is oor sosiale geregtigheid en arm mense wat hulle grond verloor. Wat ons dus met “etiek” bedoel is tekste wat ons herinner aan die tien gebooie en aan sekere profeteboeke en baie belangrik hierdie soort tekste is heeltemal afwesig in Levitikus 1-16.
Dit sou dalk ook help om na die konsep “heiligheid” self te verwys om iets hiervan te illustreer. In Levitikus 1-16 word die s.nw. ěš, die b.nw. ôš en die werkwoordstam qš slegs gebruik met die betrekking tot die heiligdom, die priesters en die toerusting wat geassosieer word met die heiligdom. In Levitikus 8 kom die ww. bv. vyf keer (verse 10, 11, 12, 15 en 30) voor en in elke geval is Moses die onderwerp van die werkwoord en die voorwerp is die tabernakel, die toerusting van die tabernakel, Aäron (die hoëpriester), die altaar en Aäron se seuns (die priesters). Heiligheid is in Levitikus 1-16 duidelik iets wat net met die heiligdom en die rituele wat die heiligdom in stand moet hou geassosieer word. In die Heiligheidswetgewing (H) word die term egter aansienlik wyer gebruik. In Levitikus 19:2 lees ons:
Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

          Heiligheid is nou iets wat op die volk toegepas word en ook op Jahwe soos die volgende teks (Levitikus 18:7-8) ook wys:
Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

          Dit is duidelik dat wat die begrip heiligheid self betref, is daar ‘n stuk verbreding wat in die tweede helfte van Levitikus gebeur. Heiligheid is nie net meer van toepassing op die heiligdom nie, maar op die hele. Dit is ook duidelik dat hierdie verbreding van die begrip heiligheid ineengeweef is met die sogenaamde “etiese wending” in Levitikus. Bibb (2009:145) stel dit mooi:

To be holy in H does not mean to be set apart for a specific use in the cultic sphere. Rather, it implies a total relation to the deity that includes but transcends the cultus and engages the people in their everyday lives.

In die tweede helfte van Levitikus is die kultus nog steeds sentraal, maar die horisonne word verbreed om gewone mense en hulle gedrag teenoor mekaar in te sluit. Hierdie gedrag word nou deel van wat heiligheid behels. Die vraag is natuurlik waaraan Pentateug geleerdes die “etiese wending” in Levitikus toeskryf. Ek sal kortliks twee opsies noem en effens meer tyd aan die tweede een spandeer.
Die Israeli geleerde Israel Knohl (1995) beweer dat H later geskryf is as die eerste deel van Levitikus wat gewoonlik aan die tradisionele P-bron toegeskryf word. Die opsigself is nie uniek nie, want al hoe meer geleerdes aanvaar dat H later as P is (soos ek Otto wat binnekort ter sprake kom), maar Knohl dateer beide P en H vóór die ballingskap wat nie algemeen aanvaar word nie. Vir hom het priesters die eerste helfte van Levitikus geskryf in die tyd tussen Salomo se tempel en die regering van Ahas of selfs sy seun Hiskia. Hulle het ‘n kultus bedryf wat esoteries van aard was en totaal en al wêreldvreemd en dié kultus is deur die klassieke profete in die agste eeu soos Jesaja, Miga en Amos gekritiseer. Dit lei dan tot ‘n latere generasie priesters wat in reaksie op die kritiek van profete H produseer om te wys dat hulle ook besorg is oor etiek en hoe Israeliete teenoor mekaar optree. Die groot probleem met Knohl is sy vroeë datering van P wat redelik stroomop swem in die stroom van Pentateug navorsing en min geleerdes stem met hierdie datering saam.
‘n Volgende verduideliking word deur Eckart Otto (1999 en 2009) verskaf. Hy beweer dat daar in die tyd ná die ballingskap aanvanklik ‘n Heksateug was wat gestrek het van Genesis 1 tot Joshua 24. Die idee van ‘n Heksateug is redelik oud onder Duitse Ou-Testamentici en dit los een probleem op wat daar in die Pentateug bestaan: Hoekom vertel die Pentateug nooit vir ons hoe die belofte van land aan Abraham vervul word nie? Die boek Joshua vertel hiervan en voeg jy dit by die Pentateug (en jy het ‘n Heksateug) dan word die beloftes van land vervul. Volgens Otto was die doel van die Heksateug om Joodse identiteit in die Persiese tydvak nou met die land te verbind. Maar dit het gelei tot druk van die Joodse diaspora oor hulle identiteit, want hulle bly nie in die land nie en waar pas hulle dan nou in! In reaksie op hulle soeke na identiteit is die Pentateug geskep en nou word Joodse identiteit gedefinieer as ‘n leefstyl gekoppel aan die Tora en waar jy bly is irrelevant. Maar wat ek dit alles met H te doen? Wel, volgens Otto het die redakteurs wat die boek Joshua afgesny het tegelykertyd die Heiligheidswetgewing geskep. Hulle doel was om die verskillende regsversamelings te konsolideer in hierdie een nuwe versameling en Otto sien in H herinterpretasies van ander regstekste uit veral Eksodus en Deuteronomium en dit geld veral ook vir die “etiese” tekste waarna vroeër verwys is.
Vir Otto is die etiese wending in Levitikus dus deel van ‘n groter proses van identiteitsoeke in die Persiese tydvak en in hierdie soeke na identiteit kom ‘n lewe wat op mekaar gerig is ter sprake. Ek weet nie hoekom nie, maar ek vind Otto se hipotese verskriklik aantreklik. Identiteit lê eerder in hoe ons leef as waar ons woon.

Bibliografie
Bibb, B.D., 2004, The Prophetic Critique of Ritual in Old Testament Theology, in: L.L. Grabbe and A.O. Bellis (eds.) The Priests in the Prophets. The Portrayal of Priests, Prophets and Other Religious Specialists in the Latter Prophets. T & T Clark, London, 31-43.
Knohl, I., 1995, The Sanctuary of Silence. The Priestly Torah and the Holiness School. Fortress Press, Minneapolis.
Nihan, C., 2007, From Priestly Torah to Pentateuch. Mohr Siebeck, Tübingen. (Forschungen zum Alten Testament. 2. Reihe).
Otto, E., 1999,‘Innerbiblische Exegese im Heiligkeitsgesetz Levitikus 17-26’ [Inner biblical exegesis in the Holiness Code Leviticus 17-26], in: H.-J. Fabry & H.-W. Jüngling (eds.), Levitikus als Buch. [Leviticus as a Book.] Philo, Bonn, pp. 125-196. (Bonner Biblische Beiträge).
Otto, E., 2009, Die Tora. Studien zum Pentateuch. Gesammelte Aufsätze. [The Torah. Studies about the Pentateuch. Collected essays.] Harrassowitz Verlag, Wiesbaden. (Beihefte zur Zeitschrift für Altorientalische und biblische Rechtsgeschichte).

Share this / Deel hierdie: