Die fliek begin in die middel van die verhaal: ‘n kunstenaar van die oerwoud af, op ‘n boot op pad terug, ‘n partytjie en die bekendstelling van sy kunswerke, en ‘n vlietende oomblik van skielike herkenning.

 

Die storie begin eintlik tien jaar gelede. Charles Ryder (Matthew Goode) is ‘n arm student sonder ‘n noemenswaardige familie wat geskiedenis aan Oxford gaan studeer. Eintlik wil hy egter liewers ‘n kunstenaar wees. Julia Flyte (Anna Madeley) daarenteen is skatryk en lid van die Engelse aristokratiese Marchmains. Aanvanklik raak Charles eers met haar broer, Sebastian (Ben Wishaw) bevriend, ‘n vriendskap wat baie duidelik homo-eroties van aard is. Sebastian neem hom saam na Brideshead toe – die landgoed van sy familie.

 

Alles hier staan onder die wil en bestuur van die matriarg Lady Marchmain (Emma Thompson) – oftewel God. En dit stel die sentrale tema van die fliek aan die orde: die mag van godsdiens. Ofskoon Lady Marchmain se godsdienstige fanatisme veroorsaak dat haar man haar verlaat en Julia en Sebastian deur skuldgevoelens verteer word, ofskoon hierdie soort godsdiens mense se verhoudings met hulself en met mekaar vernietig, kry dit ‘n houvas op hulle waaruit hulle nie kan ontsnap nie.       

 

Die scenes beweeg weg van, maar telkens weer terug na Brideshead. Net soos godsdiens, het die familielandgoed ook ‘n houvas op die mense. Dit kry ‘n vreemde houvas op Charles. As selferkende ateïs vorm hy Lady Marchmain se teenpool, en wanneer sy verhouding met Julia juis as gevolg van godsdiens skeefloop, vermoed die kyker dit is die einde. Charles, die Marchmains en Brideshead sal mekaar nooit weer sien nie.

 

Die fliek eindig in die 1940’s tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Marchmain-familie het Brideshead verlaat en dis nou kwartiere waar offisiere van die Engelse weermag gestasioneer word. Ironies genoeg is Charles een van hulle. Hy loop deur die gebou wat hy eens so goed geken het, maar wat nou so drasties verander het. Hy bring ook ‘n besoek aan die kapel waar daar ter wille van gelowige soldate steeds ‘n kersvlam brand.

 

En vir Charles kom soveel herinneringe terug.

 

Brideshead Revisited is ‘n herbewerking van ‘n boek wat Evelyn Waugh in 1945 gepubliseer het. Kritici reken dis nie ‘n getroue weergawe van die boek nie. Byvoorbeeld, die homo-erotiese verhouding tussen Sebastian en Charles word in die boek slegs maar baie vaagweg gesuggereer. Verder – en dis my enigste punt van kritiek in die fliek – verloor ‘n mens soms die plot.

 

Nogtans het regisseur Jeremy Brock daarin geslaag om die verhaal te her-definieer en twee uiters omstrede kerklike geskilpunte aan te spreek: homoseksualiteit en die onverdraagsame aanwending van die Skrif en geloofsgebruike.

Share this / Deel hierdie: