Toe ek op skool was, was Huishoudkunde verpligtend vir meisies, tot en met standerd 8 – deesdae, graad 10. Ons moes verskeie dinge leer, soos: hoe om ‘n bed op te maak; hoe om tafel te dek; hoe om eiers te kook; hoe om kos vir siekes voor te berei; hoe om poeding te maak. Veral poedings. Die poedings was: tapioka-poeding, sago-poeding, ryspoeding en broodpoeding. En dan was daar – soos ons gesê het, ‘kreem keremel’. Die karamel-gedeelte was nogal moeilik: jy moes twee dele suiker met een deel water versigtig warm maak tot ‘n goue bruin stroop. Die proses moet baie fyn dopgehou word: as jy die kastrolletjie te gou van die vuur afhaal, kry jy sieksoet suikerwater as resultaat. Wag jy te laat, dan het alles tot verbittering verbrand.

 

Die rolprent Caramel begin met ‘n warm suiker-konkoksie. Perfek, elasties, eetbaar, maar ook geskik vir kosmetiese doeleindes. Laasgenoemde is die fokuspunt van die rolprent: ‘n skoonheidsalon in Lebanon. Suikersoet oomblikke van die lewe se vreugdes, maar ook die pynlike proses van waksbehandelinge word op die silwerdoek baie realisties uitgebeeld. In hierdie salon word universele lewenskwessies aangespreek: verbode liefde, benouende tradisie, verlore maagdelikheid, onderdrukte seksuele oriëntasie, ‘n beroep wat nie uitwerk nie, vrees vir ouderdom.

 

Die vroue in hierdie salon belewe oomblikke van vernedering, eensaamheid en gebrokenheid in ‘n lewe wat hulle nie billik behandel nie. Tog is hulle taai, en in melodramatiese momente dra die humor hulle deur. Hoofkarakter Layale – vertolk deur Nadine Labaki – is ook die regisseur van die rolprent. Saam met haar in die salon is Nisrine (Yasmine Al Masri), Rima (Joanna Moukarzel), en Jamale (Gisèle Aouad). Maar dis veral die verhouding tussen Auntie Rose (Sihem Haddad) en haar erg seniele suster Lili (Aziza Semaan) wat ‘n lewenstragedie verbeeld waaruit ‘n mens moeilik kan ontsnap: plig voor plesier.

 

Die rolprent wat in Beirut afspeel, bied ook ‘n interessante kyk in die lewe van mense in die Midde-Ooste. Die ruimtes is beknop, gesinne lewe op mekaar en daar is min persoonlike privaatheid. Hier is ‘n vreemde mengsel tussen Islam en die Christendom, en vroue word maar steeds deur tradisie en streng morele kodes ingeperk. Hierteen word nie openlik geprotesteer nie. Tog is die laaste momente van die rolprent onthullend met die misterieuse Siham (Fatmeh Safa) wat dit waag om haar pragtige lang hare kort te sny. Bevry loop sy, huppel sy uit die salon, en kan amper nie genoeg van haar nuwe beeld in die glasvensters van die winkels kry nie. Wie is ek? vra sy die spieëltjie – ‘n verrassende ontdekking van ‘n nuwe vry vrou met ‘n persoonlikheid van haar eie.    

 

Caramel het nie regtig ‘n plot nie. Die kyker word betrek by elkeen van hierdie vroue se bestaan. En dit word eintlik die plot: die bittersoet van die lewe.

Share this / Deel hierdie: