Dark Knight is nie my soort rolprent nie. Te veel aksie. Te veel geweld. Te veel jaagtonele. Na twee en ‘n half ure raak dit amper vervelig. Hier kom nog ‘n skietery, nog ‘n tonnel, nog ‘n omgedopte vragmotor, nog ‘n brand, nog ‘n polisievoertuig wat oor ‘n brug in die rivier instort… en Batman wat wonderbaarlik ontsnap.

Ek is te dom om die fotografiese tegniek te snap. Ek het my nek afgeruk as die skietery hier skuins agter my losbreek. Ek kon die aarde onder my voel bewe as Batman op sy motorfiets jaag in ‘n futiele poging om die heldin te probeer red, of om die skurke te fnuik. Maar vir geen oomblik het ek op die punt van my stoel gesit en my naels in afwagting gekou nie. Om die waarheid te sê, sensitiewe kyker wat ek is, het ek nie eens die behoefte gevoel om my oë toe te druk nie.

Hoekom het ek gaan kyk?

Eenvoudig. Hierdie fliek het al miljoene gemaak. Ek was nuuskierig. Moet ek nie dalk my fliek-snobisme in my sak druk, en vir afwisseling iets anders as kûnsflieks gaan kyk nie? Mis ek iets?

Aanvanklik was ek teleurgesteld. Alles is so voorspelbaar. Dis die ou-ou stryd tussen goed en kwaad. Batman – oftewel Bruce Wayne (Christian Blake) – is ‘n hedendaagse Robin Hood wat die stad Gotham probeer bevry uit die kloue van misdaad. Misdaad kom in die vorm van die Joker – gespeel deur wyle Heath Ledger van Brokeback Mountain-faam.

Joker is ‘n sinistêre figuur, alles behalwe ‘n grap. Why so serious? vra hy met ‘n glimlag vir sy slagoffers, mes in sy hand, mes teen hul keel – of voor hul lippe. Want die glimlag op sy eie gesig is die resultaat van trauma. Sy grootste grap is om die mensdom te ontmasker – uiteindelik, wil hy bewys, triomfeer chaos en anargie. Niemand is inherent goed nie. Goed en boos is nie twee teenpole van mekaar nie, goed en boos lê ‘n haarbreedte neffens mekaar. Joker en Batman is albei freaks, die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Hulle het mekaar nodig.

Joker se filosofiese uitlatings is amper onvanpas in ‘n fliek soos hierdie. En tog word hyself in die proses ontmasker as ‘n ‘tragiese held’ – iemand wat die kwaliteit van die lewe verloor het. Onder die grillerige olierige hare en witgeverfde gesig spreek sy oë van ‘n donker melankolie, ‘n verlies aan hoop, ‘n verlies aan menswaardigheid. Dis ‘n grap dat mense hierdie waardes nog koester, die waarheid is donker, boos en ongenaakbaar.

Dark Knight is ‘n donker fliek. Dit fokus op die donker kant van die lewe. Dit ontbloot die donker kant van die mens se psige. Alles word verhul in ‘n pakket van aksie, skop skiet en donder, maar die stille psigo-anargisme binne elke mens is dalk veel veel gevaarliker.

En geen grap nie!

 

* Voor die voltooiing van die fliek, op 28 Januarie 2008 is Heath Ledger oorlede aan ‘n oordosis medikasie wat hy per ongeluk op voorskrif ingeneem het. Hy word benoem as ‘n akteur aan wie die Oscar moontlik postuum toegeken kan word.

Share this / Deel hierdie: