‘Die Wonderwerker’ is nie ‘n biografie oor die lewe van Eugène Marais nie. Dit het Leon Rousseau reeds in ‘Die Groot Verlange’ gedoen. Maar, miskien met die ‘Groot Verlange’ in die agterkop, bied Katinka Heyns ‘n uiters sensitiewe blik op een episode in hierdie befaamde Afrikaanse digter-cum-wetenskaplike se lewe.
‘n Paar jaar na afloop van die Anglo-Boere-oorlog (1908), ontmoet Marais die Van Rooyen-familie van die plaas Rietfontein in die Waterberge. Hulle ontferm hulle oor die man wat op daardie stadium ylend siek aan malariakoors is. Vaagweg weet hulle van die ‘vent wat tussen die bobbejane gebly’ het, maar ook nie veel meer as dit nie.
Uiters subtiel ontvou ‘n klein stukkie familiedrama wat intens met Marais se verblyf op die plaas verweef word. Die oorlog het Gys van Rooyen (Marius Weyers) gebreek; Maria (Elize Cawood), sy vrou werk haarself vodde op die plaas, maar sy is eensaam en alleen, en sy hunker na die liefde van ‘n man; hul seun, Adriaan (Kaz McFadden) het seksueel ontwaak en kan sy hande nie van Jane Brayshaw (Anneke Weideman) afhou nie. Na die oorlog het Jane se ouers alles verloor en kon nie meer vir haar sorg nie. Die Van Rooyens het haar onder hul dak geneem waar sy iets tussen ‘n aanneemkind en ‘n huishulp is.
‘n Paar dae na sy aankoms op die plaas, skud Marais die malariakoors af, maar nie sy jarelange verslawing van morfien nie. Maria neem dit op haar om hom te ‘genees’, en ‘n interessante magspel ontwikkel tussen die twee. Die jong Jane herinner Marais alteveel aan sy eerste vrou, Aletta wat tydens die geboorte van hul seun gesterf het – onvermydelik ontstaan daar gevoelens tussen die veertigjarige man en die jongmeisie wat nog nie twintig is nie, en waarteen Marais opreg baklei.
Namate die rolprent ontvou, tik die liefdesbom al sterker en harder na die oomblik van ontploffing. Marais staan in die middel tussen die liefde van die vroue en die haat van die mans. Dawid Minaar se spel is boeiend. Dis duidelik dat hy die ‘mesmeraaising’ karakter van Marais werklik internaliseer het en dit met oortuiging vertolk. Maar nie net hy nie. Die veterane, Weyers en Cawood, sowel as die nuwelinge, McFadden en Weideman, leef hulself van begin tot end in die storie in en lewer sterk spel.
Om van Andries, die bobbejaan nie te praat nie … of miskien is hy net homself.
Afrikaanse rolprente neig dikwels na oppervlakkige growwe humor, of makabere donker drama wat in ongeloofwaardige melodrama ontaard. Katinka Heyns, as regisseur handhaaf ‘n perfekte balans: sy skram nie weg van die donker sy van Marais se lewe en sy verslawing aan morfien nie, maar sy beklemtoon dit ook nie onnodig nie. Aan die ander kant is daar tonele wat die kyker eenvoudig laat skaterlag en so ook die ligter humoristiese kant van Marais belig.
‘Die Wonderwerker’ is ‘n hoogtepunt in die genre van Afrikaanse rolprente. Ofskoon dit nie by die kunsflieks draai nie, behoort die ernstige fliekganger dit beslis nie mis te loop nie. Die kyk is oor en oor die moeite werd!

Share this / Deel hierdie: