Nederland, Januarie 1945, teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog. As gevolg van die oorlog en die Duitse besetting in Nederland, is die skole gesluit: vir veertienjarige Michiel is die lewe dus betreklik vervelig en hy jeuk vir avontuur. Die openingstoneel van die fliek is Michiel se oomblik: hy sien hoe ‘n Engelse vliegtuig afgeskiet word, en iewers in die bosse in vlamme neerstort. Die volgende dag gaan hy en ‘n maat ondersoek instel, tot ergernis van die Nazi’s. Met groot pret ontduik die twee kwajongens die soldate, maar Michiel se fiets gly, en die Nazi’s bring hom voor stok voor sy pa, die burgemeester van die dorp.

   Alles is nie onskuldig soos dit lyk nie. Michiel hou vol daar was niemand by hom nie, hy was alleen. En vanaf hierdie oomblik blyk Michiel se simpatie en betrokkenheid by die Weerstandsbeweging, veral onder die jongmense van die dorp. ‘n Vertroulike brief lei hom na die middel van die woud waar hy die enigste oorlewende van die vliegtuigramp opspoor, Jack, ‘n RAF-loots, nie veel ouer as hyself nie. Michiel onderneem om Jack te help ontsnap na Zwolle toe – hy weet hoe.   

    Die oorlog skep spanning in Michiel se familie. Hy is in opstand teen sy pa wat – as burgemeester – ‘n goeie verhouding met die Duitsers probeer handhaaf. Sy oom Ben (Yorick van Wageningen), openlik en uitgesproke aan die kant van die Weerstand, is sy held. En wanneer hy uiteindelik sover kom om Jack in die skuur van die agterplaas weg te steek, vertrou hy sy oom Ben om die vlugteling tot veiligheid te begelei.

   Oorlogswinter gaan egter minder om oorlog. Behalwe vir die openingstoneel is daar geen grootskaalse ontploffings nie. Daar is ook geen massa-uitwissings nie. Veel eerder is Oorlogswinter ‘n studie in die karakters van mense teen die agtergrond van oorlog. Martijn Lakemeier se vertolking van Michiel is boeiend. ‘n Seun word ‘n man. Sekerlik die heel teerste toneel is wanneer Michiel se pa hom leer skeer. Raymond Thiry, wat die rol van Michiel se pa vertolk, word eers retrospektief ‘n verrassende mengsel van pragmatisme en onderbeklemtoonde adel. Jamie Campbell Bower (Jack) se seunsgesiggie vertel ‘n storie van kinders wat ‘n oorlog in al sy brutaliteit meemaak.       

   Martin Koolhoven, die regisseur, begelei die kyker deur die grou, Hollandse winterlandskap om die situasie deur Michiel se oë waar te neem. Jy sien die lewe soos wat Michiel dit sien. Sekere temas word afgemete, planmatig herhaal: Michiel se raserige flitslig; die verkyker waarmee hy sien wat hy liefs nie moet sien nie; die fiets waarmee hy meer as een keer val; deure wat telkens te hard toeklap. Die plot ontvou met toenemende kompleksiteit, met heelwat verrassende kinkels, en ontknoop met die besef van ‘n verlore jeug.

   Oorlogswinter is gebaseer op ‘n gelyknamige boek van Jan Terlow. Die fliek is hoofsaaklik in Nederlands, ‘n bietjie Duits, ‘n bietjie Engels, en met Engelse onderskrifte. Ek wil egter kykers aanraai om die onderskrifte heeltemal te ignoreer, dit laat hoegenaamd geen reg geskied aan die hoogs verstaanbare, selfs pittige Nederlands nie.

   Die sterk punt van die fliek is dat dit nooit melodramaties word nie. Hoogspanning word met momente van humor afgewissel.           

   Maar Oorlogswinter nie ‘n ‘goed-voel’ fliek nie. Dis ‘n fliek wat jou ruk, en waarskynlik gaan jy nog lank daaroor bly nadink. Kortom, Oorlogswinter is nie vir sissies nie.

Share this / Deel hierdie: