As daar net drie fliekgangers in ‘n teater is, moet jy maar weet – jy’s in vir ‘n ding. Dis óf uiters swak, óf slegs vir die gesofistikeerde fliekganger bedoel. ‘Sound of my voice’ val in laasgenoemde kategorie.
Wat visuele beelde en sy-effekte betref, is die fliek gestroop. Jy ontmoet Paul (Christopher Denham) en sy partner Lorna (Nicole Vicius) laataand, op pad na ‘n onbekende huis in ‘n onbekende buurt. Vrywilliglik gee hulle al hul juweliersware en ander persoonlike besittings prys. Vrywilliglik laat hulle hulself blinddoek en boei om na ‘n onbekende kelderverdieping gelei te word. Gekleed in lang wit vormlose klere, ontmoet hulle die sekte: Maggie (Brit Marling) en haar volgelinge.
Maggie  beweer sy is in die toekoms gebore – iewers in die middel van die twintig vyftigs. Sy het egter teruggekeer om enkele uitverkorenes te ‘red’, en te ‘genees’ van al die swaar bagasie wat hulle uit hul verlede saamdra. Ongelukkig is die giftige klimaat van die huidige tydperk op aarde vir haar ondraaglik, daarom dra sy ‘n suurstofmasker, daarom kan sy nie verder as haar kelderverdieping nie, en daarom kweek haar volgelinge spesiale groente en vrugte – ook erdwurms – om haar te plesier.
Paul en Lorna betree die sekte as geharde joernaliste, om uit te vind wat presies in hierdie kelderverdieping aan die gang is. Die fliek verklap niks. Die kyker wil Maggie haat. Maar, en ontstellend so, kan jy nie. Sy is net te mooi, en net te empaties. Sy weet presies wanneer om die dogtertjie of die heks te speel. En sy het jou in haar mag.
Ritueel speel ‘n belangrike rol. Voordat iemand die kring van die sekte betree, moet hulle eers deur ‘n was-ritueel gaan. ‘n Suiwerings-ritueel. ‘n Vreemde handeklap seremonie volg. Daarna gaan sit almal, gekleed in lang los wit klere in ‘n kring. Hier word alle negatiewe herinneringe uitgebraak – letterlik.
Paul en Lorna wil Maggie blootstel as ‘n kultusleier wat bedrieg en mense doelbewus om die bos lei. Sy het alles wat nodig is: skoonheid, charisma. Die ontstellende moment in die fliek is as Paul begin swig voor Maggie se sjarme, en sy hom oorreed om immoreel op te tree. Lorna is die een wat kophou, en hom daarvan beskuldig dat hy homself oorgee aan ‘’n emosionele orgasme van trane en braak’.
Die fliek los die kyker met meer vrae as antwoorde. Soos: hoekom wil Maggie bloed van haar volgelinge trek?; wat is die rol van die swart vrou in die hotelkamer?; hoekom dra dogtertjie (Avery Kristen Pohl) altyd ‘n keps, hoekom kap sy voortdurend om en hoekom bou sy net met swart lego’s?; sorg haar pa vir haar of misbruik hy haar? Saam met Peter en Lorna bly die kyker wonder, tot aan die bitter einde: vertel Maggie nie dalk regtig die waarheid oor haar geboortedatum nie?
Onheilspellende sinistêre ondertone word verdoesel met gebare van heling, genesing, spiritualiteit – soos Maggie self. Regisseur Zal Batmanglij saam met Brit Marling (wat Maggie speel) het daarin geslaag om ‘n meesterlike sielkundige riller op die silwerdoek te skep. Dis nie ‘n ontspannende rolprent nie. Dit hou jou aan die dink van die begin en nog ‘n geruime paar weke daarna …

Share this / Deel hierdie: