The artist speel af in die jare 1927-1932 in Hollywood. Die held van die rolprentbedryf – op daardie stadium die stilprent – is George Valentin. Hy woon self al sy eie vertonings by en vermaak die skares na afloop van die fliek met sy vermaaklike danspassies. In die proses steel hy die kalklig van sy mede-akteurs en haal hom hul grimmigheid op die hals, maar hy gee nie om nie, hy het die skares aan sy voete. Hulle drom buitekant saam om net iets van hom te siene te kry … en so, per abuis word ‘n jong meisie vorentoe gestamp en beland letterlik onder Valentin se voete. Hy reageer sjarmant, en die volgende dag is daar ‘n foto van Peppy Miller in die koerant, ‘Variety’,  waar sy ‘n soen op Valentin se wang plant. Die opskrif lui: ‘Who’s That Girl?’ Peppy is self ‘n begaafde danseres, en danksy Valentin se betrokkenheid, beland ook sy in die rolprentbedryf. Baie gou ontstaan is daar ‘n vonk tussen die twee.

          Maar vir Valentin is dit die begin van die einde. Sy huwelik is besig om te verbrokkel, en die stilprent is uitgedien. Die skares wil die mense hoor praat. Die pratende liefling op die silwerdoek is niemand anders as Peppy Miller nie. En Valentin word spoedig uitgeskuif as ‘n ou, afgeleefde akteur met ‘n drankprobleem. Wat ‘n ironie: Valentin het vir Peppy die geleentheid van haar lewe gegee, en haar sukses word die direkte oorsaak vir sy ondergang.          

          Behalwe vir enkele minute heel aan die einde, is The Artist ‘n stilprent van nagenoeg 100 minute lank. Alles is swart-en-wit, tipies van die stilprente van die vroeg twintigste eeu. Die hele fliek word gedra deur musiek en veral deur mimiek. Jean Jujardin as George Valentin en Bérénice Bejo as Peppy Miller is albei skitterend, maar die held en hartedief van die verhaal is Uggie, die brak. Verder is dit baie duidelik dat die regisseur, Michel Hazanavicius goeie navorsing oor die genre van die stilprent gedoen het. ‘n Mens beleef nogal ‘n gevoel van nostalgie oor die tydperk toe rolprente in stylvolle teaters vertoon is terwyl ‘n lewende orkes vir die klankbaan gesorg het!

          Daarom is The Artist veel meer as net ‘n stilprent oor die melodramatiese verloop van Valentin se hoogtepunt en aftakeling van sy lewe as akteur. Dit is ook ‘n historiese studie in die ontwikkeling van die rolprent-genre, en dit is ‘n liefdesverhaal. Maar daar is ‘n dieper psigologiese vlak, en dit is die verkenning van stiltes: stiltes in menseverhoudinge, maar ook ‘n stilte in die mens se verhouding met homself.

          In die hedendaagse rolprent-genre van 3-D brille, histeriese diskoers, ontploffings van klank en kleur, was The Artist ‘n waagstuk, maar het oortuigend gewen.

Share this / Deel hierdie: