‘Ek het ‘n droom, Mamma, om ‘n huis vir bejaardes te ontwikkel wat so wonderlik is dat hulle nie sal wil sterf nie’.

Verskillende omstadighede gooi ‘n groepie Britse bejaardes in dieselfde bootjie – of liewers, op dieselfde vliegtuig – op pad na Jaipur in Indië. In die nuut-gerestoureerde ‘Exotic Marigold Hotel’ gaan hulle lafenis vir oue siele vind – Indië is immers soveel goedkoper as Brittanje. Die advertensie belowe palmbome, koel kabbelende fonteine, en private kamers wat volledig met elke denkbare luukse toegerus is.

          Wat hulle nie weet nie, is dat die hotel nie veel meer as ‘n bouval is nie. Sonny Kapoor (Dev Patel) het die plek van sy oorlede pa geërf en probeer ‘n onbereikbare droom voortsit – ‘n droom wat egter vir die bejaarde Britte ‘n aaklige nagmerrie blyk te wees. Die vuil gebou krioel van voëls en goggas en stof, en die geriewe is nie voldoende nie, veral nie wanneer die Indiese kos hul mae begin omkrap nie!      

          Op verskillende maniere probeer elkeen maar die beste van ‘n slegte saak te maak. Party slaag beter as ander. Evelyn (Judi Dench) wat altyd en vir alles van haar oorlede man afhanklik was, kry werk in Indië. Maar Jean (Penelope Wilton) draai onvergenoegd terug Engeland toe. So onvergenoegd soos wat sy gekom het, so gaan sy ook terug.    

          Dan is daar die romantiese subplots! ‘n Mens lag jou dood vir Norman (Ronald Pickup) wat die Kama Sutra probeer bemeester. Jy het simpatie met Sonny se liefde vir die beeldskone Sunaina (Tena Desae): haar familie hou nie van hom nie, en sy familie hou nie van haar nie. Hier kry die Westerse kyker ‘n blik op die benouende lewe van die Hindoe-kastesisteem wat Sonny en Sunaina se liefde wil verbied. Tussenin is daar ‘n uiters subtiele vonk tussen Evelyn en Douglas (Bill Nighy).

          ‘The best exotic Marigold Hotel’ verken die realiteit van ouderdom, aftrede en verlies, en die vrees vir verandering wat daarmee saamgaan. Deur hul gesamentlike ervaringe, word ‘n groepie bejaarde Britte gedwing om hul gemaksones prys te gee, en aan te pas. Dit vra ook van die Hindoe-gemeenskap om die strakke sisteem van gereëlde huwelike te herbedink – ter wille van liefde.

          Maar die beste van alles is: ‘The best exotic Marigold Hotel’ bewys dat die ou sterre nog genoeg skop in hulle het om ‘n goeie fliek te maak. Daar’s heelwat nabetragting oor die sin van die lewe, die ouderdom, die dood, veral oor heling; terselfdertyd verlustig die draaiboek in erotiek, romantiek en die pret van die lewe hier en nou.  

          Ek vermoed ‘The best exotic Marigold Hotel’ sal meer aanklank vind by kykers 55+ – maar jongmense kan dit gerus ook in die agerkop hou.

          Beslis die moeite werd.

Share this / Deel hierdie: