Die rolprent, ‘The Great Gatsby’ is ‘n aanpassing van F Scott Fitzgerald se gelyknamige boek wat in 1925 gepubliseer is – en aanvanklik nie juis populêr was nie. Eers na sy dood in 1940, en ná die Tweede Wêreldoorlog het die boek beroemd geword en was vir etlike dekades lank ‘n voorgeskrewe werk in skole se curriculum. Deesdae word dit as een van die klassieke literêre skeppings gereken.
Die oorspronklike titel wat Fitzgerald vir sy boek in gedagte gehad het, was ‘Trimalchio’. ‘Trimalchio’ is ‘n Latynse werk van die eerste eeuse Romeinse skrywer, Petronius. Trimalchio en sy vrou, Fortuna is albei vrygestelde slawe wat deur harde werk aansienlike rykdom en mag verwerf het. Die gedeelte ‘Cena Trimalchionis’ (dinee van Trimalchio) beskryf Trimalchio se uitspattige partytjies waar hy sy gaste, hoofsaaklik die Romeinse nouveau riche probeer beïndruk. Hordes slawe dra dis na dis en eksotiese lekkernye op. Aan die einde van die dinee, wanneer Trimalchio self lekker dronk is, neem almal deel aan ‘n opvoering van sy begrafnis, alles tot sy vermaak en om sy ego te streel.
Uitspattige partytjies is ‘n belangrike tema in ‘The Great Gatsby’. En dit is van die eerste dinge wat Nick Carraway (Tobey Maguire) vanuit sy kothuis waarneem. Hy het pas in New York aangekom, op soek na rykdom (the American dream) soos so baie ander. Die plekkie wat hy huur, staan op die grond van die geheimsinnige Jay Gatsby (Leonardo DiCaprio)– wat terloops net soos Trimachio vanuit haglike omstandighede tot ‘n skatryk magnaat gegroei het. Die gebeure speel hoofsaaklik af in die fiktiewe dorpie West Egg op Long Island in die somer van 1922.
Wat Nick nie weet nie maar wat later onthul word, is dat Gatsby al die jare lank nog op Nick se niggie Daisy Buchanan (Carey Mulligan) verlief is. Daisy en haar man Tom (Joel Edgarton) bly op die landgoed net oorkant die baai van die deftige Gatsby woning. Tom is intens jaloers op sy mooi vrou, maar hyself het ‘n stomende buite-egtelike verhouding met Myrtle Wilson (Isla Fisher) wie se man George (Jason Clarke) ‘n garage besit. Hierdie plek is die teenoorgestelde van Gatsby en Buchanan se herehuise: die Wilsons bly op die ashoop van New York, onder ‘n vertoonbord met die wakende oë van ene Dr TJ Eclebury.
Vir ‘n geruime tyd neem Nick slegs die partytjies waar, en wonder hy oor Gatsby wat soms ure lank op die landingsplek van die baai staan terwyl hy na die groen lig staar wat uit die Buchanan-huis kom. Maar die dag toe Gatsby vir Nick versoek om sy niggie Daisy vir tee oor te nooi, word hy ‘n toeskouer van onmoontlike liefde. Hy word ingetrek in die betowering van die super-rykes, al hul ideale, maar ook hul illusies en bedrog. Die einde is – voorspelbaar – tragies.
Dis baie moeilik om so ‘n bekende verhaal vars en met verrassende elemente te interpreteer. En dis presies waar die regiseur, Baz Luhrmann faal. Die akteurs vertolk hul rolle uitstekend; die kleredrag en prag en praal miskien ‘n bietjie oordoen, maar ‘n mens sou dit kon oorsien, gegewe die genre van rolprent. Juis daarom wil ek vra: was ‘n 3D brilletjie regtig ook nog nodig? Met temas soos dekadensie en idealisme het Luhrmann gepoog om ‘n prentjie van die twintigerjare se ‘Jazz Age’ te teken, maar ek het bittermin – indien enigiets – van daardie jare se wonderlike jazz ervaar. Om die waarheid te sê, ek sal die musiek as anachronisties beskryf.
Met sy aanbieding van ‘The Great Gatsby’ het Luhrmann heeltemal oorboord gegaan, maar terselfdertyd is daar iets van ‘n futloosheid. In plaas van die spreekwoordelike ‘less is more’, was dit oordaad. En in hierdie geval het oordaad die teenoorgestelde uitwerking gehad.
Nietemin: die intrige is goed, die rolspel uitstekend … maar los gerus daardie 3D brilletjie tuis (of moenie een koop nie), dis nie die moeite werd nie. Klim saam met Jay Gatsby in sy geel Rolls, en geniet die trippie … Old Sport!

Share this / Deel hierdie: