1963. Jackson. Mississippi. Een jaar voor die Wet op Burgerregte.

   Skeeter – oftewel Eugenia Phelan (Emma Stone)– het pas afgestudeer as joernalis. Sy kry ‘n netelige betrekking by ‘n plaaslike koerant: huishoudelike probleme. Soos hoe om uie te skil sonder dat jou oë traan. Hiervan weet sy niks. Sy gaan kers opsteek by Aibileen Clark, haar beste vriendin se huishulp. Maar Skeeter het ‘n ander ideaal. Sy wil ‘n boek skryf. Oor hoe swart huishulpe die wit vroue waarneem in wie se huise hulle werk.

   Dis alles teen die wet. Die swart vroue is bang en Skeeter sukkel aanvanklik om hul vertroue te wen. Maar na ‘n brutale inhegtenisname van ‘n mede-huishulp, kom die swart vroue een na die ander na vore met hul stories. Ontstellende stories van misbruik ontvou. Hulle is goed genoeg om die wit vroue se kos te kook, hul kinders groot te maak, maar hulle mag nie die toilette in die huis gebruik nie. Toilette is nogal ‘n belangrike tema in die fliek. Want juis hierdie basiese behoefte van die mens bied ‘n gulde geleentheid vir weerwraak. Soete soete weerwraak – in ‘n dubbele porsie – wat nog verdere rimpel-effekte het.

   Twee swart aktrises dra die rol van huisbediendes: Viola Davis as Abileen Clark is die eerste gespreksgenoot. Haar oë spreek boekdele van woede, wanhoop en pyn. Haar wit werkgeefster, Ms Elizabeth Leefolt (Ahna O’Reilly) kan niks sonder haar doen nie. Sy is ‘n hopelose ma. Nee, sy is nie wreed nie, net hulpeloos. Te bang om haar te verset teen die meer invloedryke vroue van die dorp. Wanneer Aibeleen in die pad gesteek word, kyk sy ewe hulpeloos toe.

   Octavia Spencer is Minny Jackson. Huisbediende van Ms Hilly Holbrook (Bryce Dallas Howard). Kyk, as daar nou ‘n feeks was, kry sy die prys. Jy wil nie met haar mors nie, nie as jy swart of wit is nie. Maar Minny laat haar nie onder kry nie. Sy het haar eie maniere om hierdie wit vrou by te kom …

   As Hilly vir Minny in die pad steek, gaan werk sy vir Ms Ceilia Foote, die loskop-dolla van die dorp. ‘n Vreemde verhouding ontwikkel tussen die twee: Minny leer vir Celia nie slegs die basiese beginsels van huishouding nie, maar deel haar ook belangrike lewensbeginsels mee. En, waar almal in die dorp diep bewus is van kleur, blyk Ceilia heeltemal kleurblind te wees.    

   Uitstekende spel deur al die aktrises – ja, hierdie is ‘n vroue-fliek, mans speel ‘n uiters marginale rol. Daar is geringe ondertone van chauvinisme, van geweld, maar dit is amper terloops wat ‘n mens dit agterkom. En die jare sestig van die vorige eeu word in alle detail uitgebeeld: klere, hare, karre, en sigaret in die hand van bykans elke vrou. Laat ons nie vergeet nie, dit was die jare van die ‘emansipasie van die vrou’ en ons het toe nog nie geweet hoe ongesond rook is nie.

   My enigste punt van kritiek is dat die regisseur, Tate Taylor neig om in stereotipes te verval. Protagonis Skeeter is net te idealisties en te goed om waar te wees. Antagonis Hilly is die heks der hekse. Die swart vroue is deur die bank die lydende party, dog adel van inbors. Die wit vroue se bestaan is oppervlakkig en wentel rondom sosiale vermaak. Die spel is oortuigend, maar die karakters is oor die algemeen ‘óf te vroom, óf te boos’, – behalwe Ceilia wat ‘n verrassende ander kant van haar persoonlikheid toon.

   En dan weet ek ook nie heeltemal of dit ‘n fliek vir mans is nie. The Help gaan uitsluitlik oor die verhouding tussen wit vroue en hul swart huishulpe. Maar miskien moet die mans wat die fliek gesien het, vir hulself praat.  

   Nogtans – en dit is ‘n sterk punt – hier gaan dit nie om rassisme nie, ten spyte van die swart-wit kwessie. Die skewe verhoudings tussen wit vroue en swart huishulpe word op ‘n spits gedryf in The Help, maar skewe menseverhoudings het nog nooit opgehou nie. Om die waarheid te sê, ongelukkig het ek ‘n paar mense in die stereotipes herken! Ten diepste gaan The Help om menswees en menslike behoeftes, soos liefde, respek, aanvaarding, erkenning van mekaar se vreugde en leed, oor grense heen.

   Dus, ‘n fliek wat lokaal gebonde afspeel, maar ‘n universele strekking het. Beslis die moeite werd.

Share this / Deel hierdie: