‘Hallo daar! My naam is Pi Patel. Ek is alleen iewers in die oseaan, op ‘n vlot … saam met ‘n tier. Kan iemand asseblief help?’ In hierdie resensie gaan ek nie die storie oorvertel nie, eerder enkele aspekte van die fliek uitlig en bespreek.
Eerstens wat die tegniese effekte betref. Regisseur Ang Lee lewer ‘n meesterwerk. Die grootste gedeelte van die fliek is animasie met enkele menslike akteurs. As ‘n mens in aanmerking neem dat die hoofakteur – in hierdie geval Suraj Sharma wat die sestienjarige Pi vertolk – slegs die groenskerm voor hom het waarbinne hy homself moet inleef, is dit verbysterende tegniek en briljante toneelspel.
Die tegniese uitmuntendheid bring egter terselfdertyd ‘n punt van kritiek mee: vir my gevoel was sommige van die scenes, soos die storms op see net ‘n bietjie te lank. Buitendien, dis ‘n baie lang fliek, meer as twee ure lank. ‘n Paar minute minder storm en angs sou geensins afbreuk aan die res van die plot gemaak het nie.
Twee motiewe wat deurgaans onderliggend is en wat ook die plot dra, is religie en fantasie of verbeelding. Pi is Hindoe van geboorte, en van kleins af word hy groot binne hierdie godsdiens se fantastiese godewêreld. In sy soeke na God, slaag hy op  verrassende wyse egter ook daarin om die Christendom sowel as Islam volledig te omhels. Hierdie drie religieë kompeteer nie met mekaar nie, en die een word ook nie teen die ander afgespeel nie. En dis hierdie twee faktore – religie en fantasie – wat hom help oorleef, as hy homself alleen in die oseaan, op ‘n vlot, saam met ‘n tier bevind.
Wanneer hy gered word, word sy storie egter nie geglo nie. Moedeloos dink hy ‘n ander meer geloofwaardige verhaal uit – sonder die elemente van religie en verbeelding wat die skeptici tevrede stel.
Die ontknoping is verrassend. Gaan kyk gerus die fliek, maar wees gewaarsku, dis lank.

Share this / Deel hierdie: