Rolprent is by uitstek ‘n medium wat van terugflitse gebruik maak. ‘n Karakter se vreemde, afwykende optrede word dikwels belig deur traumatiese gebeure uit sy/haar kinderjare. ‘n Goeie rolprent verloop selde chronologies. Ek sê selde, want The Maid [La Nana] is ‘n uitsondering op dié reël.

   Die gebeure speel van dag tot dag af in die lewe van ‘n welgestelde Chileaanse gesin. Die hoofkarakter is Raquel (Catalina Saavedra), die huishulp. Die toneel open waar sy stug en ongesellig haar onaptytlike bord kos apart van die gesin sit en eet. Die gesin wat in die eetkamer is, giggel en fluister opgewonde. Hulle is besig om ‘n verrassingspartytjie vir Raquel te reël: sy verjaar. Maar, alhoewel Raquel vermoed wat aangaan, lyk dit nie asof sy juis opgewonde is nie.

   Die storie ontvou stadig, baie stadig. Raquel gaan haar daaglikse gang deur die dubbelverdiepinghuis, stofsuier in die hand. Haar wêreld bestaan uit die huis, kombuis, skottelgoed, kamers, wasgoed, beddegoed. Voor dagbreek staan sy op, trek die kinders aan vir skool, pak hul kosblikke, maak haar werkgewers wakker met koffie en ontbyt.

   Maar iets is nie pluis nie.  

   Hoekom drink Raquel aanmekaar hoofpynpille? Hoekom is daar spanning tussen haar en Camilla (Andrea Garcia-Huidobro), die tienerdogter? Hoekom weier Pilar (Caludia Celédon), haar werkgeefster om ‘n skewe woord teen haar te aanvaar? Hoekom wil Raquel geen ekstra hulp in die huis aanvaar as sy so oormoeg en oorwerk is nie? Hoekom raak sy ontslae van al ander diensmeisies, en hoekom is die patroon presies dieselfde? En hoekom ontsmet sy die badkamer elke keer met verstikkende middels?

   Die kamera maak verdere vrae los deur telkens te fokus op die vroue wat stort. Is daar een of ander obsessie met die liggaamlike, selfs afwykende seksualiteit? Want die katalisasie kom as Raquel die naakte Lucy (Mariana Loyola) in die tuin gewaar – en haar dan as bondgenoot en mede-huishulp aanvaar …

   Net raaisels, en daar is niks wat die kyker help nie. Daar word slegs vaagweg gesuggereer.               

   Wanneer Raquel in nousluitende klere aankondig dat sy gaan draf met ‘n ‘Walkman’ in haar ore – soos wat Lucy altyd gedoen het – wonder jy wat gaan gebeur. Lucy is weg, sy verlang te veel na haar gesin. Gaan Raquel onder ‘n kar inspring? Maar dit gebeur nie.

   Die fliek eindig sonder om te eindig. Jy loop uit die teater met tergende vrae wat bly maal. Aan die een kant is dit ‘n teleurstelling – ‘n mens wil immers antwoorde hê! Maar aan die ander kant is dit juis die sterk punt van hierdie fliek wat dit anders as die deursnee rolprent maak.

Share this / Deel hierdie: