Terug van die skool op pad huis toe, word ‘n jong seun siek in die trem en ‘n ouer vrou help hom. En dit is die eerste ontmoeting tussen Michael Berg (op hierdie stadium gespeel deur David Kross) en Hanna Schmitz (Kate Winslet). Michael is sowat vyftien jaar oud en ‘n hormoon-gedrewe tiener: Hanna is ‘n  ouer vrou en gedryf deur ‘n donker verlede vol geheime. Spoedig raak die verhouding seksueel. Deel van die ‘voorspel’ is dat Michael vir Hanna voorlees uit die boeke wat vir hom voorgeskryf is. Vandaar die titel van Bernhard Schlink se Duitse roman, Der Vorleser wat ongelukkig in Engels onvertaalbaar is. So ‘n ongelyke verhouding is egter gedoem tot mislukking: Hanna verdwyn oënskynlik sonder enige redelike motivering uit Michael se lewe.

          Die kyker is kwaad vir Hanna. Sy mors met ‘n jong mens se emosies, hy is seksryp maar volkome onvolwasse, en sy buit dit uit: hoekom doen sy dit? 

          Hul paadjies kruis heelwat jare later weer. Michael is ‘n jong regstudent en Hanna staan in die beskuldigdebank. Destyds in die oorlog, voordat sy en Michael mekaar ontmoet het, was sy ‘n SS-beampte. Haar koelbloedige en berekende optrede teenoor die vroue in Auschwitz laat ‘n mens se hare rys. En tog openbaar sy ‘n roerende weerloosheid. Vir Michael, wat hard veg om niks van hul vorige verhouding te laat blyk nie, is dit traumaties. Meer ontstellend, nou begin ‘n groter legkaart stukkie vir stukkie inmekaar te pas, en dis nie ‘n baie mooi prentjie nie. Op ‘n kritieke moment moet hy ‘n lewensbelangrike besluit neem – en neem die besluit waarvoor die kyker hom bitter kwalik neem! Hoekom doen hy dit? Die resultaat van die besluit is dat Hanna lewenslank gevonnis word.

          Groot dele van die fliek speel af deur middel van terugflitse uit die oogpunt van die ouer Michael Berg (Ralph Fiennes). Nou, in sy middeljare blyk dit dat hy nog nooit daarin kon slaag om ‘n sinvolle, duursame verhouding met ‘n vrou aan te knoop nie. Die fliek begin met wat lyk na ‘n eenmalige gebeure van die nag. Wanneer die onbekende vrou sy huis verlaat, draai hy terug en kyk vas in ‘n leë bed. ‘n Leë bed, ‘n leë huis, simbolies van leë verhoudings duik telkemale in die fliek op. Dit word tekenend van sy lewe.

          En dan is daar die behoefte aan reiniging, aan vergifnis. Die konsentrasiekamp, sê die ouer Ilana Mather (Lena Olin), een van die min oorlewendes, is nie ‘n Universiteit nie. In so ‘n kamp leer jy niks. Dis onmoontlik om te vergewe. Tog bly die behoefte. In hierdie verband speel water ‘n groot rol. Dit begin wanneer Hanna die siek Michael afspoel, en word voortgesit as sy aanbied om die steenkoolbesmeerde jongeling ‘n bad te gee en hom dan in sy eerste seks-ervaring inlei. Baie tonele speel af rondom water. Vir my was ‘n uiters komiese oomblik toe Hanna en Michael nakend in ‘n stomende bad sit, en hy vir haar voorlees uit Lady Chatterley’s Lover – juis een van die meer eksplisiete sekstonele. ‘Disgusting,’ voeg Hanna hom toe, ‘you should be ashamed of yourself!’

          Die leitmotiv is natuurlik boeke, en lees. As ek egter meer hieroor uitbrei, gee ek die fliek weg, en dit gaan alles bederf. Twee werke speel ‘n sleutelrol: Homeros se Odussee, en Tsjekov se The Lady with the Little Dog.

          The Reader is ontstellend, ruk ‘n mens. Nie een van die twee hoofkarakters (Michael en Hanna) se optrede is wat ‘n mens as ‘eties’ sou bestempel nie. En tog ontwikkel jy ‘n ongelooflike deernis met albei.

          Dit maak die fliek die moeite werd om te gaan kyk, as jy dit nog nie gedoen het nie.

Share this / Deel hierdie: