Thor behaal tans baie goeie punte op die lys van populêre rolprente. Weens my belangstelling in mites en mitologie, kon ek die fliek dus nie misloop nie. My wonderwêreld waarin ek onwrikbaar glo, gaan uiteindelik werklikheid word: daarvoor gaan ‘surround sound’[i] en ‘n 3-D brilletjie sorg!

   Die held van die fliek is Thor – die Noorse god van donder, weerlig en storms – maar ook van fertiliteit en genesing. Een dag in ons week, Donderdag (Torsdag) is na hierdie god vernoem. Veral tydens die eeu van die Vikings, (ongeveer 11 nC) toe die Christendom besig was om ook Skandinawië te verower, het mites oor Thor en sy emblematiese hamer, Mjöllnir, ‘n kragtige teenvoeter gebied. Thor en Mjöllnir was onafskeidbaar. Die hamer het elke keer na sy besitter teruggekom, amper soos ‘n boemerang. En Thor was die enigste wat sterk genoeg was om die hamer te hanteer. Niemand anders, geen god of mens kon dit oplig of werp nie. In die Noorse mitologie word Thor as ‘n woeste god voorgestel met wilde rooi hare en ‘n rooi baard – bekend vir sy verskriklike humeur. Thor is die seun van Odin, koning van Asgard, die woning van die gode. Net so belangrik soos Thor, is Loki, die bedrieër – in die fliek uitstekend vertolk deur Tom Hiddleston.  

   Die plot van die fliek begin in die middel van die tiende eeu nC wanneer Odin (Anthony Hopkins) oorlog maak teen die Ysreuse van Jotunheim. Hul missie is om die nege gebiede van die heelal, onder andere die aarde, te verower en in hul mag te kry. Maar Odin slaag daarin om die kern van hul krag te buit – die Kis van Ou Winters (Casket of Ancient Winters), en dit op ‘n geheime plek in Asgard te bewaar. Sedertdien probeer die Ysreuse voortdurend Asgard binnedring en terugkry wat eintlik aan hulle behoort.

   Eeue later – ons tyd – blyk dit dat Odin se seun Thor ‘n moontlike troonopvolger kan wees. Maar Thor (Chris Hemsworth) is soos sy mitologiese eweknie ietwat impulsief en voortvarend, en teen sy pa se uitdruklike bevele gaan konfronteer hy en ‘n paar makkers die Ysreuse van Jotunheim. As gevolg van sy arrogansie skop sy pa hom uit Asgard en ontneem hom van sy goddelike krag. En Thor val uit die hemel op die aarde en beland in Nieu-Meksiko voor die kar van Jane Foster (Natalie Portman), ‘n wetenskaplike wat vreemde astronomiese verskynsels bestudeer.

   Nou begin die poppe dans.       

   Die fliek wissel tussen tonele in die mitologiese Asgard en die werklikheid op aarde. Daar is asemrowende effekte en 3-D neem jou direk in die wêreld van die gode in. Met ‘n regisseur soos Kenneth Branagh en akteurs soos Anthony Hopkins en Natalie Portman, kan ‘n rolprent nouliks ‘n mislukking wees. En Thor is dit ook nie. Daar is egter ‘n rede waarom hierdie fliek nie in die kategorie van kunsflieks val nie. Meng uitstekende spel met ‘n bietjie spanning en ‘n bietjie liefde, en die kyk is reeds die moeite werd. Maar die hoogs voorspelbare plot word deur die spesiale effekte en 3-D gedra, nie andersom nie.

   Gaan kyk Thor vir ontspannende vermaak, en ook om jou inligting oor die Noorse mitologie ‘n bietjie op te skerp, koes onbeskaamd vir bliksemstrale wat by jou verbyvlieg, maar moenie diepgaande lewensfilosofie verwag nie.                         


[i] Kan iemand dalk help met goeie Afrikaans vir ‘surround sound’ en ‘side effects’?

Share this / Deel hierdie: