Die rolprent ‘Truth’ is ‘n Amerikaanse dokumentêre drama wat op werklike gebeure gebaseer is. Dis 2004, net voor die presidensiële verkiesing, en president GW Bush het homself weer vir president verkiesbaar gestel. Intussen ondersoek ‘n groep joernaliste en TV produksiespan die moontlikheid dat hy in die sewentiger jare van die vorige eeu diensplig ontduik het, en dat dit alles geheim gehou is om hom te bevoordeel. Hulle ontdek inderdaad dokumente en getuies wat hul vermoedens bevestig. Toe dit egter openbaar gemaak word en op ‘CBS News’ uitgesaai word, ontketen dit ‘n furore. Ander joernaliste doen hul bes om te bewys dat die dokumente deur Microsoft Word vervals is, omdat tikmasjiene in die 1970s sekere lettertipes nie kon maak nie. Die saak gaan draai in die hof, en die uiteinde daarvan is dat die eerste span almal hul werk verloor en dat hul reputasie skade ly. Die vraag wat Mapes haar opponente vra, is: waaroor gaan die ‘waarheid’? Gaan dit oor die ondersoek na Bush, of oor die moontlike vervalsing van die dokumente? Maar wanneer jy as kyker by die teater uitstap, bly die tergende vraag jou by: was Mapes en haar span werklik op soek na die ‘waarheid’ of was hulle daarop uit om Bush net voor die verkiesing in die verleentheid te stel?

Die hoofrolspelers is Cate Blanchette as Mary Mapes en Robert Redford as Dan Rather. Mapes is die hoof van ‘n TV produksiespan en die uitsending van ’60 Minutes Wednesday’ en Rather ‘n gesoute nuusleser by ‘CBS News’. Hulle werk jare lank nou saam om aan die spits van die jongste nuusgebeure te bly en dit aan die publiek bekend te stel. Dit is Mapes wat die ondersoek na Bush se vermeende dienspligontduiking inisieer. Die rolprent gee ‘n mens ‘n goeie insae in die wêreld van joernalistiek en TV- en nuusproduksies en wat dit verg voordat dit uitgesaai word: nagtelike ure se werk, die frustrasie van eindelose telefoonoproepe en e-posse wat nie beantwoord nie, mense wat onwillig is om saam te werk, onbetroubare en twyfelagtige getuies, lang reise wat binne minute gereël moet word.

Die spel is puik en intens. Die rolprent kan beslis aanbeveel word. ‘Truth’ is egter nie ligte gesinsvermaak nie en beslis meer op die ernstige kyker gerig – ‘n rolprent met heelwat meer vrae as antwoorde.

Share this / Deel hierdie: