Inleiding

Waaraan dink ‘n mens as jy aan Rome dink?

   ‘Jy moet na die Via Condotti toe gaan,’ het een vriendin vir my gesê, ‘daar is al die modewinkels opgelyn en jy sal kry wat jy ookal soek!’

   ‘Jy moet na St Peter’s en die Sistynse kapel toe gaan,’ het ‘n ander gesê, ‘dit is ‘n ongeëwenaarde spirituele belewenis!’

   ‘Jy moet ten minste by die Colosseum en die Forum Romanum uitkom,’ het nog iemand gesê, ‘daar sal jy die grootsheid van die Romeinse Ryk ervaar!’    

  

Waaraan dink ‘n mens dus as jy aan Rome dink? Modes, kuns, politiek, kultuur, geskiedenis, godsdiens? Stap jy deur die besige strate met hul mooi winkels  waar mense mekaar wil-wil vertrap en motors haastig en ongeduldig vir mekaar toeter, is dit ‘n stad soos enige ander wêreldstad. Maar skielik doem ou ruïnes voor jou op, en jy staan verwonderd stil: watter geskiedenis lê in hierdie verweerde klein bruin baksteentjies opgesluit? Of kom jy in ‘n katedraal waar ‘n koor toevallig besig is om te oefen, belewe jy onwillekeurig iets van ‘n religie met ‘n tradisie van bykans twee millennia. Rome, die ewige stad …

 

Twee legendes

 

Die oorsprong van die stad Rome is in mite en legende gehul. Die storie van Romulus en Remus is redelik bekend. Koning Numitor van Alba Longa is deur sy wrede broer, Amulios, onttroon. Intussen word sy dogter, Rhea Silva deur Mars verkrag en bring ‘n half-goddelike tweeling, Romulus en Remus in die wêreld. Omdat die nuwe koning wil keer dat hulle die troon opeis, gee hy opdrag dat hulle verdrink moet word. Die persoon wat die opdrag moet uitvoer, besluit om hulle liewers op ‘n onherbergsame plek te los sodat hulle vanself van ontbering omkom. Daar ontferm ‘n wolvin haar oor die tweetjies en soog hulle. Wanneer hulle groot genoeg is, neem hulle hul oupa se troon terug en stig hul eie stad. Romulus en Remus kry egter stry. Volgens sommige legendes is dit oor wie koning moet wees, volgens ander oor wie se naam die stad moet kry. Hoe dit ookal sy, Remus word deur Romulus doodgemaak, en gevolglik heet die stad na hom.

 

‘n Minder bekende legende vertel dat ‘n groep Trojane saam met prins Aeneas vir ‘n taamlike lang tyd op see deur ruwe stormwaters gevaar het, en toe op die oewers van die Tiber rivier te lande gekom het. Spoedig wou die manne alweer vaar, maar die vroue wou nie gaan nie. Een van hulle, ‘n sekere Roma stel toe voor dat die vroue die skepe aan die brand steek – wat hulle inderdaad gedoen het! Die manne was natuurlik eers woedend, maar het gelukkig gou besef dat hulle op ‘n ideale plek is waar hulle kan bly. Hulle het die plek na Roma vernoem.

 

Res Publica

 

Na alle waarskynlikheid het Rome, net soos die meeste antieke stede, uit ‘n aantal klein nedersettings rondom die Tiber ontwikkel. Tussen die 10e en 8e eeu vC is ‘n klein dorpie op die kruin van die Palatynse heuwel gestig deur die Latynse stam in die gebied. Die Etruskiërs van Etruria in die Noorde sou egter nog vir die volgende twee eeue polities die sterkste wees. Teen die einde van die 6e eeu vC smelt die Latynse en Sabynse stamme saam, en bring ‘n regeringsvorm tot stand wat die mag van die koning toenemend aan bande lê. In 509 vC word daar finaal weggedoen met die koning en word die Romeinse Republiek gevorm.

 

Kenmerkend van die Republiek was magsverdeling, die sogenaamde trias politica. Volgens hierdie beginsel was daar drie regeringsliggame, naamlik die senatus, comitia en die magistratus. Hierdie drie rade het verskillende funksies en verantwoordelikhede gehad. Raadslede is aanvanklik verkies uit diegene wat op aristokratiese wortels aanspraak gemaak het, maar die deure moes uiteraard ook toenemend vir gewone mense oopgemaak word. Dit het egter sosiale spanninge meegebring wat op die lange duur sou bydra tot die beëindiging van die Republiek en die oorgang tot die Ryk in 27 vC.

 

Nogtans was hierdie paar honderd jaar besonder voorspoedig. Rome se grondgebied is aansienlik uitgebrei. Ander stamme in Italië is eers onderwerp en daarna is na die buiteland gekyk. Tussen 264-146 vC woed die sogenaamde Poeniese oorloë tussen Rome en Kartago en Rome behaal uiteindelik die oorhand oor die gebied wat vandag Tunisië is. Noord-Afrika, Iberië (Spanje), Griekeland, eers die Suide van Frankryk en later groter gebiede, Anatolië en Sirië val uiteindelik alles onder Romeinse heerskappy.

 

Interne spanninge begin egter sy tol eis. Oorlog beteken buit, handel dryf met nuwe provinsies en belasting eis van onderdane. Maar oorlog werk ook armoede en werkloosheid in die hand. Die Senaat self is onderling verdeeld oor watter klasse tot die regering toegelaat mag word en wie nie. Opponente in die Senaat hits werklose stedelike bendes aan om tot geweld oor te gaan en verkiesingsprosesse te intimideer. Tussen 91-88 vC breek die Maatskaplike Oorlog uit omdat sekere stede Romeinse burgerskap geweier word.       

 

In die middel van die 1e eeu vC word ‘n geheime verbond tussen ‘n eerste driemanskap – triumvirate – gesluit met die doel om beheer oor die Republiek uit te oefen. Hierdie drie manne is Gaius Iulius Caesar, Gnaeus Pompeius Magnus en Marcus Licinius Crassus. Dis egter nie ‘n stabiele eenheid nie. Eintlik is Pompeius en Crassus mededingers. Na Caesar se oorwinnings in Gallië, ontstaan daar ‘n breuk tussen hom en die Senaat, en inderdaad toe die Romeinse Burgeroorlog uitbreek (49-44 vC) veg Caesar en Pompeius teen mekaar: Caesar word ondersteun deur sy legioene en lojale politieke bondgenote, en Pompeius veg aan die kant van die Optimates, die konserwatiewe en tradisionalistiese flank van die Senaat. Caesar verslaan vir Pompeius op 17 Maart by die Slag van Munda en verwerf die titel: Dictator Perpetuus. En hiermee word weggedoen met die politiese tradisies van die Republiek en word die basis van die groot Romeinse Ryk gelê.

 

Op 15 Maart 44 vC – idus Martias – Caesar word vermoor, en ‘n tweede triumvirate kom tot stand: Gaius Octavius Thurinus, Marcus Antonius en Marcus Aemilius Lepidus. Maar hierdie triumvirate is nog meer onstabiel as die eerste. Lepidus hoop om deur sy vriendskap met Antonius opgang in sy politieke loopbaan te maak, maar die eerste Caesar het reeds sy opvolger aangedui: Octavius. Gou word dit ‘n stryd om mag. Antonius en Kleopatra van Egipte span saam teen Octavius maar die twee verliefdes word beslissend verslaan tydens die Slag van Actium (31 vC). Antonius en Kleopatra pleeg albei selfmoord. En Lepidus word na Cicertii verban omdat hy van magsmisbruik en rebellie verdink word. Nou is Octavius die onbestrede alleenheerser van Rome.      

 

In 27 vC word Octavius hernoem en staan bekend as Gaius Iulius Caesar Augustus. Hy word die eerste keiser van die Romeinse Ryk en regeer alleen vanaf 27 vC tot 14 nC. Maar in die regeringstyd van keiser Augustus, gebeur daar iets in die onrustige klein provinsie Judea wat Rome radikaal sou raak … [hieroor meer in ons volgende uitgawe]

Share this / Deel hierdie: