Godsdiens

 

Die planete wat rondom ons son wentel, dra die name van Romeinse gode, onder andere: Mars, Venus, Jupiter, Saturnus, Uranus, Mercurius, Neptunus, Pluto. Maar die Romeinse godsdiens was nie altyd so nie.

 

Die eerste Romeine was hardwerkende boere wat na aan die aarde geleef het. Hulle het geglo dat elke stroompie, bossie, berg of wind ‘n numina gehad het. So het elke gesin hul eie lares en penates (beskermgode/godinne) gehad. Dikwels is beeldjies van hierdie geeste na die etenstafel toe gebring sodat hulle in die familie se maaltyd kon deel – natuurlik ook om hulle te paai en hul guns te wen, want hierdie klein families was diep afhanklik van ‘n goeie verhouding met die natuurgeeste.         

 

Eers in die loop van die Romeinse Republiek sou die Romeinse godsdiens die astrale aard van die Griekse teologie inkorporeer: Zeus, die hoofgod het Jupiter geword. Hera, sy vrou is Juno genoem, beskermer van die vroue en die huwelik. Die maand Junie is na haar vernoem en was besonder gewild vir die voltrekking van huwelike. Ares, die Griekse god vir oorlog, het Mars geword. En Poseidon, die een met die donkerblou hare, die seegod, is Neptunus genoem. Hy was nie net die god van die see nie, maar ook van riviere. Sy priesters was ‘brugbouers’ – pontifex in Latyn. Miskien het pontifex ‘n letterlike betekenis gehad, soos om brûe oor die Tiber te bou, maar die betekenis kon ook abstrak wees: brugbouers tussen die gode en die mense. Die hoëpriester is genoem pontifex maximus. Julius Caesar en die latere keisers van die Romeinse Ryk het hierdie titel oorgeneem, en vandag nog dra die pous in die Rooms Katolieke Kerk die titel pontifex maximus. Hermes, die Griekse ‘boodskapper van die gode’ het Mercurius geword: die god van handelaars en van diewe … nouja! Wat sal ons sê?

Die Romeine was altyd ‘n diep godsdienstige volk wat baie gedoen het om hul gode te vereer. Marcus Vipsanius Agrippa was een van keiser Augustus se vertrouelinge en ‘n belangrike staatsman. In 31 vC is hy die aanvoerder van die leër wat Antonius en Kleopatra beslissend by Actium verslaan, en as huldeblyk vir die gode, laat hy die eerste Panteon bou (27-25 vC). [Pan-theon is ‘n woord wat van Grieks oorgeneem is – letterlik beteken dit elke god.] Die oorspronklike tempel word in 80 nC afgebrand, maar sowat 45 jaar later (125 nC) laat Hadrianus dit herbou. Benewens sy besondere liefde vir kuns en kultuur, het hierdie keiser ook ‘n diep respek vir godsdiens gehad, en nadat hy uitgebreide reise na ander dele van die wêreld onderneem het, het ander gode en godinne ook hul nis in die Panteon gevind.

Hierdie tradisie is volgehou tot in die 7e eeu nC. In 609 gee die Bizantynse keiser Phocas die gebou aan Pous Bonifacius IV wat dit in ‘n Christelike Kerk omskep en dit wy aan Santa Maria ad Martyres, oftewel Santa Maria dei MartiriSt Maria vir die Martelare.

Stap jy vandag in die Panteon in, is dit nog steeds ‘n asemrowende argitektoniese struktuur. Die kuns. Die beelde. Die hemelhoë koepel. Die son wat deur die opening daarbo straal. Mense fluister saggies. Want jy sien ‘n bordjie: Please be silent. This is now a religious site. Maar … wat presies bedoel hulle met now? Was die Panteon nie maar altyd ‘n godsdienstige plek nie?

Die Christendom


Popul
êre rolprente en boeke stel dikwels die Romeinse owerhede as besonder wreed teenoor die Christene voor, maar dit is nie heeltemal waar nie. Die vroeë Christendom het binne die grense van die Romeinse Ryk ontstaan en ontwikkel. Jesus, sy dissipels, en die Kerkvaders was almal Romeinse onderdane of selfs burgers van Rome, en hul toekoms was baie nou verbonde aan die verhouding met hierdie wêreldmag. Alhoewel die Christendom deur die owerhede met agterdog bejeën is – waarskynlik omdat hulle dit nie kon verstaan nie – is dit verdra vir solank dit as ‘n Joodse sekte beskou is. Die Romeine, onder die vaandel van Pax Romana was oor die algemeen verdraagsaam teenoor die godsdienste van hul onderdane – mits hulle natuurlik lojaal teenoor die regering was en belasting betaal het! Daar was sporadiese insidente van grootskaalse vervolging onder Nero (64 – 68 nC) en Domitianus (81- 96 nC), maar solank die Christene nie amok gemaak het nie, en alhoewel hul godsdiens eintlik ‘onwettig’ gereken is, is hulle met rus gelaat.


Die wrede vervolgings het eers in die derde eeu begin plaasvind. Diocletianus (284-305) is veral hiervoor bekend. Op hierdie stadium het die mag van die Romeinse Ryk egter reeds begin wankel onder die invalle van die ‘barbare’ wat die grense van alle kante en binnegedring het, en alles het gedreig om uitmekaar te spat. Die staat het gereken ‘n herlewing van die tradisionele Romeinse godsdiens kan die weerstand van die Ryk versterk. Anders as die Christene, is die Jode nie vir hul geloof vervolg nie, omdat hulle aanspraak kon maak op ‘n ‘antieke’ godsdiens wat eeue reeds bestaan. Daarenteen, was die Christendom op teen hierdie tyd nie meer ‘n Joodse sekte nie, dit was ‘n nuwe onheilige beweging wat ‘n groot bedreiging vir die stabiliteit van die Ryk ingehou het. Behalwe dat Diocletianus sy bes gedoen het om die Christene aktief te probeer uitroei, was hy ook die een wat die sogenaamde ‘tetrarchie’ – regering van vier – ingestel het. Hy het die Ryk in vier verdeel en alhoewel hy die hoogste outoriteit gehad het, het hy saam met hom ko-regeerders (caesars) aangestel wat vir wet en orde verantwoordelik was in die gebiede wat aan hulle toegeken is.


Een so ‘n caesar was Constantius I Chlorus. In 306 vertrek hy en sy seun, Konstantyn na Brittanje om oproerige stamme by die muur van Hadrianus tot orde te roep, maar hy sneuwel onverwags by York. Die jonger Konstantyn word eenparig deur die manskappe as die nuwe caesar uitgeroep wat voortaan oor Gallië en Brittanje gaan regeer. Vir ses jaar gaan dit baie goed, en in 312 besluit Konstantyn om Italië binne te val en sy groot teenstander en mede-caesar  Maxentius uit die stoel te lig. Voordat hy die stryd aanknoop, kyk hy egter op in die hemel en sien ‘n kruis met die woorde: in hoc signo vinces – in hierdie teken sal jy oorwin! Daar en dan bekeer Konstantyn hom tot die Christendom en verslaan Maxentius beslissend by Pons Milvus in 312. In 313 vaardig hy die Edik van Milaan uit wat Diocletianus se vervolging van die Christene herroep en geloofsverdraagsaamheid daarstel.


Op hierdie stadium is die Christendom nog nie die godsdiens van die Ryk nie. Konstantyn regeer in die Weste, en saam met hom regeer Licinius in die Oostelike gedeelte. Later begin Licinius weer die Christene vervolg, waarskynlik omdat hierdie nuwe geloof polities met Konstantyn ge
ïdentifiseer word. Oorlog breek uit, Licinius word verslaan en in 324 is Konstantyn die heerser oor ‘n her-enigde Romeinse wêreld.


Die nuwe keiser lewer besonder baie insette in die Christelike geloof. Sommer met die intrapslag word hy by die Konsilie van Nicea (325) betrek om oor Arius se ‘dwaalleer’ te beslis. Die Christendom groei egter veel vinniger in die Ooste as in die Weste, en op die kus van die Bosporus bou Konstantyn ‘n nuwe Christelike stad: Konstantinopel is in 330 voltooi. Vir die volgende 1100 jaar sou dit ‘n Christelike hoofstad wees.


Maar Konstantyn het ook nie heeltemal van Rome vergeet nie. Volgens oorlewering het Jesus se dissipel Petrus ‘n wrede marteldood onder keiser Nero gesterf (64 nC) en is in Rome begrawe. Bo-oor hierdie graf laat die eerste Christen-keiser ‘n basiliek oprig met die altaar direk bokant Petrus se graf. Soos dit egter gaan, het hierdie basiliek verweer. Eers skeur die kerk tussen Oos en Wes (1054) en daarna verskuif die setel van die Pous na Avignon (1305-78). Stelselmatig het dinge egter ook weer begin terugswaai na Rome. Tussen 1447 en 1455 gee Pous Nikolas V opdrag dat hierdie ou gebou gerestoureer, selfs nuut ontwerp moet word. Hierdie taak dra hy op aan Leone Battista Alberti en sy leerling Bernardo Rossellino, albei humaniste en kinders van die Renaissance. Natuurlik het die pous nooit die finale produk gesien nie. Politieke spanninge het die projek tot ‘n groot mate frustreer, maar die planne nie in die wiele gery nie. Inteendeel, dit was die begin van ‘n ewige monument vir die Christendom, maar veral vir die Rooms Katolieke Kerk. Want vandag is die Vatikaanstad in Rome ondenkbaar sonder St Petrus se basiliek …


[Naskrif: Let wel, ‘n basiliek is iets anders as ‘n katedraal. Die woord basilica het oorspronklik betrekking gehad op ‘n openbare gebou wat binne die forum van ‘n Romeinse stad was. Selfs handelaars kon hier ontmoet om transaksies te beklink. Basilicae is wel soms vir godsdienstige geleenthede beskikbaar gestel. Eers nadat die Romeinse Ryk amptelik die Christelike godsdiens aangeneem het, het basilicae ‘n religieuse konnotasie gekry en is uitsluitlik vir godsdienstige seremonies gereserveer. Katedraal het ook betrekking op ‘n religieuse gebou vir aanbidding, maar is gekoppel aan ‘n denominasie met ‘n episkopaalse hiërargie, en is ook die setel van ‘n biskop. St Petrus in Rome is ‘n basilica, nie ‘n katedraal nie.]


Bronnelys:

  • Dowley, T (red) 1977. Die Geskiedenis van die Christendom [vertaal deur Ludwig Visser]. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
  • Harris, N 2000. History of Ancient Rome. London: Chancellor Press.
  • Vickers, M 1977. The Making of the Past. The Roman World. Oxford: Elsevier Phaedon.
Share this / Deel hierdie: