Inleiding

Hatshepsut het Egipte regeer tussen ongeveer 1479-1458 vC. As dogter van farao Tutmoses I en koningin Ahmose, was sy die vyfde farao van die 18e Egiptiese dinastie. Omdat sy ʼn vroulike alleen-heerser was in ʼn land wat steeds die verbeelding aangryp, en omdat sy boonop besonder lank en suksesvol regeer het, is sy ʼn fassinerende historiese figuur. Wat is egter die waarheid, en wat is verdigsel?

 

Geboorte

Een nag word koningin Ahmose wakker en sien haar man by haar. Aangename reuke vul die kamer. Daar word ʼn ankh (simbool van lewe) teen haar neus gehou. En die koningin besef, dis nie Tutmoses I nie, maar Amun, die god wat in die gedaante van haar man verskyn. Hy spreek ʼn orakel uit dat dit die wil van die gode is dat Hatshepsut die volgende farao sal wees. Die skeppergod, die ramgod Khnumm, kry vervolgens opdrag om klein Hatshepsut tesame met haar ka (lewensgewende energie) op sy potterswiel te skape. Heket, die godin (uitgebeeld met die kop van ʼn padda) van lewe en fertiliteit kom en lei Ahmose na die lêplek van ʼn leeuin waar sy geboorte aan Hatshepsut skenk.

 

Op pad na die troon

Tutmoses I het twee vroue gehad. By sy eerste en voorste vrou, Ahmose het hy twee kinders. Hatshepsut is die oudste. Haar jonger sussie, Akhbetneferu, is vroeg dood. Die ander vrou, Mutnofret, gee egter vir die farao ʼn hele klomp kinders, onder andere Tutmoses II. Tutmoses I sterf in  ongeveer 1493 vC en Hatshepsut trou met haar halfbroer en troonopvolger, Tutmoses II. Saam het hulle net een dogter, Neferure. Tutmoses II lewe egter nie lank nie, ʼn hartkwaal eis uiteindelik sy lewe. Die aangewese troonopvolger, Tutmoses III, ʼn kind by ʼn tweede vrou is egter hopeloos te jonk om die pligte en verantwoordelikhede van ʼn farao oor te neem, en hierdie taak val op sy stiefmoeder/tante se bekwame skouers. So stap Hatshepsut in die rol van farao in en haar dogter, Neferure neem die plek in wat sy voorheen gehad het.

 

Waarheid/verdigsels

Hatshepsut dra die titel ‘farao’. Nie koningin nie, nie regentes nie, sy is alleenheerser van Egipte en derhalwe ‘farao’. Baie stories wentel rondom hierdie gebeure (na my vorige bydrae oor Mites is ek huiwerig om die woord ongekwalifiseerd te gebruik!). Een daarvan is dat Hatshepsut een van die eerste feministe was. Dit is nie heeltemal waar nie. Ses dinastieë voor haar het Sobeknefru dieselfde posisie beklee, en na haar was daar ook Twoseret van die negentiende dinastie. Verder het vroue in antieke Egipte besondere hoë status beklee: hulle het regte gehad om grond te besit, te erf en te bemaak. Ofskoon dit nie gebruiklik was dat ʼn vrou in eie naam regeer nie, was dit ook nie heeltemal ondenkbaar nie.

          Verder word daar bespiegel dat Hatshepsut dalk heimlik ʼn man wou wees. Sy word dikwels uitgebeeld in die tipiese offisiële drag van ʼn manlike farao: nemes-hooftooisel met die uraeus (kobra) voorop, die vals baard asook die tipiese shedyt-romp. Soms word sy heeltemal platborstig en met haar bene wydgeplant soos ʼn man voorgestel. Kenners wys ons egter daarop dat Egiptiese offisiële kuns baie konserwatief en konvensioneel was. Die geslag van die farao is nooit in kuns beklemtoon nie. Die meeste voorstellings van farao’s moet dus simbolies geïnterpreteer word, en boonop is dit te betwyfel of manlike farao’s self ooit werklik op hierdie manier geklee was. Daar is ander uitbeeldings van Hatshepsut wat op haar persoonlike bevel gemaak is en waar sy heeltemal vroulik voorgestel word: hier is haar borste sigbaar en dra sy klere wat ander vroue van aderlike herkoms ook sou aantrek. In haar tekste verwys sy ook soms na haarself as ‘die mooiste van vroue’. En wanneer sy geskryf het, het sy nie geskroom om die vroulike agtervoegsels aan te heg by die woorde wat op haar betrekking gehad het nie. Wat wel waar is, is dat die benoeming farao op ʼn Egiptiese alleenheer dui, en hierdie term het nie ʼn vroulike vorm nie. Miskien is dit so eenvoudig soos dit.              

          Tot vandag toe weet niemand wat Hatshepsut se motiewe was om as ‘farao’ te regeer nie. Mag het seersekerlik ʼn rol gespeel, maar dit lyk nie asof sy buitengewoon magsbehep was nie. Om die waarheid te sê, sy het ʼn besondere gevoel vir die rekhyt – die gewone mense – gehad en dit was vir haar belangrik om te weet wat hulle dink.   

 

Haar regering

Daar is geen aanduidings dat Hatshepsut se regering omstrede was nie. Tutmoses III wat na regte sy pa moes opvolg, het sy later van tyd as bevelvoerder van haar groot en magtige leër aangestel, en nog later het hy as ko-regent opgetree. As hy ontevrede met sy stiefma/tante se gesag was, het hy self genoeg mag gehad om haar regering omver te werp en die troon oor te neem. Inteendeel. Dit lyk asof die twee goed saamgewerk het en daar wedersydse vertroue en respek bestaan het.

          Buiten die feit dat Hatshepsut besonder lank (ongeveer 22 jaar) regeer het, was dit, ten spyte van ʼn groot en geoefende militêre leërmag, ʼn betreklik vreedsame tyd in Egipte se geskiedenis. Hatshepsut het haar beywer om vrede te handhaaf, die land op te bou en voorspoed te bewerk. Sy het groot bouprojekte van stapel gestuur: tempels wat deur vorige oorloë beskadig is, het sy herstel en nuwes laat bou. Sy het handelsbetrekkinge opnuut en suksesvol beklink met vorige bondgenote wat as gevolg van oorlog en vyandskap vervreem het, maar sy het nie geskroom om haar visiere wyer te rig nie. Sy het handel gedryf met die misterieuse gebied Punt – tot vandag toe weet niemand presies waar dit is nie, vermoedelik dieper in Afrika – en allerlei eksotiese ware bekom. Oor die algemeen was dit vir Egipte ʼn ‘goue tyd’ terwyl farao Hatshepsut die leisels gehou het.

 

Haar dood

Sy is aan natuurlike oorsake oorlede. (Hieroor ʼn bietjie meer, net-nou.)

          Na haar dood is haar naam deur Tutmoses sistematies verwyder – haar standbeelde is vernietig, haar cartouche’s uitgewis. Dit het weereens aanleiding gegee tot alle bespiegelinge: soos – sy was ʼn wrede stiefma; of – dis ʼn tipiese chauvinistiese ding om te doen, dis omdat sy ʼn vrou was. Maar die punt is, Tutmoses III het dit gedoen aan die einde van sy regeringstyd, amper twintig jaar na haar dood. Dit maak nie heeltemal sin nie.

          Geleerdes wys daarop dat dit ʼn politieke eerder as ʼn emosionele reaksie was. Amenhotep II, ʼn seun van Tutmoses III by een van die mindere vroue het aanspraak op die troon gemaak, maar hy was by verre nie die enigste een nie! Om sy posisie te versterk, moes die Hatshepsut-lyn sover moontlik uitgewis word. Heelwaarskynlik kom die inisiatief ook nie van Tutmoses III nie, maar is dit Amenhotep II wat daaragter sit.

          Hatshepsut is begrawe in die Vallei van die Konings soos dit ʼn waardige farao betaam, maar in die proses van naamuitwissing, het haar mummie weggeraak.

 

Meer as 3000 jaar later …

In 1903 ontdek die befaamde argeoloog Howard Carter ʼn graftombe – bekend as KV20 – met ʼn sarkofaag waarop Hatshepsut se naam gegraveer is – maar geen mummie nie. ʼn Entjie verder vind hy ʼn kleiner onbeduidende graf – KV60. Daar lê spul gemummifiseerde ganse, en twee vroulike mummies. Een is vet, een is maer. Die maerder mummie is in ʼn kis, die vette lê op die grond. Carter verwyder die ganse, en drie jaar later vervoer ʼn ander argeoloog die mummie in die kis – die skraler ene – na die Kaïro museum. Die mummie op die vloer bly net so lê. Omdat KV60 ʼn onindrukwekkende en oënskynlik onbeduidende graftombe was, het belangstelling getaan, en die ingang is onder stof en sand begrawe.

          In Junie 1989 daag Donald Ryan by die Vallei van die Konings op. Hy is lektor by die Pacific Lutheran University te Tacoma, Washington, en hy kom spesifiek om kleiner, en minder versierde graftombes in die Vallei te verken. Elizabeth Thomas, ʼn vooraanstaande Egiptoloog van die tyd het vermoed dat Hatshepsut se mummie dalk hier iewers begrawe moet wees, en miskien het Ryan danksy haar die snuf in die neus gekry om in sy navorsingspermit spesifiek vir KV60 aansoek te doen. Op sy heel eerste dag kom hy te laat aan om te begin werk. Hy besluit nietemin om sy werksgereedskap op te stel en solank te begin skoonvee in die omgewing waar die verborge ingang van KV60 vermoedelik moet wees. Skaars ʼn halfuur later vind hy ʼn kraak in die rotsgang en ʼn luik wat na ʼn stel trappe dui. ʼn Week later betree Ryan en die plaaslike oudhede-inspekteur die ‘verlore’ graf terwyl Beethoven se Pathétique Sonate vanaf ʼn bandopnemer in die agtergrond gespeel word. Ryan ontdek die heel eerste mummie in sy lewe, en skrik hom amper dood.

          Alles is egter onseker. Ryan vermoed die mummie op die grond kan dalk belangrik en van koninklike afkoms wees, maar hy het geen bewyse nie. Al wat hy kan doen, is om noukeurig alles te dokumenteer wat hy waarneem. En ook, dit lyk nie heeltemal reg om wie dit ookal is, kaal en koud op die vloer te laat lê nie! Hy en ʼn kollega maak die plek so ʼn bietjie aan die kant, en koop sommer by ʼn plaaslike skrynwerker ʼn eenvoudige kis. So word die onbekende mummie in haar nuwe bed te ruste gelê.

 

ʼn Paar dekades later …

Zahi Hawass is waarskynlik een van die bekendste Egiptoloë van die 21e eeu. ʼn Paar jaar gelede het hy opdrag gegee dat al die ongeïdentifiseerde vroulike mummies van die 18e dinastie weer ondersoek word, veral die mummies wat moontlik van koninklike afkoms kan wees – en dit sluit die mummies van KV60 in. Die maerder mummie is uit die argiewe van die museum gehaal, en die vetter ene vanuit haar rusplek in KV60. Hoe oud was hulle? Waaraan is hulle oorlede? Al die mummies gaan deur ʼn ‘CT-scan’  – maar geen beduidende gevolgtrekkings kan gemaak word nie.

          Maar Hawass weier om tou op te gooi. Hy weet van ʼn geheime wegsteekplek wat in 1881 te Deir el Bahri ontdek is. Onder andere is daar ʼn houtkis waarop Hatshepsut se naam behoue gebly het. Dalk is haar lewer hierin?

          Toe hierdie kis deur die ‘CT-scan’ gaan, lewer dit onverwagte dog opwindende getuienis: binne-in is ʼn tand! ʼn Tandarts eien die tand as een van die maaltande in die boonste kakebeen met ʼn gebroke wortel.

          Intussen is die kis met die maerder mummie geïdentifiseer as dié van Hatshepsut se vroedvrou. Die vetter mummie wat langs haar gelê het, het ʼn holte in die boonste kakebeen waar ʼn tand moet wees – daar is ʼn tandwortel maar geen tand nie. Prof Ashraf Salim, radioloog by die Kaïro Universiteit het gemeet en gepas, en kom tot die gevolgtrekking: die tand in die houtkis pas perfek in die tandholte van die mummie. ʼn Mens kan selfs nog verder gaan: die mummie, die eienaar van die tand is waarskynlik oorlede weens ʼn infeksie wat deur ʼn abses aan die tand veroorsaak is, komplikasies wat weens gevorderde beenkanker ingetree het, en sy het heel moontlik ook aan diabetes gely. En dit laat my onwillekeurig dink aan wat ʼn doktersvriend van Jurie op ʼn dag vir hom gesê het: ‘Die koninkryk van God breek nog elke dag aan, en dit breek die suiwerste deur in die mediese wetenskap waar hulle elke dag nuwe dinge ontdek om mense se pyn te verlig, en hulle gesond te maak.’   

          Skeptici is daar steeds. Al wat klinkklaar bewys kan word, is dat die tand in die houtkissie aan die mummie behoort wat op die vloer van KV60 gelê het. Boonop is gemummifiseerde organe gewoonlik in ʼn steen- of albasterfles gestoor, en nie in ʼn houtkis nie.

          Maar waarom nie? vra Hawass. Sy vermoede is dat die hoëpriesters van Amun die mummie na die graftombe van haar vroedvrou verskuif het om dit van plunderaars te beskerm; gedurende die tydperk van die Nuwe Koninkryk was dit gebruiklik om lede van die adel ter wille van sekuriteitsredes in geheime tombes weg te steek.

          DNA toetse op die mummie en Hatshepsut se vroulike voorsate gaan steeds voort. En tot die teendeel bewys word, glo ek saam met dr Hawass dat  farao Hatshepsut uiteindelik oorlede is met ʼn baie seer tand  …  

 

Bronnelys

  • Brown, C 2009. The King Herself in National Geographic, April, 88-111.
  • Chalaby, A 2008. All of Egypt. Florence: Casa Editrice Bonechi.
  • Kessler, D 2004. The Political History of the Eighteenth to Twentieth Dynasties in Schultz, R & Seidel M (reds), Egypt, the World of the Pharaohs, Königswinter: Könemann, 142-151.
  • Lurker, M 1994. An illustrated Dictionary of the Gods and Symbols of Ancient Egypt. London: Thames & Hudson.
  • http://.buzzle.com/articles/143088.html: Tooth Solves Hatshesput Mummy Mystery.
  • http://en.wikipedia.org/wiki/Hatshepsut: Hatshepsut.
Share this / Deel hierdie: