Inleiding

Herodias se dansende dogter word nooit in die Evangelies op die naam genoem nie. Tog word die naam ‘Salome’ aan haar toegedig. Waarom?

          In die Joodse geskiedenis was daar ‘n koningin Salome Alexandra wat vir baie vroue ‘n rolmodel en inspirasie was, soveel so dat hulle hul dogters na haar vernoem het. Heel moontlik het Herodias ook ‘n dogter gehad met die naam Salome. Of sy die een was wat gedans het, sal ons nooit weet nie. Van koningin Salome weet ons meer, hoofsaaklik danksy die geskiedskrywer, Josephus.   

 

Aanloop     

Alles begin op die Sabbat van 25 Kislev (Desember) 167 vC. Antiogus IV Epifanes (Epimanes) ruk met sy troepe op na Jerusalem en bring ‘n offer aan Zeus in die tempel, die heiligdom van die Jode. Terselfdertyd plaas hy ‘n verbod op Joodse gebruike – die besnydenis, die onderhouding van die Sabbat en die lees van die Tora. Voortaan is dit net Zeus, en alles wat Grieks is.

          Vir die ou Priester Mattatias raak dit op ‘n dag net te veel. ‘n Siriese beampte wat besig is om heidense offers af te dwing gaan hy te lyf, maak hom dood en breek die altaar af. Vir hierdie daad moet hy en sy vyf seuns na die berge toe vlug, maar hierdie voorval plant terselfdertyd die saad vir die ontkieming van die nuwe Hasmonese koningshuis.

 

Eerste passies

Ons Salome se verhaal begin eintlik ‘n bietjie later, by Mattatias se kleinseun, Johannes Hirkanus. Teen hierdie tyd is die Romeine al aan bewind, en alhoewel hulle Judea met ‘n valkoog dophou, is hulle nie te negatief teenoor die Hasmoneërs nie. Johannes Hirkanus het ‘n hele klompie kinders, maar sy liefde stort hy uit op slegs twee van hulle: Aristobolus en Antigonus. Terwyl sy vrou egter ‘n volgende kind verwag, droom hy ‘n onrusbarende  droom: nie Aristobolus of Antigonus nie, maar die ongebore Jannaeus gaan uiteindelik al sy besittings erf. Hierdie droom word spoedig in die kiem gesmoor. By geboorte word die kind weggestuur om in Galilea groot te word, terwyl die res van die familie in Jerusalem bly.

          Johannes Hirkanus sterf, en benoem sy vrou as opvolger. Jong Aristobulos steur hom egter nie aan sy pa se wense nie. Hy kondig homself aan as koning en hoëpriester van Judea. Toe sy moeder hom teenstaan, laat hy haar in die tronk gooi waar sy van honger omkom. Sy tweede broer, Antigonus word met ‘n goedbeplande misverstand om die lewe gebring, en Jannaeus, die nagmerrie-kind van sy pa word ook in die tronk gegooi.

          Aristobulos sterf, kinderloos. Volgens Joodse wet moet sy weduwee met sy volgende broer trou. Maar dié is die einste Jannaeus wat in die tronk sit. Salome, weduwee van Aristobulos gee opdrag dat Jannaeus vrygelaat word, en hulle tree in die huwelik. Sy is ‘n vrou van 29, hy ‘n jongeling van tussen 14 en 16 jaar oud.

 

Op tone trap

Jannaeus is die nagmerrie waarvan sy pa gedroom het. Sy onoordeelkundige buitelandse beleid laat hom blindelings oorlog voer met rampspoedige gevolge. Binnelands gaan dit nie veel beter nie. Sy eie mense haat hom. As hoëpriester moet hy by al die religieuse feeste optree. Sukkoth – die loofhuttefees – is een van die geleenthede wanneer talle mense na Jerusalem stroom. Kenmerkend van hierdie fees is die baie palmtakke en ‘n soort sitrusvrug – etrog in Hebreeus. Per geleentheid het die volk hul misnoë te kenne gegee deur Jannaeus met etrogim te bestook. Hy neem brutaal wraak. Binne die volgende ses jaar laat hy 50,000 van sy eie mense om die lewe bring. Terwyl hy in die openbaar met sy konkubines feesvier, sien hy toe dat 800 Jode gekruisig word nadat hy hul vroue en kinders voor hul oë laat afslag het…

          Uiteindelik in die jare 79-76 vC begin Janneaus se lang jare van drankmisbruik en dalk ‘n aanval van malaria sy tol eis. Salome vergesel hom in ‘n veldtog teen Ragaba waar hy dan ook uiteindelik sterf. Sy koninkryk bemaak hy aan sy vrou. Sy voltooi haar man se projek suksesvol en keer terug as heerser van Judea, waar sy sonder enige teenstand deur die volk aanvaar word. Vreemd genoeg, want sy het alreeds twee opgeskote seuns wat as heersers sou kon oorneem!

 

Danstyd

Waar Janneaus alles verkeerd gedoen het, doen Salome alles reg. Sy slaan eerstens die buitelandse vure dood. Sy maak vrede met haar oorlede man se vyande. Sy help die Nabatese koning Aretas om Damaskus te herwin. Maar haar vrede-strategie is berekend. Sy sorg dat haar eie leër so goed is, dat geen vyand dit waag om teen haar op te ruk nie. Niemand wil met koningin Salome sukkel nie!

          Vervolgens herstel sy die Fariseërs in die amp. Sedert haar skoonpa se dae het die Sadduseërs die septer op religieuse gebied geswaai, ook by die tempel. Ten spyte van haar skoonfamilie, het Salome deurentyd ‘n toegewyde Fariseër gebly. Met behulp van Rabbi Simon ben Shetah, een van die leiers onder die Fariseërs (volgens sommige bronne haar broer), sorg sy dat die Fariseërs weer die leidende party word. Sy hersien die ketubah – die wetgewing wat die huweliksregte van ‘n vrou raak. Van nou af moet die bruidegom sy kant ook bring en sekere verpligtinge teenoor sy bruid nakom. Verder dring sy daarop aan dat alle kinders moet skoolgaan, vermoedelik seuns en meisies. Tydens Salome se regering, tot in die tyd van die Nuwe Testament en daarna, word welvarende en invloedryke vroue met die Fariseërs geassosieer. Die latere rabbi’s wat die Talmud geskryf het, is die spirituele erfgename van die Fariseërs, soos wat dit onder Salome se beskermheerskappy vorm aangeneem het.

 

Die klok slaan

Salome het twee seuns, Hirkanus II en Aristobulos II. Hirkanus die ouere is die saggeaarde een en Aristobulos die jongere, die vuurvreter. Wie gaan Salome opvolg?

          In 67vC is Salome 73 jaar oud. Sy het vir nege jaar lank regeer, maar is nou ernstig siek. As vrou kon sy nooit hoëpriester wees nie, en het die meer verdraagsame Hirkanus in die amp aangestel. Waarskynlik sou sy graag wou hê dat hy later ook koning moes word. Sy jonger, energieke broer, ‘n ywerige Sadduseër soos sy pa, sien egter ‘n gulde geleentheid om homself te bewys en voer ‘n staatsgreep uit om homself as koning en hoëpriester te kroon. Hirkanus sou miskien bereid wees om hom te skik na die natuurlike verloop van sake, maar ongelukkig leen hy sy ore uit aan sy vriend Antipater, vader van die latere Herodes die Grote en op daardie stadium goewerneur van Idumea. Onder dié se invloed probeer hy sy vorige status herwin en Aristobulos baklei terug.   

          Op hierdie stadium gryp die Romeine in. Die twee strydende broers is nou baie lastig en veroorsaak net probleme. In 63vC slaan Pompejus op Jerusalem toe. Heethoof Aristobulos word verban en Hirkanus word in die amp van hoëpriester herstel. Judea word ‘n klein provinsie binne die groot Romeinse Ryk.

          So kom die Hasmonese dinastie tot ‘n einde.

 

Bronne:

Atkinson, K 2008. The Salome no-one knows in Biblical Archaeological Review, July/August vol 34 no 4, 60-65.

Pretorius, EAC 1985. Van Jerusalem tot Betlehem in Deist, F et al, Van Eden tot Rome. Pretoria: JL van Schaik (Edms) Bpk, 122-142.

Share this / Deel hierdie: